Nagevors en saamgestel
(tussen 1975 en 1995)
deur
Helena Liebenberg
Inleidende
opmerkings
’n Storie oor die herkoms van wie of wat, die geskiedenis van mense, lande en plekke, en bowenal die verhaal van ’n woord of uitdrukking hetsy in my eie geliefde taal of in ander tale – dít is die dinge wat my sedert my kinderjare
betower.
Die eerste vakkundige artikeltjie wat ek as jong dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van Suid-Afrika (Pretoria) geskryf het, het voorspelbaar gehandel oor die geskiedenis/herkoms van woorde en segswyses:
Matroostaal – die herkoms van seemanswoorde en -uitdrukkings in
Afrikaans. Talle artikels en kinderboeke oor idiomatiese uitdrukkings en algemene taalkunde-onderwerpe in Afrikaans het gevolg. Later was dit ook my voorreg om as mede-outeur betrokke te wees by die saamstel van die
Etimologiewoordeboek van Afrikaans en die Supplement daarvan (in 2003 en 2007 onderskeidelik) nadat ons formeel geleer is hoe om ’n etimologie te
skryf.
Die volgende stories van Afrikaanse woorde en uitdrukkings het ek oor ongeveer twintig jaar nagevors en saamgestel uit ’n verskeidenheid bronne, en soos gewoonlik as die een wat seker die meeste daardeur verryk is, uit die proses getree. Hoewel die lys maar ’n klein deeltjie van die geheelstorieskat van Afrikaans bevat en die alfabet nog voltooi moet word, het ek besluit om die beskikbare inligting op Taaloord te deel as om dit nog tien jaar iewers ongesien en ongelees op my rekenaar te berg.
Elke bespreking word deur die trefwoord ingelei. In die meeste gevalle word die woordgeskiedenis beskryf, en die betekenis van die verbandhoudende uitdrukkings, idiome en segswyses word verstrek. Soms verskyn slegs die uitdrukking(s) en die betekenis daarvan onder die trefwoord. Enkelwoorde met interessante stories is ook opgeneem in die
lys.
Indien daar aangehaal word uit die lys, sal ek dit waardeer as erkenning aan Taaloord
(http://www.taaloord.co.za) as bron verleen word.
Afr. = Afrikaans, Eng. = Engels, Fr. = Frans, Gr. =
Grieks,
Lat. = Latyn, Mnl. = Middelnederlands, Ndl. = Nederlands
Lees
nou verder...