![]() |
||||||||||
|
Transkripsies
uit die Geurmiddels
vir Boerekos KAAPS-HOLLANDS: Afrikaners
en die
OOR
KAAPSE Jan van Riebeeck se Daghregister |
Die gedokumenteerde verhaal van die prinsebroers Loring Passir en Dipa Nagara
deur Helena Liebenberg
1. Inleiding
Reeds voor die afloop van die 17e eeu het die Kaap ’n plek geword waarheen gevangenes gestuur is ná vonnisoplegging deur die VOC-howe in Oos-Indië. Die volgende plekname gee ’n aanduiding waar hierdie VOC-howe, -rade of -regerings gevestig was: Batavia, Nagapatnam, Colombo, Jaffanapatnam, Samarang, Indië, Gale en Cheribon.
Alle soorte mense is vanaf die Oos-Indiese gebiede asook Suid-Asië na die Kaap verban. Aanvanklik was die meeste van hulle gevangenes of persone van hoë aansien of statuur, maar later is ook misdadigers hierheen gestuur. Onder die bannelinge was daar geestelike leiers, lede van koninklike families (in talle gevalle vergesel van hul gevolg), hooggeplaaste amptenare, gemeenskapshoofde, vyande van die staat en oorlogsmisdadigers. Indien die bannelinge as gevaarlik beskou is, is hulle na Robbeneiland gestuur. Ander Oosterse bannelinge is toegelaat om in die Kaap en in die distrikte te woon, onder andere Stellenbosch en selfs so ver as Swellendam.
Aan die hand van brondokumente wat in die Kaapstadse Argiefbewaarplek gehuisves word, onder andere
is dit moontlik om ten opsigte van hierdie persone ’n redelike goeie oorsig te verkry oor sy of haar doen en late waarby die VOC en die gesagstruktuur alhier belang gehad het.
deur Helena Liebenberg (Toestemming vir die plasing van die verkorte weergawe van die Inleiding tot die Resolusies is deur die Nationaal Archief, Den Haag aan Taaloord verleen) 1. Inleidend
’n Portugees vind die seeweg van Europa na Indië
In Augustus 1486 verlaat die Portugese ontdekkingsreisiger, Bartolomeu Dias, met twee klein skepies en ’n vragskip die Taagrivier by Lissabon. Hy moes om die suidpunt van Afrika seil en sodoende ’n seeweg en gevolglike handelsroete na Indië verkry. By Angra Pequena (tans Lüderitzbucht, Namibië) plant hy ’n klipkruis. ’n Geweldige storm dwing sy skepe van koers af, en hy en sy bemanning bereik eers weer land toe hulle die inham wat vandag as Mosselbaai bekend staan, binnevaar. Toe het Dias besef dat hulle reeds om die punt van Afrika geseil het en dat die seeweg voor hom oop lê! Die inheemse Khoi wat met hul veetroppe in daardie omgewing gewoon het, het die land in gevlug toe hulle die skepe sien aankom. Op die eilandjie St. Croix naby Algoabaai plant Dias ’n volgende kruis en vaar waarskynlik tot by die Visrivier in die huidige Oos-Kaap, waar die klein vloot weens min voorraad aan boord moes omdraai. In die blye besef dat die seeweg na Indië gevind is, verander Dias die pleknaam Cabo Tormentoso ‘stormkaap’ met sy terugvaart in 1488 na Cabo da boa Esperanza ‘kaap van goeie hoop’.
Portugal gaan voort om sy Indiese ryk uit te bou en jaarlikse vlote vaar om die Kaap daarheen. In 1498 noem Vasco da Gama die baai waar Dias aangedoen het Aguada de Sâo Bras ‘waterbron van St. Blasius’. Tydens Joâo de Nova se reis na Indië (1501-1502) doen sy vloot ook daar aan, hy noem die plek Golfo dos Vaqueiros ‘baai van veewagters’ en rig ’n bidkapel, die eerste Christenbouwerk in Suid-Afrika, op. De Nova sit sy reis voort tot by Rio de la Goa ‘rivier van die meer’, die baai waaraan Lourenço Marques in 1544 sy naam sou gee. Een van die drie eskaders van hierdie vloot word aangevoer deur Antonio de Saldanha wat in 1503 weens ’n navigasiefout in die baai wat nou Tafelbaai heet, beland. In Maart 1510 het die Portugese onderkoning, Francisco d’ Almeida wat toe pas die Portugese gesag in die Indiese Oseaan gevestig het, saam met van sy vernaamste offisiere in ’n botsing met Khoi in Tafelbaai omgekom. Die kuste van Suid-Afrika was die vernaamste rede waarom die Portugese heersers nie in die besetting van dié land belang gestel het nie.
Stigting VOC, 6 Desember 2008
’N MANDJIE VOL WOORDVRUGTE UIT DIE KOMPANJIESTUIN deur Helena Liebenberg
’N WOORD VOORAF
My hartlike dank aan die Stigting VOC vir die groot voorreg om vanjaar se Anna Böeseken-gedenklesing te mag aanbied. Ek vertrou dat my woorde gestand sal doen aan my agting vir hierdie VOC-kenner en -navorser by uitnemendheid. My voordrag handel oor enkele grepe uit ’n omvattende studie. Ek bepaal my vanoggend by die reisverhaal van enkele sitrussoorte, hoe die vrugte die Kaap bereik het en wat hier gebeur het, drie besonderse lemoenbome in Suid-Afrika, die woordgeskiedenisse van enkele sitrussoorte en verwante vrugte (uiteengesit op die volgstuk), en maak enkele opmerkings voor die lees van die slotreëls. Daar is gebruik gemaak van primêre argiefmateriaal, sekondêre bronne (ook Internet-afbeeldings en -inligting), asook woordeboeke (tweetalig, verklarend en etimologies). Die Afr. betekenis van die sitrussoorte word in die voordrag gebruik. Net soos die betekenisse, het ook die vrugtesoorte verander, sekere name is verouderd en nuwe variëteite met nuwe benamings het bygekom. Daarby verskil die Afr. en Ndl. name van bepaalde vrugte van mekaar.
Foto 1. Soorte sitrusvrugte
INLEIDEND
Die eerste gedokumenteerde tuin in Suid-Afrika was dié een wat deur Jan van Riebeeck in opdrag van die VOC in Cabo de Boa Esperance aangelê is. Dit was immers die aanvanklike en hoofrede waarom die Kaapse nedersetting op 6 April 1652 gestig is. Die geïmpliseerde en toegepaste opdrag kon ongeveer soos volg gelui het: ‘Verlaat julle vaderland waarskynlik vergoed en gaan berei ’n tuin voor aan die onbekende suidpunt van Afrika. Bewerk daar die grond met volharding, saai en plant met ywer ten spyte van terugslae, sodat veral die moeë en siek reisigers tussen die Ooste en die Weste dankbaar kan aandoen by hierdie oase wat deur julle offervaardigheid tot stand gebring is, waar dit wat benodig word, vars en goed vir die gesondheid sal wees – water, groente en vrugte. Dit is julle opdrag en verantwoordelikheid. Maak van dié landstuin ’n ware lushof.’ Uit ’n heel ander tydvak en op soek na kennis oor gister en eergister het ek met ’n leë transkripsiemandjie by hierdie beskrewe tuin aangeland en met groot opgewondenheid en ywer gelees en geniet van die eerste vrugte aan dié bome wat in die vrugbare grond sonnig wortel geskiet het. En toe ek weer sien, was my mandjie ’n horing van oorvloed, volgelaai met inligting oor bepaalde vrugtewoorde om my koers te gee op ’n heel interessante reis: ’n roetebepaling deur die geskiedenis na die herkoms van woorde wat Jan van Riebeeck die eerste was om hier te lande in sy dagregister vir ons te dokumenteer, naamlik die woord lemoen en daarmee saam orangie/orange. Voeg hierby appel, asook ander woorde in ons Westerse tale wat om verskillende redes aansluiting by die eerste twee vind. Tydens ’n verkorte weergawe van die lemoenreis word by heelwat plekke aangedoen. In die voordrag word gewys op die woorde se vorm en betekenis in verskillende tale; op die rol van klankverspringing en klankverandering in woorde; en op die verband tussen oënskynlik onverwante woorde wat sigbaar word wanneer die letters kaleidoskopies in ’n bepaalde patroon val. Hoe ouer die woorde, hoe meer kan hulle vergelyk word met die trapsgewyse inbedding op DNS-stringe: betekenis, simbool en klank word oorgeërf hoewel ander invloede mettertyd daarop inwerk en gevolglik veranderings teweegbring. Hedentydse taal is eintlik ’n kleurvolle mosaïek waarin die brokstukkies en oorblyfsels van voorouertale uit langvergete tye behoue gebly het. Veral plek- en persoonsname is hier van belang. As ’n mens die brondele en -betekenis van ’n woord kan bepaal, selfs al bereik jy net gedeeltelik sukses, is jy reeds besig om ’n sirkel te sluit.
KORTREIS VAN DIE SONVRUG
Foto 2. Plekke wêreldwyd waar sitrus tans verbou word
Lemoene in Indië
Die lemoen en ander sitrusvrugte is reeds duisende jare in hierdie gebied bekend. Soetlemoene groei blykbaar wild in Garhwal en Sikkim in die Nilgiri- asook die Khasi-heuwels waar die valleie nog altyd besonder goeie lemoene lewer. Teen ongeveer 100 n.C. verskyn name van lemoene in die oudste mediese boek in Sanskrit, getitel Charaka-Samhita deur Charaka, hofdokter van koning Kanishka, waar die bitterlemoen naranga en die soetlemoen airavata genoem word. In latere tye toe die benaming vir die lemoen deur Hindoes aan ander volke oorgedra is, is die Sanskrit-woord nāranga wat in Persies nārenj is, deur die Arabiere oorgeneem as naranj. (Vergelyk in hierdie opsig die pleknaam Naranjo, die terrein van ’n vroeë Maya-stad naby Tikal, Noord-Guatemala.) Die Persiese geskiedkundige Abu Ishag al Farai al-Istakhri skryf in sy Boek van die Lande (950 n.C.) oor suurlemoene wat in Manstjoerye en in die Poendjab gegroei het. Jordanus van die Franse Dominikaanse sending en eens die Biskop van Malabar, Suid-Hindoestan, skryf in 1330 oor die diere en plante van Indië: “... in sommige plekke is daar suurlemoene so soet soos suiker, terwyl daar ander soorte is wat net so suur is soos ons suurlemoene” (Eshuys: 49).
Lemoene in Sjina
Aangesien vroeë Sjinese geskrifte meld dat lemoene reeds teen 2400 v.C. in sekere van die Suidoos-Sjinese gebiede bekend was, word dikwels aangeneem dat die plante daar inheems moes wees en daarvandaan na Indië versprei het. Hierdie aanname word egter wat een lemoensoort betref, deur die Sjinese literatuur self weerlê. Dit blyk uit ou Sjinese geskrifte dat daar ’n variëteit van die (soet)lemoen in Sjina voorgekom het, maar wat oorspronklik van Iran afkomstig was. In die Sjinese literatuur is daar verskillende benamings gebruik vir die soetlemoen, naamlik die Hung kan (geel lemoen), Hu-kan (Iranse lemoen) en Yu/Ju-kan (melkagtige lemoen). Soos deurgaans in soveel tale gebeur het, het ook die Sjinese dikwels die vorme verwar en gevolglik verskillende soorte lemoene onderskei en as sodanig benoem. Volgens ’n hedentydse Sjinese vertaler beteken Hung kan, Hu-kan en Ju-kan al drie “lemoen van Iran”. Die Sjinese inwoners van die grensgebiede Sauchuan en Yunna was bekend met die soetlemoen, wat blykbaar ingevoer is vanaf die oostelike dele van Indië waar dit inheems was. Martini beskryf in 1655 in sy Nuwe Sjinese Atlas twee vorme van lemoene: die een met ’n los skil is die mandaryn (Afr. nartjie); die een met ’n vaste skil is die koelielemoen (Afr. (soet)lemoen), waar koelie ’n inwoner van Indië impliseer. [Afr. koelie uit Eng. coolie uit Hindi kulī, qulī wsk. uit Kulī, Kolī, ’n inheemse stam van Gujarat, Indië.]
Lemoene in die Maleise Eilandsee (Argipel)
Die Maleise naam vir soetlemoen, jruk, (in Bahasa Indonesia is dit jeruk) word reeds aangetref in die ou Javaanse Ramayana-teks wat voor 1200 n.C. saamgestel is, en die stad Jrukci (tans Garut) wat afgelei is van die vrugnaam, verskyn reeds in ’n inskripsie van ongeveer 915 n.C. Sitrusbome, veral die soetlemoen, is reeds eeue lank op talle van die Suidsee-eilande bekend. Die Nederlander Jan Huygen van Linschoten wat verskeie jare in Spanje en Portugal gebly het, reis na die Ooste en bly ses jaar daar. In 1583 skryf hy dat Ceylon die beste lemoenstreek in Indië is en ook dat die Sjinese lemoen soeter as suiker is. G.E. Rumphius (1637-1706), goewerneur van Nederlands-Indië, skryf in sy boek Kruie van Amboyana dat die bewoners in sy tyd geglo het dat die soetlemoen en die mandaryn toe kort gelede vanuit Sjina ingevoer was. Hulle noem die soetlemoen die Sjinese suurlemoen (suur in vergelyking met die soet nartjie), wat in die 17e eeu meestal deur die Sjinese deel van die bevolking gekweek is. Vandag nog staan die (soet)lemoen in Nederlands as die sinaasappel bekend, terwyl die nartjie mandarijn genoem word.
Lemoene in die Midde-Ooste
In die suidelike provinsies van Iran, langs die Persiese Golf en in die warm vogtige Gilan-streek (Noordwes-Iran) aan die Kaspiese See, was toestande baie gunstig vir die kweek van sitrusvrugte. Die Jode vier reeds duisende jare die Loofhuttefees (Levitikus 23), waarin die lemoen ’n belangrike rol speel. Vandag nog is die adamsappel wat in die kusgebiede van die Middellandse See voorkom, belangrik tydens die Loofhuttefees. Dit verwys na die geel vrug van die Pomum adami (ook genoem Poma Adam ‘appel van Adam’) ’n variëreit van die lemoenboom. Die vrug se skil toon hollighede wat soos tandmerke lyk. Volgens volksgeloof is dit die verbode vrug van die Paradys, waarin die bytmerke deur Adam as ewige gedagtenis aan sy sonde dien! Dit is waarskynlik hoofsaaklik aan die Jode te danke dat sitrusvrugte tydens oornames deur vyandelike groepe op sommige plekke in Italië, Spanje en die eilande by die kus bewaar gebly het. Hoewel Granada en Taragona vroeër bekend gestaan het as Joodse stede, het die Jode nie slegs daar gewoon nie, maar ook op die platteland, waar hulle wingerde en boorde gehad het. Ter wille van bogenoemde fees het hulle sitrusvrugte, onder andere sitroene, asook dadelpalms aangeplant. Die Persiese dokter Abu-Mansur (970 n.C.) vertel dat lemoene gewoonlik soetsitroene genoem is. Dit kan dus beteken dat dikwels wanneer van sitroene gepraat of geskryf is, ook na soetlemoene verwys is sonder dat daar duidelik tussen die twee soorte onderskei is. Joodse en Arabiese mediese skrywers noem die suurlemoen en die sitroen albei turunj.
Lemoene in Europa
Soet- en suurlemoene was reeds in die eerste eeu n.C. by die Romeine en Grieke bekend. Die Romeine, wat ’n groot deel van die toenmalige bekende wêreld verower het, het die vrugte na Italië gebring, vanwaar hulle dit na die res van Europa versprei het. Die muurskilderye en mosaïeke van die eerste eeu n.C. toon duidelik dat lemoene en suurlemoene in Italië bekend was. Lemoene, waarskynlik soetlemoene, was in Italië bekend voor die vernietiging van Pompei in 79 n.C. In ’n publikasie van Valeriani (1397) word die bitterlemoen, soetlemoen, sitroen, adamsappel en suurlemoen onderskei. Die soetlemoen word ook die malus arancia ‘oranje-appel’ genoem. In Vasco da Gama se reisbeskrywings (1498) word vermeld dat daar baie lemoene in Indië was, maar almal soetlemoene. Volgens oorlewering het Joao de Castro (1500-1548), die vierde onderkoning van Indië, op sy terugreis na Portugal ’n lemoenboom saamgevat wat hy in die tuine van sy landswoning, Penha Verde, geplant het. Al die soetlemoene van Portugal sou dan van hierdie boom afstam. In 1610 berig ’n Portugese bron dat enorme hoeveelhede lemoene, sitroene en suurlemoene in Portugal gekweek word. Vlaamse koopliede het soetlemoene na die noordelike lande en Engeland vervoer. Teen die middel van die 17e eeu is die Portugese lemoen, waarskynlik toe nog die minder soet vrug, egter algaande in Europa vervang deur die sogenaamde Aurantium sinense, die Sjina-lemoen (Ndl. sinaasappel). Die Spaanse leenwoord naranja word geleen deur Frans, wat die n as deel van die lidwoord beskou en dit gevolglik verkort tot orenge, orange waarskynlik onder invloed van or ‘goud’ (as gevolg van die kleur) of Orange, stad in Suid-Frankryk. In Engels en ander Europese tale word die woord orange ook vir hierdie vrug gebruik. Die stad Orange se naam het volksetimologies uit die ouer Latynse benaming Arausio ontstaan, waarskynlik onder invloed van die groot lemoenmark wat daar bedryf is – dus kruisbestuiwing in die ware sin van die woord. In 1544 verkry Willem die Swyger van die Nassause vorstehuis besit oor Orange, vandaar die Huis van Oranje-Nassau.
LEMOENE AAN DIE KAAP
St. Helena se bronne van vars vrugte (o.a. appels en lemoene) en vleis was teen die middel van die 17e eeu erg uitgeput. Gevolglik versoek die VOC-amptenare vir opperhoof Janszen wat in 1647 saam met 60 matrose van die gestrande Haerlem vir ’n jaar aan die Kaap vertoef het terwyl hulle op ’n retoervloot gewag het, om na sy terugkeer in Nederland ’n verslag te skryf oor die Kaap as toekomstige verversingspos. In 1649 lê hy sy “Remonstrantie”, mede-onderteken deur die ander opperhoof van die Haerlem, Matthijs Proot, aan die VOC-kamer Amsterdam voor. Hierin ondersteun hulle die vestiging van ’n verversingspos aan die Kaap. Jan van Riebeeck, gewese koopman in diens van die Kompanjie, bied sy dienste aan vir die pos as kommandeur aan die Kaap. Op 24 Desember 1651 vertrek hy en sy geselskap “per de schepen Drommedaris, Reijger ende Goede Hoope ... uit Texel, vande Camer Amsterdam”. Van Riebeeck se Daghregister (1651-1662) is ’n kosbare bron van inligting oor die aanvangsjare van die Kaap. Met die doel om tuine aan te lê, het hy genoeg plantmateriaal, sade en pitte per skip van die vaderland af saamgebring. Na ’n paar maande aan die Kaap skryf hy op 22, 23 en 24 Augustus 1652 in sy Daghregister: “ ... ende als ’twat warmer begint te worden, sijn voornemens om oock wat spaense limoenen ende appelcornen te planten die wij mede uit patria gebracht hebben” (spaense lemoenen (cornen) ‘lemoenpitte’). Die Spaanse lemoenpitte waarna Van Riebeeck verwys, was blykbaar dié van die Citrus aurantium, ofte wel die Seville-lemoen.
Foto 3. Fort de Goede Hoop en die Compantjiestuin kort na 1652
Van Riebeeck het heel gou na sy aankoms die ‘Compagnies Thuijn’ aangelê. Baie soorte vrugtebome is aangeplant waarvan sommige, soos die mispel en kweperbome, op die kante van die slote geplant is. Deur middel van hoë heinings is die tuin simmetries ingedeel, met ’n afdeling vir elke tipe boom. Die tuin het appelkose, lemoene, nartjies, suurlemoene, bitterlemoene, appels, pere, pruimedante, perskes, koejawels, granate, vye, piesangs, pynappels, amandels, okkerneute en bessies opgelewer. Uit ’n inventaris wat Van Riebeeck van sy lande opgestel het, blyk egter dat sitrusvrugte en wynstokke die belangrikste was. Lemoenbome uit St. Helena het soos volg in die ‘Compagnies Thuijn’ beland: In Februarie 1655 stuur Van Riebeeck die Tulp na die eiland om onder andere appel- en lemoenboompies vir die Kaap te haal (JvR, DR I, 14.2.1655), bl. 289). Hulle het goed aan die Kaap gegroei nadat Van Riebeeck ’n windwerende heining rondom die hele Kompanjiestuin laat plant het. Die Nachtglas het in 1656 nog 300 appel- en lemoenboompies van St. Helena af gebring. In November 1[6]57 het die jag Maria nog 900 appel- en lemoenboompies daar gaan haal. Vergelyk die Resolusie van “Maendagh den 20en Augustij ao. 1657: soo veele appel off lemoen boomtjes als sal cunnen bergen om hier aen te planten”.
In sy Daghregister word daar telkens verwys na sitrusbome: – 6 Augustus 1659: “Beginnende het nu oock bequaeme tijt te worden om ... allerleij ... fruijt-boomen te planten ... voornamentlijck Orangie-appelende lemoen-boomtjens, wel bij duijsenden.” – 2 Sep.1660 skryf hy van pogings om “lemoen ende orangieappel” te ent. – 29 Okt.1660 skryf hy dat “de orangie- [en] lemoenboomen” gaan vrugte dra. – 18 Julie 1661 berig hy van die “orange- ... en lemoenbomen” in die Kompanjiestuine, en op – 25 Julie 1661 “’s Namiddags heeft den Commandeur Riebeeck met sijn huijsvrouw d’ eerste twee lemoenen van een boomtjen in Compagnie’s thuijnen staende affgepluckt, sijnde fray geel gecouleurt ende al moij groot, St. Helena’s slagh, van jonge boomtjens voor dato vandaer doen haelen, en te hopen datter haest meer sullen beginnen te dragen.” (JvRDR, 25.7.1661, bl. 384, deel III).
Die belangrike vraag is egter na watter vrug Van Riebeeck verwys wanneer hy die woord “lemoen” hier gebruik: Is dit ’n Afr. suurlemoen of dalk net ’n minder soet variëteit van die soetlemoen? Dié vraag word gestel na aanleiding van die bewering deur T.V. Bulpin: “As far as the sweet orange in South Africa is concerned, there is no doubt at all about the precise date and origin of the introduction. On June 11, 1654, the yacht Tulp brought the first trees to Cape Town from the island of St. Helena. In Cape Town the trees were planted in the Governor’s [Company’s] garden and on July 25, 1661, the first fruit were plucked by Jan van Riebeeck and duly pronounced to be ‘very good’” (T.V. Bulpin: “Citrus is gold in Olifants Valley”, The Cape Argus, 3 November 1962.) Dr. Böeseken verwys in Jan van Riebeeck en sy Gesin (bl. 91) na “lemoenboompies van St. Helena” en bevraagteken ook nie die soetlemoenstatus nie. In die Resolusie van “Maendag den 18en Julij 1661” word berig dat dit hoog tyd was dat die Edele Kompanjie ’n goeie stuk land moes kies vir die plant van olyfbome, maar insonderheid dié van “orangie, pompelmoes ende lemoenboomen”. Aan die “nieuwlandt” (huidige Nuweland) word daar toe grond voorberei vir sodanige “plantagie”, vry van die felle suidoostewinde, met die oog op “orangie, lemoen ende wijnplantagie”. In die Resolusie word ook geskryf dat dit jammer is dat die vryburgers nie geneë was “tot boom off wijnplantagie” nie; hulle het eerder net “koring, thuin- en aardvrugte” geplant omdat hulle onmiddellik ’n inkomste moes hê. Vanweë die felle suidoostewinde het die bome in die Kompanjiestuin nie so hoog gegroei soos op Van Riebeeck se plaas Bosheuvel nie. Hierdie plaas was “bepoot ende beplant met 1,162 jonge orangie, lemoen ende pompelmoes boomen” asook talle ander vrugtesoorte, altesaam “1244 stucx jonge vruchtboomtjens.” Die plan was om “wel over de 1,000 jonge orangie ende lemoenboomtjens tegen September aenstaende (gewortelt sullende wesen) aen te planten” in die “nieuwelandt”. Van Riebeeck wat ’n baie entoesiastiese tuinier was, meld in sy Memorie aan sy opvolger Wagenaer dat hy aantekeninge gemaak het in sy Caepse Hoveniers Almanach van die wyse waarop die Tuine bewerk, besaai en beplant moet word; hy laat hierdie Almanach vir Wagenaer agter. Hy maak in Maart, Junie, Julie, Augustus en December melding van “limoenen”, “citroenen”, en “orangie boomen”.
Foto
4. C.T. Nijhoff (M1 377) se tekening van die Kaap in 1693.
Deur die jare maak verskillende besoekers en reisigers melding van hierdie vrugtebome in die Kaap, onder andere François Timoléon de Choisy in 1685, Abraham Bogaert in 1702, en Kolbe in 1731. Laasgenoemde skryf dat daar in die VOC-tuine in Kaapstad ’n oorvloed sitroen-, suurlemoen- en lemoenbome groei, en dat die skoonheid en rykdom van die vrugte elke vreemdeling verras en bekoor. Tydens Lady Anne Barnard se verblyf aan die Kaap besoek sy ene Lategan by Stellenbosch wat 36 jaar tevore ’n lemoenboom geplant het; die boom is 40 voet hoog en “so loaded with delicious ripe oranges” en dat dit moontlik was “ ... to send 27 loaded waggons to the Cape” (Fairbridge, bl. 252). Engelse tekste laat geen twyfel oor die soort vrug nie. ’n Orange bly ’n orange. Uit Lichtenstein se besoeke aan die Kaap gedurende 1803-1806 word soos volg oor sitrusvrugte aangehaal: “By noon we had left the Piketberg ... and began to descend into the valley on the other side of it. A large farm, with ... dark leaved orange-trees, lay before us”. Verder meld hy van “A mandarine tree” op die plaas van “the good old widow Lieuwenberg”. Sy was die weduwee van Hans Liebenberg van die plaas Vondeling aan die Grote Bergrivier, in die wyk van die 24 rivieren (tans Porterville).
Foto 5. Hans Liebenberg se plaas Vondeling aan die Groote Bergrivier (Le Vaillant, 1783)
Verder besoek Lichtenstein ook die Duitser Leiste se plaas Gelukwaard en berig oor “vineyards, orchards, and orangeries” en dat wyn, suur- en soetlemoene, asook gedroogde vrugte die belangrikste produkte van die plaas was. In die boek getitel Life at the Cape a hundred years ago deur “A lady” (C. Struik, C.T.) wat in die Tuine gewoon het, word die volgende op 5 Oktober 1861 ingeskryf: “You should see our fine orange trees – at least 20 feet high.” Daar word in die primêre bronne ook heel spesifiek na die vrugte verwys. – In die Resolusies van die Politieke Raad word “ingelegde limoenen” in 1766 en 1788 genoem; “zuure limoenen” in 1760 en 1795, in al vier gevalle as deel van die skeepsvrag uit die Ooste. – In die Boedelinventarisse in die MOOC 8-reeks word ook na lemoene verwys. Uit die omvang van die onderskeie inventarisse kan afgelei word dat vermoënde mense oor sitrusvrugte in die huis beskik het: Nie voor die tyd nie, maar vanaf 1743 tot 1829 kom “limoenen” ongeveer 10 keer voor, meestal as ingelegde vrugte, naamlik “soute limoenen”, “2 limoen flesjes”, “drie bottels limoenzap”, “dertig boutteilles zuure limoen zap bedorven”, “neegen vaatjes in zoort met Chinasche limoenen”, (lg. dus soetlemoene). Dit is egter nie moontlik om te bepaal of hierdie vrugte afkomstig was van die Ooste of die Kaap nie. Lemoene is ook gebruik as betaalmiddel, veral op die platteland: “koop van twee duizend lemoenen (district Beaufort)”; “Debts of the estate to the widow Ch:n Bothma for China oranges 50”. Die tipies Afr. betekenis blyk uit die direk ondermekaarstaande inskrywing van die volgende: “twee bottels limoenstroop, een bottel zuure limoen sop” wat in 1828 gelys is. – Häszner se mediese handboek van 1793 (MOOC 14/143), bevat die meeste verwysings na sitrusvrugte van al die primêre bronne wat geraadpleeg is. Johan Friedrich Häszner, “gesworne chijrurgijn der Colonie Graaffe Rijnette”, stel in 1793 ’n mediese handboek in opdrag van J.I. Rhenius op. Häszner ag die geneeskundige waarde van sitrusvrugte heel hoog. Hy verwys dikwels na soet- en suurlemoene, dit wil sê in die Afr. betekenis. Hy skryf: “War toe heft deeze land het vooregt van zoo veele zoete en zuure limonen op te leveren” as dit nie ten bate van die gesondheid aangewend word nie? Hy beveel sitrusvrugte aan vir 25 siektetoestande, wat wissel van sonsteek tot “flauwtens” en “waterzucht”. Afhangende van die soort siekte beveel hy “soete limonen”, “zure limonen”, “limonade van zure of soete limonen”, ook “bitter limoon”, “citer” en “water limoon”, asook die skil van bitter-, soet- of suurlemoene aan. – Plek- en plaasname Namate die Kaapse gebiede uitgebrei het, het lemoenbome versprei vanuit Van Riebeeck se oorspronklike boorde na die plattelandse gebiede. Hoewel die woorddeel “Lemoen-” nie in die geraadpleegde argiefbronne in plek- of plaasname voorgekom het nie, is “Orange” wel gebruik. In 1769 en 1800 word gemeld van Orange Sigt en Orangezigt, en in 1735 en 1755 word gemeld van die plaas Orange aan die Paardeberg, wat sedert die eerste datum van eienaars verwissel het.
DRIE BESONDERSE LEMOENBOME IN SUID-AFRIKA
1. Lemoenboom naby Citrusdal
Die plaas Hexrivier aan die Olifantsrivier naby Citrusdal, behoort sedert 1734 aan die Visser-familie. Naby die woonhuis staan die oudste lemoenboom in die land wat as gevolg van sy ouderdom ’n historiese gedenkwaardigheid is. Die Afrikaanse digter, C. Louis Leipoldt, het in 1922 by Clanwilliam se eeufeesvieringe na dié boom verwys as “synde 200 jaar oud”. Hoewel die boom in 1925 byna heeltemal uitgebrand het, het sy oorspronklike wortelstelsel en onderste gedeelte van die stam behoue gebly. Daarna het die boom weer uitgeloop, is twee meter hoog en dra elke seisoen heerlike vrugte wat egter heelwat kleiner is as die hedentydse lemoene. Die boom is tans ongeveer 290 jaar oud.
Foto 6. Lemoenboom (ongeveer 290 jaar oud) op die plaas Hexrivier, Citrusdal
2. Prinses Beatrix Gedenklemoenboom
Nadat die Voortrekkers hulle in 1837 in die Rustenburg-omgewing gevestig het, het hulle die lemoenpitte wat hulle van die Kaapkolonie af saamgebring het, daar geplant. Die eerste betekenisvolle sitrusboorde is egter eers in 1859 aangeplant. Vanaf 1870 tot 1875 het pres. Kruger ongeveer 500 pitlemoenbome op sy plaas Boekenhoutfontein aangeplant. Van hierdie bome was nog tot 1960 te sien en het steeds heerlike soet vrugte gedra. Met die geboorte van kroonprinses Beatrix van Nederland op 31 Januarie 1938 is daar ’n lemoenboom voor die Rustenburgse stadshuis geplant en die Prinses Beatrix Gedenklemoenboom genoem. Die boom is ongelukkig in 1996 dood, maar ’n plaasvervangerboom is daarna aangeplant in die Gereformeerde Kerk se tuin op Rustenburg.
Foto
7. Beatrix-lemoenboom, Rustenburg. Uitgehaal in 1996.
Met Beatrix se 13e verjaardag Julie 1951 het mnr. Wulfse, eertydse raadslid wat die boom geplant het, van die heerlike lemoene laat pluk en die houer per KLM aan die prinses gestuur. Hierdie boom was ’n direkte afstammeling van een van die bome wat pres. Kruger in 1875 geplant het. Die gedenkboom is geplant ter ere van die Nederlandse koningshuis van Oranje wat soveel vir die twee voormalige Boererepublieke gedoen het. In haar bedankingsbrief wat vergesel was van ’n foto, skryf die prinses soos volg: “Ik dank u heel hartelyk voor het pakketje met sinaasappelen wat ik van u ontving. Wat leuk dat u deze boom geplant heeft op de dag van mijn geboorte en dat hij nu al zo groot is. ... Van de oranje appeltjes heb ik fijn gesmuld. Met vriendelijk groeten, Beatrix”
Foto
8. Prinses Beatrix 13 jaar
3. Lemoenboom in Bloemfontein
Daar staan ’n groot lemoenboom in die binnehof van die Vierde Raadsaal in Bloemfontein, ook genoem die Rosestad. Die ouderdom van die boom, naamlik 100 jaar, word bevestig deur die volgende gebeure: Vanweë ’n tekort aan kantoorruimte in die Vierde Raadsaal, word daar besluit om uit te brei. Op 28 Augustus 1907 word die tender vir die bou van die Oosblok van die Vierde Raadsaal aanvaar en op 16 Junie 1908 vind die eerste vergadering in die nuwe gedeelte plaas. Voor laasgenoemde datum is die oop ruimte, ofte wel binnehof, tussen die Vierde Raadsaal en die Oosblok, uitgelê en beplant. Daar kan met sekerheid aanvaar word dat hierdie lemoenboom, gegewe sy wetenskaplik berekende ouderdom, ook toe geplant is. Die boom dra nog elke jaar vrugte.
Foto 9. Lemoenboom in binnehof van Bloemfontein Raadsaal, 100 jaar oud
Die plant van hierdie boom is voorafgegaan deur ’n interessante verloop van Vrystaatse lemoensake. Toe die Engelse firma De la Rue in 1867 gevra is om seëls vir die ‘Republic of the Orange Free State’ te ontwerp, het hulle met húlle Engelse woord orange vir die vrug in gedagte en verder beïnvloed deur die Republiek se naam, blykbaar sommer self besluit dat die vryheidsboom van die Oranje Vrystaatse staatswapen seker dan ’n orange-boom moet wees. Die vrugdraende lemoenboom verskyn gevolglik vanaf 1868 vir talle dekades op die seëls van die Republiek van die Oranje Vrystaat en daarna die Unie van Suid-Afrika, later ook op die Vrystaatse staatswapen, en van 1932 tot 2000 ook op die staatswapen van Suid-Afrika.
Foto 10. Die wapen is hier nog sonder die lemoene aan die vryheidsboom.
Foto 11.1 en 11.2 Oranje Vrijstaat se lemoenboomseëls
Foto
12. Wapen van die Unie van Suid-Afrika (1932),
ENKELE OPMERKINGS
1. Hoewel die woord lemoen al in die middeleeue bekend was en in Middelnederlands na ’n ‘kleine citroen’ verwys het, was dit om en by die 17e eeu redelik onduidelik watter vrugte pas by watter benaming. Die reisbeskrywers praat dikwels in een asem van “oraengie-appelen, limoenen, lymen, Cidroenen en Cydren” sonder om die verskillende soorte duidelik van mekaar te onderskei (vgl. Van Linschoten, Itenerario I 19, 56, 224). Dapper skryf van “zoete en zuure Oranje-appelen, Limoenen, Citroenen” (Nauk. Beschr., bl. 72). Dodonaeus verwys in sy Cruydtboek (bl. 1329) na “zuure en zoete limoenen”, soos in Afrikaans. Dieselfde geld Valentijn se “groote Zoete Limoen-boom, diens Vrugt men ook wel een zoete Appel noemd” (O.-I. III, 189 a (WNT).
2.1 Verwys Van Riebeeck na Seville-lemoenpitte wanneer hy skryf van Spaanse lemoenkornen? Indien wel, neig lemoen hier al na die Afr. betekenis. 2.2 Na watter vrugte verwys Van Riebeeck wanneer hy skryf van orangie appelen en lemoenen? Die aanname word gemaak dat hy met orangie/orangie appelen waarskynlik na die soetlemoen verwys; maar was sy lemoen werklik nog die Mnl. klein sitroen of verwys dit dalk na ’n vrug wat na ’n Afrikaanse suur lemoen neig? Sy orangieappelende lemoenboomtjes is die interessantste beskrywing van almal, maar beslis die moeilikste om te plaas. 2.3 Van Riebeeck se gebruik van orange/orangie is heel opvallend. Ander skrywers gebruik orangieappelen of Chinase lemoenen, met ander woorde soetlemoene. 2.4 Aanvanklik verwys orange na ’n bitter lemoensoort. Die eerste Ndl. optekening van Chinaasappel was in 1682 (WNT), 30 jaar na Van Riebeeck se gebruik van orange. Die soetlemoen vervang in hierdie tyd die bitter-/suur lemoen. Orange as vrugtebenaming het egter nooit in Afrikaans posgevat nie, slegs die kleurnaam oranje.
3. Die Kaapse sprekers gebruik egter lemoen. Uit Hãzsner se werk blyk dat die onderskeid tussen soet- en suurlemoen reeds teen 1793 afgeloop was, hoewel dit waarskynlik lank voor daardie tyd al in die omgangstaal gebruik is. In 1828 is die Afr. lemoen as soetlemoen teenoor suurlemoen in die geraadpleegde primêre bronne opgeteken.
4. Die woord appel in die betekenis ‘vrug’ hou ook met lemoen en orange verband, byvoorbeeld Ndl. sinaasappel en appelsien (Duits Apfelsine). Vergelyk ook Afr. aart-/ertappel, adamsappel, granaatappel en pynappel waar appel ‘vrug’ beteken. Ndl. leenwoorde met pom- ‘vrug’ uit Frans pomme uit Latyn pomum ‘vrug’, kom ook voor, byvoorbeeld Ndl. pomerans van pomme ‘vrug’ en arancie ‘oranje’. Vergelyk hier Afr. leenwoorde soos pom·made, pomologie en pomoloog.
5. Uit die tabel van sitrus- en ander vrugte blyk dat daar selfs in die onlangse verlede betekenisveranderings ingetree het. Vergelyk die lys Maleise benamings van ongeveer 130 jaar gelede met die huidige opmerkings deur dr. Han Mets: in hedentydse Bahasa Indonesia verwys limau slegs na ’n sitroen, terwyl jeruk in plaas van. limau die versamelnaam vir sitrusvrugte is.
6. Klankverandering vind gewoonlik langsaam plaas, byvoorbeeld appel uit Germ. abel (p uit b) uit die waarskynlike prototipes *abal-n of *amal-n (b teenoor m); soms vind ’n proses van letterverspringing in ’n woord of tussen woorde in dieselfde taal of verskillende tale plaas. Vergelyk die volgende:
Wat uiters interessant van hierdie ontleding is, is dat die letters in amaln, melon/meloen en lemon/lemoen, bykans dieselfde is al het hulle met verloop van tyd binne die woorde van volgorde verander. Al drie die woorde bestaan steeds, maar tans in ’n heel spesifieke betekenis. Wat die ouderdom betref, word die Germaanse abel teruggevoer na amaln wat verband hou met melon uit ’n voor-Griekse taal van die Middellandse Seegebied. Is lemoen dan die oudste? Of is lemoen die gevolg van ’n voorafgaande klankverspringing? En waar pas orange by alles in?
Simboliek speel ’n belangrike rol in die geval van appel, lemoen en orange as vrugte rond van vorm. Dít is egter ’n onderwerp vir ’n volgende gesprek. Dit lyk dus asof die volle verhaal nog wag om vertel te word.
SLOTWOORDE
Ek sluit met die volgende gedig as samevatting wat op VOC- én simboliese vlak geld:
lemoenroos
lig
anker by die hawe van die teks
die
langtafel met spierwit kleed gedek
tuinier
in opdrag uit vrye keuse
hiermee
die eerste roos, my lief
Helena
Liebenberg
Ek dank u vir u aandag.
Verkorte lys geraadpleegde bronne A LADY. Life at the Cape a hundred years ago. Cape Town: C. Struik Almanach der Africaansche Landbouwers en Hoveniers. 1984. Kaapstad: Suid-Afrikaanse Biblioteek BOSMAN, D.B. & H.B. THOM. 1957. Daghregister gehouden by den Oppercoopman Jan Anthonisz van Riebeeck. Deel I-III. Kaapstad: A.A. Balkema BROWNELL, F.G. 1993. Nasionale en provinsiale simbole en flora en fauna-embleme van die Republiek van Suid-Afrika. Johannesburg: Chris van Rensburg Uitgewers DE VRIES, J. 1997. Nederlands Etymologisch Woordenboek. Leiden: Brill ESHUYS, W.A. 1966. Aardrykskundige en geskiedkundige oorsig van die herkoms en verspreiding van sitrus. Nelspruit: NISSV FAIRBRIDGE, Dorothea (ed.) 1924. Lady Anne Barnard at the Cape of Good Hope, 1797–1802. Oxford KAAPSTADSE ARGIEFBEWAARPLEK: C1-231 (Resolusies van die Politieke Raad van die Kaap de Goede Hoop); MOOC8 (Boedelinventarisse); MOOC14 (Boedelrekeninge) LICHTENSTEIN, M.H.C. Travels in southern Africa in the years 1803, 1804, 1805 and 1806. Two volumes. Cape Town: The Van Riebeeck Society, no. 10, 11. 1928–1930 MORRIS, W. (Ed.) 1973. The Heritage Illustrated Dictionary of the English Language. New York: American Heritage Publishing Co., Inc. & Houghton Mifflin Company VAN DER MERWE, H.J.J.M. 1964. Scheepsjournael ende Daghregister. Pretoria: J.L. van Schaik Bpk. VAN VEEN, P.A.F., N. VAN DER SIJS. 1997. Van Dale Etymologisch woordenboek. Utrecht/Antwerpen: Van Dale Lexicografie VERCUEIL, S.W. 1993. Geskiedkundige oorsig van sitrus in die Rustenburg-gebied. 1859-1991. Nelspruit: Instituut vir Tropiese en Subtropiese Gewasse VERCUEIL, Stephan. “Twee geskiedkundige boompies geplant” Rustenburg Herald Properties, 16 September 2005 Woordenboek der Nederlandsche Taal. CD.
BENAMINGS VAN VRUGTESOORTE BEHORENDE TOT DIE SITRUSFAMILIE – Klik vir tabel in MS Word formaat ... – Klik vir tabel in PDF formaat ...
Verdere inligting tydens vraetyd 1.1. Die woord pomelo is nie meer in Nederlands bekend nie, slegs die ontlening grapefruit word tans gebruik, teenoor Afrikaans pomelo ‘grapefruit’. Die gebruik van grapefruit in Afrikaans sou neerkom op direkte ontlening uit Engels, wat ten alle koste vermy (behoort te) word. 1.2. In ooreenstemming met die klankverspringing en -verandering soos tydens die voordrag bespreek, geld dieselfde ten opsigte van pomelo en pompelmoes:
2. Gedurende die VOC-tydperk is nie net Indiërs koelies genoem nie, aangesien daar dikwels ook na Sjinese werkers/slawe as koelies verwys is. 3. Sinaasappels uit Israel staan in Nederland as jaffas bekend. Israel is vol sitrusboorde met groot lemoenboorde by Jaffa, Tel-Aviv – vandaar die naam. Jaffa lê ook aan die Middellandse See, dus presies in die regte gebied. Dieselfde proses geld hier: pleknaam gaan oor op die produk en andersom, soos by Orange in Provence, Frankryk. 4. Die Ndl. mandarijn ‘nartjie’ is die vrug van die Mandaryn, titel van ’n hoë staatsamptenaar van die Sjinese Ryk. Vergelyk De Vries se aangehaalde uiteensetting in die tabel. 5. Dr. Gwen Fagan vertel van die orangerie wat sy op die Boschendal-landgoed, Stellenbosch, aangelê het met pitlemoenboompies wat sy gekweek het van plante uit die oorspronklike boord, aangevul met jong plantjies afkomstig van die oudste lemoenbome op verskeie ander plekke in die Kaap.
Transkripsies uit die VOC-verhaleskat deur Helena Liebenberg
Spreekbeurt voor die Orde van den Prince, Afdeling Kaap de Goede Hoop Huis der Nederlanden, 3 Mei 2008
0. Algemene praktiese oorsig
Die Nederlandse TANAP-program (Towards a New Age of Partnership), ’n gesamentlike onderneming van die Nationaal Archief in Den Haag en die Rijksuniversiteit van Leiden in medewerking met UNESCO se Memory of the World-program, het geld bewillig vir die digitale beskikbaarmaking van die Resolusies van die Politieke Raad aan die Kaap (1651-1795). Twee Suid-Afrikaanse TANAP-projekte, naamlik die transkriberingsprojek en die omskakelings- projek, is van stapel gestuur. Dié gelyklopende projekte het van Oktober 2001 tot September 2003 geduur en is in 2004 afgerond met die voltooiing van ’n glossarium en ’n tweetalige inleiding. Alles is sedert 2004 op die Internet by http://www.tanap.net.
Na afloop van die International Council on Archives-kongres wat in Augustus 2004 in Wene gehou is, is bekend gemaak dat Nederland se VOC-versameling deel word van UNESCO se Memory of the World-register. Daarop is besluit om ’n funksie aan te bied in die Kaapstadse Argief waar ’n baie belangrike deel van die VOC-argiewe gehuisves word. Toe die huidige Suid-Afrikaanse minister van Kuns en Kultuur, dr. Pallo Jordan, gevra is om ’n datum vir hierdie geleentheid te kies, het hy 6 April voorgestel “to coincide with the arrival of Jan van Riebeeck in South Africa on 6 April 1652”. Met hierdie toekenning staan die Argief onder ’n streng verpligting en verantwoordelikheid om hierdie, ons gesamentlike, erfenis te bewaar én beskikbaar te stel aan wie dit ookal wil gebruik.
Die tweede transkriberingsinisiatief wat ook met Nederlandse befondsing uitgevoer is en as die TEPC-projek bekend staan, het in Oktober 2004 ’n aanvang geneem en op 31 Januarie 2008 ten einde geloop. Die letternaam TEPC verwys na “Transcription of Estate Papers of the Cape of Good Hope”, aangesien die transkribering aanvanklik gehandel het oor inventarisse van intestate boedels (1673-1834) wat deur die Weeskamer aan die Kaap hanteer is.
Die TEPC-span is aangestel: as projekbestuurder Dr. Antonia Malan; as redigeerders Erika van As, Illona Meyer en die uwe; as transkribeerders Maureen Rall, Kobus Faasen en Fiona Clayton, met Annemarie Krzesinski wat haar later by ons aangesluit het. Daarna het Marianne de Kroon (indekseerder), Rina Guillion en Jean Blanckenberg (transkribeerders) lede van die span geword. Prof. Nigel Worden van die Universiteit van Kaapstad was die akademiese hoof van die projek.
Die afgelope drie en ’n kwart jaar het die TEPC-span die volgende reekse getranskribeer en/of geïndekseer:
Pieter Joubert se tekening van ’n oond, 1693-1737 (MOOC14/5)
Drie inleidings asook etlike verbandhoudende artikels deur spanlede, voortspruitend uit temas of verhale van die getranskribeerde werk, het die lig gesien. In een van die laaste MOOC8-bande was daar selfs ’n inventaris oor die Weeskamer self, wat verwerk is in ’n foto-artikel van onder andere die oorspronklike kis wat in die Weeskamer gestaan het (1717 WK (Weeskamer)), asook die rusbank wat deel van die inventaris was en tans deel vorm van die meublement in die Koopmans-De Wethuis se sitkamer, nou egter met ’n rooi bekleedsel in plaas van die oorspronklike groen.
Weeskamer-bank, tans in sitvertrek van Koopmans-De Wethuis, Kaapstad
Al die genoemde inligting word aangebied op ons laaste en volledigste CD, wat saam met die drie publikasies wat u hier uitgestal sien, en die laaste gids wat oor plekname handel maar nog in die pers is, ons produkreeks uitmaak. ’n Deel hiervan is ook reeds op die TANAP-webblad.
Vergun my die volgende voordat ek by die bespreking van die VOC-verhaleskat kom:
In November verlede jaar het die TEPC-projek die Wes-Kaapse Kuns, Kultuur en Erfenistoekenning vir die kategorie Argiefwese ontvang vir die bevordering van die argiefwese met behulp van gepubliseerde artikels (transkripsies van die inhoud van ongeveer 120 dik argiefbande) en openbare bywoning (van ons werkswinkels, lesings en ons werksplek in die Leeskamer).
Na afloop van die projek se vierde en laaste werkswinkel op 26 Januarie vanjaar, met die tema “Court of Justice Transcriptions” het die Konsul-Generaal van Indonesië, wat as gasheer van die geleentheid opgetree het, ’n besondere blyk van waardering aan die projek geskenk.
Op 28 Februarie oorhandig die Van Ewijck Stigting sy Prestasietoekenning vir 2007 aan die TANAP- en TEPC-projek gesamentlik. Wat ’n groot eer was dit nie vir ons as ontvangers daarvan nie! Die TEPC-span het besluit om die skenking ondermeer te gebruik om die 9 bande met “monsterrolle” wat in die Nationaal Archief gefotografeer is, na-ure te transkribeer en te redigeer, sodat die inhoud daarvan ter wille van groter volledigheid ook op die CD kan verskyn. Ons is besondere dank verskuldig aan die Van Ewijck Stigting vir hierdie gebaar.
1. Inleiding
Sedert 2001 toe ek kennis gemaak het met hierdie werk, is ek – en my kollegas deel waarskynlik hierdie gevoel met my – voortdurend getref deur die kaleidoskoop van taferele wat een na die ander gevul met soveel mense, deur my vingers heen kon ontsnap aan die geslote blaaie van die ou dokumente om in die vorm van woorde en sinne voor my oë op die rekenaarskerm gestalte te kon aanneem. Ek beskou dit as ’n groot voorreg om op hierdie wyse deel te kon hê aan die wel en weë van die mense van die Kaap, afgesien daarvan of hulle seewaarts of landwaarts hier aangekom het. Op dié plek is daar geanker en veranker; geleef, gelag en gewerk; gehuil, getreur en gesterf – in verskillende volgordes en oor verskillende tydperke heen. Dit was die aan-land-kom-plek van derduisende mense sedert Jan van Riebeeck en sy geselskap met hul drie skepies in 1652 hier vasgemeer het, voorafgegaan deur die seevarende Portugese wat hul klipkruise oral langs die Afrikaanse kus agtergelaat het. Voeg hierby die inheemse groepe met vaste weiveld vir hul kuddes in die omgewing van die nedersetting, en die werklikheid om handel te dryf en op verskillende wyses kennis te maak met die inkommers.
Diegene wat hulle in Cabo de Boa Esperance, Cabo de Goede Hoop, kom vestig het of hierheen gestuur is (vrywillig of onder dwang), het byna uitsluitlik gekom uit die Weste en die Ooste om mekaar hier – aan die suidpunt van Afrika – te ontmoet. Dié uit die Weste het hul Europese plekname van herkoms saamgebring, onder andere Amsterdam, Zeeland, Calais, Hamburg, Leipzig, Groningen, Bergen op Zoom, Frankfurt, Canton Bern, Hessen Kassel, Kopenhagen, Leeuwarden en Altona. Dié uit die Ooste het hul Verre-Oosterse plekname van herkoms saamgebring, onder andere Cochin, Tuticorin, Surat, Palicat, Galle, Colombo, Hooghly, Malakka, Nias, Dapoer, Ternate, Ambon en Banda.
Ek het egter met verloop van tyd al hoe meer tot die besef gekom dat dit nie net ménse uit die Ooste en die Weste is wat mekaar hier ontmoet nie, maar dat die twee grootste oseane waarvan die name male sonder tal in ons werk voorgekom het, ook hier aan die suidpunt van Afrika ineenvloei: die Indiese van die Ooste en die Atlantiese van die Weste. Vir my altans, is dít op sigself ’n saak met ’n veel ouer en gewigtiger betekenis, omdat hierdie oseaanname klanklik byna ooreenstem met dié van twee groot beskawings wat duisende jare gelede bestaan het, naamlik dié van die Indus en dié van Atlantis. In elk geval is ons as erfgename van die uitgestrekte Indo-Europese kultuur- en taallandskap deel van hierdie gemeenskaplike verbondenheid wat in ’n verre verlede gesetel lê.
2. Inwoners van Kaap de Goede Hoop
Die getranskribeerde werk, en nou verwys ek na sowel die TANAP- as die TEPC-projek, bevat geweldig baie inligting oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe. Daar was bykans nie ’n saak in die Kaapse samelewing wat aandag geverg het nie, of dit is deur die Politieke Raad bespreek. Wat die twee projekte betref, was die Politieke Raad, Weeskamer en Justisie die hoofrolspelers.
Die aanvanklike en opvolgende reekse waaruit ons gewerk het, het uiteindelik daarop neergekom dat nie een van die groepe inwoners aan Cabo uitgesluit is nie, en aan elkeen is gelyke geleenthede en aandag geskenk, naamlik die inheemses, VOC-dienaars, vryburgers, slawe en bannelinge. Kruisverwysing is een van die groot bates van ’n projek soos TEPC in samehang met TANAP. Die moontlikheid van sodanige verwysing na dieselfde persoon of voorwerp in verskillende dokumente uit verskillende reekse, word aansienlik vergroot deurdat daar so ’n geweldige hoeveelheid gegewens beskikbaar is uit die vyf reekse argiefmateriaal wat, al is dit slegs gedeeltelik, getranskribeer of geïndekseer is. Nie alleen vul die een primêre bron die ander aan nie, maar die gegewens kan ook onderling vergelyk word om die betroubaarheid daarvan te toets en te bevestig al dan nie. Dit het talle kere gebeur dat ’n bepaalde persoon se naam op verskillende plekke in verskillende reekse dokumente opduik. So was dit dikwels moontlik om die stukkies en brokkies bymekaar te pas en ’n kykie te kry, selfs al was dit hoe beperk, op ’n individu se doen en late.
In elke groep wat ek noem, word een of twee persone uitgesonder en kortliks bespreek.
2.1 Inheemse stamme
Volgens Jan van Riebeeck se Daghregister maak hy reeds op 6 April 1652 met die inheemse bevolking kennis. Van Riebeeck het aan land gegaan om te kyk waar hy ’n fort sou bou. Twee Strandlopers het saam met hom aan boord gekom en kon in gebroke Engels kommunikeer. Volgens die Daghregister is die eerste proklamasie wat in die Kaap voorgelees en aangeplak sou word, tydens die Raadsvergadering op 8 April uitgevaardig. Daarin het gestaan dat ’n fort opgerig sou word en dat daar in vrede met die inheemse bevolking geleef moes word. Volgens die Daghregister het die Nederlanders op 10 April met die mense van “Saldinia” kennis gemaak.
Eva van Herrijs volcq
Die VOC-dienaars se eerste kennismaking en onderhandelinge met inheemse groepe het plaasgevind met die hulp van Khoi-tolke, onder andere Doman (op eie versoek Anthoni genoem), Herrij (Outshomao), Claes Das en Krotoa wat deur die Nederlanders deurgaans Eva genoem is.
Op 23 Junie 1658 word gemeld van “den tolcq Doman alias Anthonij” wat van “Caepmans ende Eva van Herrijs volcq is (hoewel haar moeder in Caepmans leger woont)” (C.1) Op 2 September 1658 word sy beskryf as “de tolckinne Eva" (C.1). Dit blyk uit die Resolusie van 18 Sept. 1658 dat Herrij “sijn nichte de tolckinne Eva (die) in des Commandeurs huijs woonende”. Sy het blykbaar vir tye na haar mense teruggegaan want op 30 Okt. 1658 word genotuleer van “de tolckinne Eva (gister avondt uijt landt wederom gekeert)” (C.1). Deur Eva en ander inheemses het die nedersetters gehoor van die Choboquas wat goud, pêrels en ander rykdom besit het, dat die Namanas oftewel Namaquas in steenhuise woon, 30 dae se reis ver is, dat hulle wit bereide velle dra, “ende ook hebbende na Evas seggen kercken daer se Godt in bidden gelijcq de Hollanders doen”. Hierdie mense wat “witachtigh met lancq haer” was, het swart slawe gehad wat allerhande handwerk gemaak het waarmee handel gedryf is, ook met olifanttande en beeste. Hierdie mense wou weer graag onder andere rooi- en geelkoperdraad, asook rooi krale in die hande kry (C.1).
Haar taalvaardigheid was van groot nut, aangesien sy as tolk tussen die nedersetters en haar eie mense kon optree. Sy word in vier Resolusies hierna tot in Januarie 1660 as “tockinne” beskryf (C.1 en C.2). Ofskoon Eva eers later as Christen gedoop en aangeneem is om daardeur die gelyke van ’n vryburger te word, het sy deurentyd haar tolkdiens gelewer. Op 12 April 1664 word genotuleer dat “Pieter van Meerhoff van Coppenhaegen ondercherurgijn ende de Hottentoose tolckinne Eva haer se saemen in trouwbelofte hebbende begeven”. Daar word ook geskryf van Eva wat “een bruijtsgave” van vyftig riksdalers ontvang het, waarna daar ’n “vrolijcken maeltijt” aangebied is. Uit die teks word afgelei die troue daartoe kon lei om “deese inlantse natie tot ons meer ende meer sullen g’animeert worden” (C.3).
Van Meerhof was superintendent van die gevangenis op Robbeneiland (C 3). Die volgende inligting is uit ’n sekondêre bron verkry: Nadat haar man tydens ’n binnelandse ekspedisie die lewe gelaat het, het Eva in September 1668 saam met haar kinders van Robbeneiland af teruggekeer na die vasteland waar hulle vir ’n ruk gewoon het. As drankverslaafde het sy die Kasteel verlaat en by haar familie in die krale gaan woon. Sy is in Februarie 1669 in the Kasteel aangehou en daarna na Robbeneiland verban waar sy in 1674 oorlede is.
Die eerste woord wat sedert haar huwelik in 1664 oor Eva in die Resolusies gerep word, was op 14 Julie 1677 toe daar verwys word na Daniel Zaaijman op Mauritius en dat Bartholomeus Borms versoek is om “de 2 onmondige ouderlose kinderen van saliger Pieter Meerhoff (bij sijn vrouw een Hottentottine Eva geprocreert)” saam met hom na die eiland te neem. Een van die kinders was die later bekende Petronella van Meerhoff. In die Resolusie van 1 Maart 1707 word verwys na heemraad Bokkelberg (C.25). Die laaste melding in die Resolusies oor Eva verskyn in die voetnoot oor hom wie se eerste vrou, Magdalena Zaayman, ’n kleindogter van Eva en Pieter van Meerhoff was.
2.2 VOC-dienaars
Diegene wat in 1651 die vaart na die Kaap meegemaak het, was van die eerste VOC-dienaars met wie daar in die Resolusies kennis gemaak word.
In die beginjare het die nedersetting se bevolking net uit VOC-dienaars en hul gesinne bestaan. Die getal VOC-dienaars het geleidelik toegeneem. In 1701 was daar net meer as 500. Die grootste personeelgroei vind gedurende die laat 1780’s plaas: in 1789 was daar bykans 3,400 VOC-dienaars in die Kaapkolonie werksaam. Daarna het die Kompanjie om koste te bespaar die getal met meer as 1,000 persone besnoei. Namate die grense van die nedersetting verskuif het, is poste op verskillende plekke aan die voorpunt van die uitbreiding ingerig. Die poshouer het aan die hoof van so ’n (buite-) pos gestaan. Die name wat destyds aan die poste gegee is, is vandag nog bekende plekname in die Wes-Kaap, onder andere Soutrivier, Robbeneiland, Dasseneiland, St. Helenabaai, Piketberg, Houtbaai, Muizenberg, Vissershok, Gansekraal, Klapmuts, Riviersonderend, Buffeljagtsrivier, Soetmelksvallei, Rietvallei, Tijgerhoek en Outenikwaland. Die VOC-fort by Rio de la Goa in Mosambiek was die pos wat die verste van die Kaap geleë was.
Om te sorg dat handel as die VOC se hoofdoelwit bedryf kon word, was militêre beskerming van hierdie belange noodsaaklik. Dieselfde het ook aan die Kaap gegeld. Omdat die VOC aangewese was op buitelanders as soldate, was daar aan die Kaap ’n aansienlike aantal soldate uit onder andere Swede, Denemarke, Noorweë, Vlaandere, die Baltiese state, en die Duitse gebiede afkomstig. Die VOC-verdedigingstruktuur aan die Kaap is van tyd tot tyd getalsgewys deur dienaars van goedgesinde moondhede versterk.
Rudolf Siegfried Allemann (1693-1762)
Rudolph Siegfried Allemann was seker een van die bekendse militêre figure aan die Kaap. Hy was op die kruin van sy beroepslewe tydens die twee dekades wat Ryk Tulbagh goewerneur aan die Kaap was.
Volgens die VC-databasis is Allemann se persoonlike besonderhede in die monsterrolle aanteken tussen 1730 en 1762 met enkele jare tussenin wat ontbreek. In die VC’s word sy geboorteplek aangegee as Neuendorf, wat ook op ’n verskeidenheid maniere gespel is, onder andere as Nijentorf, Negentorf Nayentorf, Weyentorff, Meijendorff, Nijmtorf and Nijendorff. Neuendorf is egter nie ’n unieke pleknaam in Duitsland nie, want daar is ’n Neuendorf in Bavaria, een in die Rynland en nog een in Sakse-Anhalt. In Allemann se testament is Neuendorf ook as sy geboorteplek aangegee, hoewel die Duitse navorser Werner Schmidt-Pretoria, beweer dat Allemann op Bergholshausen in Wesfale, Pruisse gedoop is, en nie in Neuendorf nie.
Allemann was reeds ’n luitenant in die Pruisiese lëer voordat hy deur die VOC in diens geneem is. Sedert Allemann se aankoms in 1720 as VOC-soldaat het hy stap vir stap in sy beroep gevorder. Op 32-jarige leeftyd word hy bevorder tot “corporaal” (4 Sept. 1725, C.73) en word beskryf as “sijnde een man van nugtere bequaamheijd” (4 July 1725, C.73). Daarna word hy agtereenvolgens sersant (1728), vaandrig (1729) en luitenant (13 December 1735, C.99). In 1740 word hy hoof van die garnisoen en toe “provisioneele capiteijn deeses Casteels” (14 Februarij 1741, C.116). In 1742 is hy bevorder “tot capitain militair deeses Casteels” (C.120), die hoogste militêre rang aan die Kaap. Hy was gevolglik verantwoordelik vir die verdediging en beveiliging van die Kaap teen aanvalle uit die binneland of van die seefront af. As gevolg van hierdie aanstelling word hy lid van die Politieke Raad, in welke hoedanigheid sy handtekening die eerste keer in die Raadsvergadering van 7 Januarie 1744 verskyn. Op 9 Julie 1742 (C.121) word genotuleer dat Allemann “een stukje lands” met die naam “Sonneblom” as eiendom ontvang, en op 8 Oktober 1743 (C.121) dat slegs 5 van die 12 morg bruikbaar was.
Volgens die VC-lyste word sy naamgenoot, Rudolf Siegfried Alleman junior, wat ook ’n VOC-dienaar was, die eerste keer in 1753 in die monsterrolle aangeteken. In die lyste kom die name van ander Allemann-familielede ook voor, naamlik Nicolaas Anthoon, Fredrik Willem en Jacobus Philippus.
Allemann senior se persoonlike besonderhede verskyn die laaste keer gedurende die eerste helfte van 1762 in die monsterrolle, aangesien hy op 22 Julie daardie jaar in die ouderdom van 69 jaar in die tuig oorlede is. Die kennisgewing van sy afsterwe is genotuleer tydens die Raadvergadering gehou op 10 Augustus (C.140).
2.3 Vryburgers
Volgens opdrag van die Here Sewentien moes Jan van Riebeeck ’n fort bou, ’n hospitaal vir siek seelui oprig, vrugte- en groentetuine aanlê, koringlande voorberei om graan aan die skepe te voorsien, en beeste deur ruilhandel met die Khoi in die omgewing van die nedersetting verkry. Dit het hy gedoen – na die beste van sy vermoë.
Van Riebeeck het egter gou na sy aankoms, al in 1652 en 1653, gewens dat die Bewindhebbers vir hom “vrije luijden” sou stuur om die grond te help bewerk, omdat die VOC-dienaars te min was om al die nodige arbeid te verrig. Aangesien die koringopbrengs aan die Kaap onvoldoende was om in die skepe se behoeftes te voorsien, moes die Bewindhebbers in 1655 vir Van Riebeeck toestemming gee dat van die amptenare uit die diens tree en toegelaat word om koring te kweek by Rondebosch, wat ’n geskikter omgewing was maar ’n ent van die Fort geleë. ie vryburgers sou vir eie wins werk en bekwamer as die betaalde amptenare boer. Al die landbouers se produkte en beeste moes egter aan die Kompanjie verkoop word. In Februarie 1657 het die eerste nege vryburgers hul plase aan die Liesbeekrivier, wat toe die amptelike grens geword het, ontvang.
Teen 1659 was 84 morg grond al bewerk. In 1662 was daar reeds 60 vryburgers, die meeste koringboere. Die ander vryburgers het hulle in die omgewing van die Fort as onder andere messelaars, kroegbase, skrynwerkers en vissers gevestig.
Die volgende Afrikaanse stamvaders is twee uit duisende wie se gegewens in VOC-monsterrolle verskyn het, maar na afloop van hulle dienstyd ontslag gevra en toe vryburgers geword het:
VC39/2 Monsterrol, 1656 Pieter Vijsagie, Antwerpen, “bootsman” Betekenis van sy van: letterlik ‘gesig’. Dit kon egter ook ’n afleiding wees van die dorpnaam Vis naby Calais, Frankryk. Pieter Visagie is in ongeveer 1630 gebore waarskynlik as die seun van Guilielmus Visagie en Catharina Wouters van Noorwegenplaats, Lange Schipperskapelstraat, Antwerpen. Hy het voor 1657 met die Koudekerke van Nederland af in die Kaap aangeland. Nadat hy sy ontslag verkry het, het hy as vryburger gaan boer. Hy was getroud met Catharina Kien/Kiens/Kienst van Ter Veere, naby Brussel, en hulle het twee kinders gehad. Hy kom in ongeveer 1681 te sterwe.
Nationaal Archief: 12653 Monsterrol 1700 Willem Willemsz: van Zijl, Delft, ond:r tuijnier Betekenis van sy van: Dit is die naam van ’n dorp in Suid-Holland. Willem van Zyl is in 1666 in Delft gebore. In 1694 trou hy met Christina van Loveren in die Oude Kerk, Amsterdam. Hy kom waarskynlik in 1697 met sy vrou en twee kinders in die Kaap aan. Die egpaar het ses kinders gehad. Willem van Zyl was die meestertuinier in diens van die VOC en het gewerk op Rustenburg, ’n plaas in die Rondebosch-omgewing. In 1702 koop hy die plaas Rust-en-Vrede naby Simondium. Nadat hy deelgeneem het aan die opstand teen Wilhem Adriaen van der Stel in 1706, is hy en agt ander burgers gedagvaar om voor die hof te verskyn. Toe hulle nie opdaag nie, is elk met 200 riksdaalders beboet en vir 5 jaar na Mauritius verban. Hy was van 1717 tot 1724 heemraad vir Drakenstein. Willem van Zyl is in 1727 oorlede.
2.4 Slawe
Omdat soveel werk te doen was in dié jong nedersetting en dit steeds toegeneem het namate die Kolonie uitgebrei het, was daar voortdurend ’n groot tekort aan en vraag na arbeiders. Daar was ’n mate van arbeid in die oestyd en later as veewagters, deur die Khoi, maar dit was onvoldoende. Aangesien daar heeltemal te min VOC-dienaars en vryburgers was om die werk te doen, was die enigste uitweg om van slawearbeid gebruik te maak. Slawe is nie net in die Kaap gebruik nie, maar was later ook op die platteland in groot aanvraag.
Die slawe wat na die Kaap gebring is, was veral afkomstig van die eilande van Indonesië, Bengale in die noordooste van Indië, die Kus van Koromandel in Suid-Indië, Maleisië, Madagaskar en die kuste van Afrika, onder andere Guinee, Angola en Mosambiek. Volgens die slawehandelaars en -eienaars was die slawe uit Madagaskar besonder geskik vir die landbou, terwyl die Angolese slawe swaar arbeid kon verrig. Die slawe uit Indië en sommige plekke in Indonesië is besonder gewaardeer vanweë hul vaardighede as ambagsliede.
Die slawe en slavinne van Bengale het na hul vrystelling skynbaar die beste in die Kaapse samelewing gevaar. Die eerste vrygestelde slavinne was Katrina van Bengale, Maria van Bengale en Angela van Bengale. Op 14 Maart 1680 (C.14) word Maria van Bengale se versoek om vrystelling aan die Raad voorgelê en goedgekeur.
Met die koms van die slawe na die Kaap, moes Van Riebeeck toesien dat niemand Portugees, die lingua franca in Asië, met slawe praat nie en dat geen ander taal as “ons Moedertaal” teenoor hulle gebruik sou word nie. Die Kompanjieslawe se kinders het onderrig in Nederlands ontvang, hetsy in die slawelosie of in die ander Kaapse skole. Dit blyk dat die slawelosie se “Schoolmeesters” van wie daar in die Resolusies berig word, die “Neederduijtsche Taal” volkome magtig was: Hans Jacob Jurgen van de Caab, op die boeke bekend as Hans Jacob van Mariabeen, doen aansoek om vrygestel te word (2 Junij 1744, C.122); hy kon Nederlands vlot praat en was toe reeds omtrent 15 jaar skoolmeester. Een van die vereistes om uit slawerny vrygestel te word, was juis die bewys dat die aansoeker die “Neederduijtsche Taal” volkome magtig was. Die tweede vereiste was dat die aansoeker die Christelike geloof aanvaar en gedoop word. Die derde en laaste vereiste was dat die aansoeker ’n slaaf, liefs ’n “kloeke manslaaf” in sy of haar plek moes kon aanbied of anders die geldsom gelykstaande aan sodanige slaaf aan die Kompanjie moes betaal alvorens hy of sy vrygestel sou word.
Angela van Bengalen
In 1655 koop Jan van Riebeeck die slavin Angela van Bengale(n) by Pieter Kemp. Toe Van Riebeeck se kleindogter, Johanna Maria, die Kaap in 1710 besoek, skryf sy in ’n brief van “Ansiela”, die vrou wat haar vader en sy broers en susters (d.w.s. die Van Riebeeck-kinders) opgepas het. Sy skryf verder dat Ansiela later met ’n Hollander getroud is en dat haar dogter die vrou van kaptein “B.” was. Dit is inderdaad so dat “Maai” Ansiela, ná haar vrystelling met Arnoldus Basson getroud is en die stammoeder van die Basson-familie in Suid-Afrika geword het. (Maai is blykbaar afgelei uit moei ‘tante’ [1e keer gedokumenteer 1201-1250] wat eintlik die vleinaam is vir moeder. WNT).
Terwyl Angela nog ’n slavin was, is haar dogter, Anna de Koning, uit ’n buite-egtelike verhouding met ’n Europeër gebore. Anna was nie net mooi van aansien met fynbesnede gelaatstrekke nie, maar was ook geletterd en het met ’n vaste hand dokumente onderteken. Sy was met kaptein Oloff Bergh getroud en het op haar beurt die stammoeder van die Bergh-familie in Suid-Afrika geword.
Anna de Koning
Soos soveel ander inwoners van Cabo gedoen het, het Angela waarskynlik ook vendusies bygewoon, hoewel sy self min aangeskaf het te oordeel aan die min kere wat haar naam in die vendurolle voorkom. Op 15 Maart 1719 koop sy as Maij Ansla “1 zadel met 1 kruithoorn” vir 1 riksdaalder op die vendusie van wyle die vermoënde Engela Breda (MOOC10/2.19). Haar naam verskyn weer in haar oorlede seun Michiel Basson se vendurol gedateer 21 November 1719, aangesien die goedere “ten huijse van Ansla van Bengalen zijn verkogt”. Al wat sy toe gekoop het, was “1 mantje met poppe goet” teen 4:5 riksdaalders – dalk om iets daarvan vir die kleinkinders te maak? (MOOC10/2.17)
Ansla van Bengalen se boedelinventaris is gedateer 18 Julie 1720 (MOOC8/4.15). Ek het probeer bepaal hoe oud sy ten tyde van haar dood kon wees. Veronderstel dat sy 15 was in 1655, dan was sy 80 in 1720, wat werklik ’n hoë en soos ons sê ’n geseënde ouderdom vir daardie tyd was.
Die erfgename tot hierdie boedel behorende was die volgende:
“Anna de Koning, huisvrouw van den edle capitijn Olof Bergh Catarina van der Sanden getrouwe met Gijsbert la Febre Arnoldus Maasdorp Jan van As, Matthijs van As, Willem van As – kinderen van Jacobus van As Arnoldus Basson, Matthijs Basson – kinderen van Willem Basson Arnoldus Basson, Michiel Basson, Jan Basson – kinderen van Michiel Basson”
[Sowel Anna de Koning as Jacobus van As was voorkinders van Angela van Bengalen.]
Angela het volgens haar inventaris ’n “thuijn” in die Tafelvalleij besit. Die volgende vertrekke word in die dokument genoem: ’n kamertjie aan die regterhand waar o.a. gelys word “1 paar silvere gespen toebehorende Arnoldus Willemse Basson”, haar oorlede man, “1 schilderij van Willem Basson”, haar oorlede seun. Dan was daar nog “5 hemden, 1 lakens, 7 kussen slopen by juff:r Bergh” (Anna de Koning). Die volgende vertrekke of plekke is ook gelys, naamlik die “combuis, voorhuijs, solder, afdakje, thuijnhuis” (met tuin- en ander gereedskap), “kelder” en “bottelary”. Volgens die inventaris het sy ook 5 slawe, 39 stuks bokke en ’n buiteplaas genaamd Hondswyk besit. Die slawe in Cabo was Jan Swart van Mallebaar, Louis van de Kust, Augustus van Bengalen, Martha met haar kind en Susanna met haar kind.
Op 23 Augustus word Ansla van Bengalen se besittings in die Tafelvallei verkoop. Die Bassons het niks gekoop nie, maar Oloff Bergh het wel ’n paar items gekoop, o.a. “1 vrouw zadel” “1 silver snuifsdoos weegt 2 loot”, “1 bett met een peuluw”, 2 goue ringe elk met ’n steentjie, “1 kist met cooper beslag” en “1 jonge genaamt Jan Swart van Malle Baaren”. Die twee slavinne is ook verkoop: “1 meijd met een kindt genaamt Marta” aan Hendrik Ewersdeijk (die name het hier ’n bietjie verkeerd geloop), en “1 meijd Sussanna met haer kind” aan m:r Richter. (MOOC10/2.13). By dieselfde vendusie is “een meijd genaamt Petronella van de Caab met haer kind” teen 141 riksdaalders aan Tomas Verrijn verkoop vir die rekening van die erfgename van wyle Michiel Basson. (MOOC10/2.17 1/2)
Die vendurol van 14 September 1720 bevat die verkoopte goedere op Angela se plaas genaamd Hondswijk. Dit is ook heeltemal ander persone wat na die veiling gekom en goed gekoop het, omdat die plaas op die platteland geleë was. Vanne soos Viljoen, Roux, Marais, Lombart, De Plaisij, Zeenekal, Van Wijk, Meijboom, Roos, Prinslo, Pinar en De Venter kom voor – geen Basson of Bergh nie. Daar was slegs 3 slawe op die plaas, naamlik Pieter, Trompetter en Claas, al drie van Madagaskar wat deur onderskeidelik Hendrik Mholl, Wouter de Vos en Pieter Willemsse van Heerden gekoop is.
2.5 Bannelinge is bandiete
Die woorde balling en banneling beteken dieselfde. ’n Bandiet was ook iemand wat verban is. Tans is die woord verouderd in Nederlands maar kom wel nog in Afrikaans voor waar dit verwys na ’n veroordeelde wat tronkstraf ondergaan.
Die woord tronk (in tronkstraf) is tans eie aan Afrikaans. Dit kom uit koloniale Ndl. tronk (1663) en is ontleen aan Port. tronco ‘blok waarin voete van misdadigers gesluit word’, asook ‘gevangenis’.
2.5.1 Algemeen
Sedert die begin van die 18e eeu het die Kaap ’n plek geword waarheen bannelinge asook misdadigers wat lang vonnisse deur die howe in Oos-Indië opgelê is, gestuur is. Die volgende plekname wat in die “Bandietenrollen” voorkom, gee ’n aanduiding waar hierdie howe in die Ooste geleë was, naamlik Batavia, Nagapatnam, Colombo, Jassanapatnam, Samarang, Gale en Cheribon.
Alle soorte mense is van Oos-Indië en Suid-Asië na die Kaap verban. Aan die begin was die meeste van hulle politieke gevangenes en geestelike leiers, asook persone van hoë stand wat vanweë ’n verskeidenheid redes by die owerhede in hul lande van herkoms in onguns verval het. Later is daar egter ook misdadigers hierheen gestuur.
Onder die bannelinge was lede van koninklike families (wat in talle gevalle deur hul entourage vergesel is), hoë amptenare, gebieds-/gemeenskapshoofde en vyande van die staat. Ons het deurentyd Oosterse koninklike titels, range en benamings in die transkripsies teëgekom: woorde soos: Bappa/Pappa ‘heer’, Dipati, ‘regent van die eerste rang’, Orangkaja ‘dorps- of landschapshoofd’ (Mal. lett. ‘rijk mens/man’), Patih ‘titel vir Maleise en Javaanse hoofde, oorspr. heer’, Raden ‘inheemse titel op Java-lid van die vorstelijke geslag van mindere rang as ’n pangeran’, Radja ‘Koning’ ook ‘titel van ’n dorpshoof van hoë status’ en Sultan ‘in Persië het ’n sultan die betekenis van goewerneur van die 2e rang gehad’.
Oosterse adellikes is gereeld na die Kaap verban. Indien hulle as gevaarlik beskou is, is hulle na Robbeneiland gestuur. Ander Oosterse bannelinge is toegelaat om in die Kaap en in die distrikte te woon.
Een sodanige geval was dié van twee Javaanse broers, pangeran Loring Passir en pangeran Dipa Nagara. (Pangerang is ’n adellike titel wat op Java gebruik is vir die seuns van regerende vorste, en ’n adellike titel in Oos-Indië vir ’n inlandse prins of persoon van hoë rang.) Aan die hand van die Resolusies was dit moontlik om ’n oorsig te verkry oor hulle doen en late waarby die Politieke Raad belang gehad het. In 1716 het die VOC aan Loring Passir huisvesting in Stellenbosch verskaf. Toe Dipa Nagara en sy gevolg in die Kaap aankom, het hulle sedert 1724 die huisvesting met die Passir-huishouding gedeel.
Aan die hand van gegewens in die Resolusies en ander argiefbronne kon selfs die ligging van die stuk grond bepaal word. Die navorsing oor die prinse se lewe aan die Kaap is gepubliseer in Capensis 2/2007 onder die titel “Oosterse Adel aan die Kaap. Gedokumenteerde verhaal van die prinse Loring Passir en Dipa Nagara”.
2.5.2 Oosterse bannelinge gekoppel aan ’n bepaalde geloof
Die bekende uitdrukking “Christen, Moor en Mohammedaan” wat ‘almal’ beteken, kom goed te pas wanneer daar vanuit ’n godsdiensperspektief gekyk word na diegene wat as straf uit die Ooste na die Kaap verban is.
Daar was godsdiensleiers, soos Norman/Noriman, ’n ‘Mahometan’ priester van Batavia wat lewenslank na die Kaap verban is, saam met sy dogter Nogie en seuns Kassar en Koerie (1784), CJ2568). In ’n hele paar vorige lyste waarin die priester se naam verskyn, word dit nou en dan gevolg deur dié van sy dogter, maar is slegs een keer ook deur dié van sy seuns. So begin mens naderhand vermoed dat die familielede dalk by dieselfde oortreding betrokke was en dieselfde straf ontvang het; dit kon egter ook wees dat die kinders jonk was en sonder hulle vader geen heenkome in die Ooste gehad het nie. Die pleknaam, Batavia, is slegs in een geval aan hom gekoppel, naamlik in die lys van 3 Junie 1788. Dit blyk duidelik uit hierdie geval hoe stukkies inligting oor dieselfde persoon oor ’n tydperk langsaam vermeerder omdat die gegewens in verskillende lyste voorkom of soos hier die geval, ook saam met die name van gesinslede. Minte, ’n voormalige prins van Ternaten wat op 24 October 1766 tot lewenslange gevangenskap aan die Kaap gevonnis is, is een keer verkeerdelik as ’n priester gelys.
Buiten om soos in bogaande geval spesifiek na ’n Mohammedaanse geestelike te verwys, is daar nie oor die algemeen melding gemaak aan watter geloof die bannelinge behoort het nie; hieruit wil dit voorkom asof Mohammedanisme as die norm beskou is. Die rede vir hierdie aanname is dat daar elke keer wanneer ’n Christen ter sprake was, dit duidelik gestel is. Ook wanneer ’n persoon as ’n Moor beskou is, is hy as sodanig in die lyste aangedui. Aansluitend hierby is die volgende paar benamings wat in ons transkripsies voorgekom het:
Wat Moslems betref
Moor: dit is die naam waarmee daar in Voor-Indië na ’n Mohammedaan verwys is. In die ou generale missive is moor oor die algemeen gebruik om na Moslem te verwys. Geleidelik het die betekenis verander om te verwys na ’n (Moslemse) onderdaan van die grootmogol van Ceylon.
’n Imam is die voorganger by die salat (die rituele godsdiensoefening wat vyf keer daagliks deur die Islam voorgeskryf word). By uitbreiding kry die woord die betekenis van ‘leier van die Moslemgemeenskap’.
Kaffer was die algemene benaming vir die ‘diefleiers’ (dienaars van die fiskaal wat belas was met die aanhou en teregstelling van diewe en ander misdadigers of oortreders). Dit was meestal gespierde negers uit Angola of Mosambiek. Die woord kaffer is geleen uit Arabies kafir ‘ongelowige, nie-Moslem’.
Wat Hindoes betref
Gentief: dit is die naam waarmee daar in die VOC-tyd in Voor-Indië na ’n hindoe verwys is (meervoud gentieven). Aanvanklik het dit verwys na die hindoes wat Telugu gepraat het. Die word kom uit Portugees gentio ‘heiden’.
Guru: dit verwys na ’n leraar, hoof van die Sikh-sekte.
Wat Christene betref
Inlands Christen, verwysend na Mardijker.
Mardijker het oorspronklik verwys na ’n vry inlander wat buite sy eie stamland woon; ook vrygelate slaaf en sy afstammelinge. Omdat die Christenslawe eerste in aanmerking gekom het vir vrylating, word mardijker herhaaldelik gebruik in die betekenis van ‘inlandse Christen’. Maleis merdika beteken ‘vry’. Ook in die stad wonende vrye Asiaat van nie-Ambonese afkoms.
Toepas, ook topas, in ons boeke dikwels ook toepasserij (meervoud). Dit is die benaming van ’n vry Christen-inlander op Malabar, Coromandel en Ceylon, veelal vrygelate slawe, vergelykbaar met die mardijker. Moontlik was hulle afstammelinge van gemengde bloed, hoewel oorwegend van inheemse herkoms. Prakties was hulle inlanders. In Cochin het die VOC hulle as burgers erken. Hulle het gedien onder andere as soldate, ambagslui en arbeiders.
Wanneer ’n banneling in ons transkripsies tot die parrua of “parruas” behoort het, is dit aangedui. Hierdie mense was St. Thomas Christene en lidmate van die Siriese Kerk in Indië en skismatiese (afgeskeie) Christene onder die Siriese Patriargaat.
Die Parruas was afkomstig van die kus van “Mandurai” en het hulle uitsluitlik op pêrelduikery toegelê. (Die pleknaam is eintlik Madurai, wat nie verwar moet word met Madura in Indonesië nie.)
Hulle het gewoonlik ook Portugese voor- en familiename gehad. In 1725 het “parua” Manuel Francisco de Coenje aan boord De Jacoba in die Kaap aangeland. Tien jaar later is Michiel wat in Jaffanapatnam uit die “paruas geslacht” gebore is, na die Kaap verban. Volgens ’n inskrywing van 6 Oktober 1757 is Christiaan Parra, ’n Christen uit die Ooste, teruggestuur na Batavia na ’n vonnis van 15 jaar aan die Kaap (CJ3190).
Die verhale van veral twee Christen-gevangenes wat in hierdie kategorie val, is so interessant dat ek dit graag aan u wil vertel. Hulle was Nicolaas Ondaatje en Manuel Thuart.
Nicolas Ondaatje was in die eerste plek ’n “chittij” (kassier). [Chitty was in Agter-Indië die naam vir lede van die handelskaste; persoon behorend tot ’n groep mense wat hulle met die geldhandel besig hou, dus ’n kassier of bankier. Dit lyk asof hulle tot verskillende kastes kon behoort, maar wel gelyke leefreëls volg; handelskaste van Indiese oorsprong, op Ceylon aangedui as Colom chetties. In die agtiende eeu is daar hindoe-, katolieke en protestantse chetties aangetref.] Nicolas Ondaatje was ook die voormalige “cannecappul” (skrywer, boekhouer en tolk) van die eerbare predikant Joan Bernhard Noordbeek. [Cannekappel was ’n inheemse skrywer, boekhouer, administratiewe amptenaar, ook tolk op Coromandel.]
Hy en ’n ander Christen, Pattenaike Appoehami, wat ’n senior onderwyser aan die “Maturees Appohamijs school” was, het in 1728 met die Huijs Assenburg in die Kaap aangeland. [“Maturees” is afgelei van Madurai, ’n stad in die Indiese staat van Tamil Nadu. Apuhami/Appohami is die Singalese titel vir ’n man uit ’n goeie huis, ’n landjonker; eretitel vir die seuns van hoofmanne.]
Volgens die stukke wat voorgelê is aan die hof in die Kasteel in Colombo op 24 Oktober 1727 en die ekstrak-resolusie gedateer 9 November 1727 is Nicolas Ondaatje en Pattenaike Appoehami skuldig bevind aan afpersing (“concussie ofte knevelarij”); hulle moes die geld wat hulle op hierdie wyse van inlandse skoolmeesters verkry het, terugbetaal. Albei is eers “strengelijk gegeezelt” en toe vir tien jaar na die Kaap verban. Volgens ’n latere nota wat in die kantruimte geskryf is, is hulle tydens die uitdien van hulle vonnis aan die Kaap oorlede (CJ3186). In Ondaatje se geval kan dit bevestig word deur sy inventaris gedateer 2 September 1737 en sy vendusierol gedateer 5 November 1737 (onderskeidelik MOOC10/4.154 en 155). ’n Deel van sy karige besittings is verkoop aan huis van Jacob van Rhenen en die die res op die plaas van Daniel Walters. Laasgenoemde wat uit 1 langbroek, 1 baadjie, 1 sakdoek en twee boeke bestaan het, is vir 1:7 riksdaalders deur Hendrik Debits gekoop.
Hierdie geval was weereens bewys van die moontlikheid en voordeel van kruisverwysing tussen die onderskeie reekse wat in die projek getranskribeer is. Een van die lêers uit die MOOC14-reeks bevat briewe en ander dokumente van besondere waarde omdat hulle baie oor sy persoonlike lewe gedurende die nege jaar van sy verblyf aan die Kaap openbaar. Die dokumente wat deur Ondaatje geskryf is, is op netjiese en ordelike wyse gedoen, terwyl sy vaste handskrif, beroep en vaardighede op dié van ’n geleerde en opgevoede man. Uit sy korrespondensie blyk duidelik dat hy vlot Nederlands kon skryf en praat.
In die miniatuur “Memorie Boeck van Nicolaas Ondatie”, het hy ’n lys gemaak van die skoliere vir wie hy tussen 1733 en 1736 onderwys gegee het. Aan die hand van die vanne sal bepaal kan word waar hy daardie tyd gewoon en gewerk het: Fori-kinders, Leries, Radijn, Fose, Malherbe, De Jager en Haarhoff. In die ander dokumente in Westerse skrif word na hom verwys as die “vrijswart Nicolaas Ondatie van Colombo”. Hy was ’n gerespekteerde vry man aan die Kaap. Sy voornaam en familienaam is hier gespel soos hy dit self geskryf het. [Uit onlangse navorsing blyk dat sy familienaam van Tamil-oorsprong is.]
Afgesien van korrespondensie wat aan die Kaap gevoer is, is een van die grootste vondse gevind in die sublêer getitel “Aan Koomende Brieffen van Colombo en Gale" van 1728 tot 1735. ’n Hele aantal is geskryf deur familie en vriende in Gale en Colombo (vergelyk kaart van Indië en Ceylon). Op die koeverte staan onder andere “Monsieur Nicolaes Ogendatie, scool meester tot Cabo de Goede Hoop”, terwyl die Portugees ook goed deurslaan met “Ao Sen:r Nicolas Ontatthi cette em morado de Cabo de Boespiransa”.
Nicolas Ondaatje 1728-1737 (MOOC14/8) Versameling briewe deur familie en vriende. Memorie-boekie.
Hierdie briewe is blykbaar geskryf in Singalees “a rather aberrant form of Indo-aryan in the southern part of Ceylon” (Parlett, page 113). In die boonste linkerhoek van elke brief het Ondaatjie in Westerse skrif die naam van die sender en die persoon se woonplek geskryf, onder andere ‘van my moeder Joliana Ondatie Colombo’, ‘van Philip Jurgen Ondatje Colombo’, ‘van Matthijs Jurgen Ondatje Colombo’, ‘van Tomis Christoffel Colombo’, ‘van my moeder Juliana Roderigo van Colombo’, ‘van Willim Jurgen Ondatje Colombo 17 3/18 30’ en ‘van Evert Perera Gale’ (MOOC14/8). Hy het slegs twee briewe van sy moeder af ontvang, die laaste een in 1729. Later het die familie en vriende waarskynlik ook nie meer geskryf nie, want na 1735 is daar slegs korrespondensie wat aan die Kaap gevoer is. Die laaste brief in die lêer handel oor die twee guldens en tien stuijvers wat afgetrek word van die Ondatji-boedel vir die “salaris” en “coelie geld” verskuldig aan die Weeskamer vir die vendusie. Die datum was 30 Junij 1738. [Tans word die briewe in die Ooste vertaal en voorberei vir verdere navorsing.]
Net ’n laaste opmerking oor die taalnaam. As woord kom “Cingalees” dikwels voor in die “Bandietenrollen”. Dit word gebruik in die kolom waar die gevangene se plek van herkoms verstrek word. Interessant dus dat die taal wat hulle gepraat het dít was wat hulle onderskei het van die ander mense aan wie egte plekname gekoppel is.
In die Resolusie van 27 Maart 1759 (C.137) is genotuleer van twee Cingaleese, Leander de Saram en Louis Perera wat toe pas van Stellenbosch na Swellendam oorgeplaas is. Landdros Adriaan van Schoor van Swellendam het sewe briewe onderskep wat deur hulle in Cingalees aan mense op Colombo en Punto Gale geskryf is. Juis omdat dit in Cingalees geskryf is, daar niemand in Swellendam die taal magtig was nie en die inhoud dus onbekend gebly het, is daar besluit om die briewe met die skip Walcheren aan die Regering op die eiland Ceylon te stuur. Hopelik het die geadresseerdes uiteindelik darem hulle Kaapse briewe ontvang.
Een van die interessantste “parrua”-verhale handel oor Manuel Doeart wat in 1747 op die Scheibeek in die Kaap aangekom het (CJ3186). Sy naam is ook dikwels in die Resolusies van die Politieke Raad genoem, waar dit geskryf is as Manuel Thiart/Thuart, wat klink soos ’n vernederlandsing van die Portugese Duarte.
Op 19 Julie 1746 is 5 “paruassen” waaronder Manuel Doewart, in die Kasteel van Colombo gevonnis om met roede gegesel, gebrandmerk en in kettings geplaas te word en om 25 jaar as bannelinge aan die Kaap te bly. Hulle is aangekla daarvan dat hulle die pêrelbanke besteel en gehelp het om hierdie pêreloesters te vervoer na Namenadewaran waar hulle dit probeer verhandel het. (CJ2564) Volgens ’n latere inskrywing moes Manuel Doeart van die “Paruassen” homself volgens vonnis aan die Kaap onderhou en as duiker vir die Kompanjie optree (1761, CJ3189).
Soos gewoonlik is veral Manuel se familienaam op verskillende wyse geskryf: Doewart (CJ2564, CJ3188), Doeart (CJ3188) Duart (CJ3188) Doual en selfs Manuel van Douart, asof dit ’n pleknaamverwysing was (CJ2568) – almal was in bandietlyste van die slawelosie. Die opvallendste inskrywing was op 6 April 1778 as “Mamoet, Manuel Douart”, en net daaronder “Saijoet, Saaijht van Palanbang” – is dit dalk ’n dikteer- of luisterfout?
Op 18 Februarie 1755 word in die Resolusies (C.133) berig van Manuel Thuart van “Tutucorijn”, lid van die “Caste Parua” wat hulle op pêrelduikery toegelê het. [Tuticorin is ’n dorp geleë in Suid-Tamil Nadu, Suid-Indië, aan die Golf van Mannar, wat in 1658 deur die Nederlanders oorgeneem is.]
Die skip Deunisveld het digby die kiel aan stuurboord ’n lekkasie ontwikkel en die amptenare belas daarmee, was bekommerd hoe dit herstel kon word. Hulle het besef dat hulle die diens van “een bequaam Duijkelaar” moes verkry om onder water ondersoek na die lekplek te gaan instel. Hulle onthou toe van die bandiet Manuel Thuart wat as gewese pêrelduiker net die regte persoon vir dié opdrag sou wees. Hy het op twee opeenvolgende dae tot sewe keer geduik, telkens 5 tot 6 minute onder water gebly en kon albei sye van die skip deeglik bekyk. Volgens hom kon die skeur aan die romp van binne herstel word.
Omdat Manuel hom met soveel ywer so goed van sy taak gekwyt het, het die Politieke Raad besluit dat hy nie langer bandiet sou wees nie. Goewerneur Tulbagh het ingestem dat Thuart 30 ryksdaalders as vergoeding ontvang. Hy is ook gekies as ekspedisielid om met die skip Schuijlenburg na die kontant en ander goedere afkomstig van die gestrande skip Breedenhoff by Delagoabaai te gaan soek. Tydens die Raadsvergadering van 10 Februarie 1756 (C.134) is berig dat die soektog volgens die joernale van skipper Hans Harmensz. en “commies” Dirk Westerhof vrugteloos was. Daar is nie weer in die Resolusies enigiets oor Manuel Thuart berig nie.
Ongelukkig het dié verhaal vir hom toe nie op volgehoue vryheid uitgeloop nie. Heel gou is daar van die goewerneur se toegewing vergeet, want enkele jare na die ekspedisie in 1761 – nog tydens Ryk Tulbagh se bewind – kom sy naam steeds voor in die naamrolle van bandiete wat in die slawelosie gewoon het (CJ3189). Hy is ook gelys in 1778 (CJ3189), in 1780 as “Manie Douart” (CJ2568), in 1781 as “Manuel Douart, duijker” en in 1782 net as “Manuel”. In 1783 is daar berig dat hy oorlede is in die tyd wat verloop het sedert die vorige lys in 1781 opgestel is. In die Slawelosieregister is aangeteken dat “Manuel Doual” op 9 Augustus 1782 as “bandiete kloeke jonge” oorlede is. (C.2628, folio 14).
3. Ten slotte
Ons het vandag die groot seë bevaar en talle mense op ons verledetydse togte ontmoet. Deur die toeganklikmaking van ons kosbare argiefskat is ons toegelaat om darem ’n venstergrootte blik te mag hê op wat daar alles nog in die uitgestrekte verlede verdig lê.
Bronne
Benewens die primêre bronne wat in die teks genoem word, is daar ook van die volgende sekondêre bronne gebruik gemaak: Morris, William, editor. 1973. The Heritage Illustrated Dictionary of the English Language. McGraw-Hill International Book Company. Odendal, F.F. and R.H. Gouws. 2000. HAT. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Perskor, Midrand. Pama, C.1983. Die groot Afrikaanse Familienaamboek. Human & Rousseau vir Leserskring. Kaapstad. Van Veen, P.A.F. en Nicoline van der Sijs. 1997. Etymogish woordenboek. Van Dale Lexicografie, Utrecht/Antwerpen.
Die Vrede van Vereeniging
Helena Liebenberg
Inleidend
Eenhonderd en ses jaar gelede, op die dag na, is die Vrede van Vereeniging tussen die Boere-verteenwoordigers en die Engelse bevelhebbers onderteken. Dit was Saterdag, 31 Mei 1902. Op hierdie dag het die bloedigste oorlog wat nog ooit op Suid-Afrikaanse bodem gevoer is, ten einde geloop.
Die deel van die bevolking van die twee gewese Boere-republieke – die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Republiek van die Oranje-Vrijstaat – wat die hel van die oorlog oorleef het, het ontredderd en verslae teruggekeer huiswaarts: die mans van die slagveld af en die vroue, kinders en oumense uit die talle konsentrasiekampe landswyd. ’n Groot getal Kaapse rebelle wat hul broers en volksgenote tydens die oorlog getrou bygestaan en saam met hulle op die slagveld was, asook ondersteuners uit veral die stamlande wat aan Boerekant geveg het, het net so swaar gely in die stryd. Duisende swartmense wat van die plase af weggevoer is, het in afsonderlike konsentrasiekampe gesterf. Min het aan die oorlog en die gevolge daarvan ontkom.
Smartdeurdrenkte mense – mans, vroue en kinders – wat in hierdie tyd soveel geliefdes moes afstaan aan die dood, het geen keuse gehad nie as om oor ’n swartverskroeide aarde heen terug te keer na hul plase wat nie meer was nie, na hul wonings waarvan net die verbrande murasies oorgebly het, na bykans niks aan aardse rykdom nie.
Met onwrikbare geloof in en vertroue op God, met vaste hoop op die toekoms en ’n diepgewortelde liefde vir die gesin, volk en land as hul geestesrykdom het hierdie mense egter vasberade opgestaan uit die puin. Hulle het weer begin boer – en die oes was goed.
Die wêreld het voortbeweeg en daarmee saam diegene as 21ste-eeuse voortdraers van bepaalde karaktereienskappe wat kenmerkend van dié van hul voorouers is, soos onder andere die strewe na (innerlike) vrede en vryheid, volharding, deursettingsvermoë, trots op die eie, vergunning aan ander wat jy jou en joune gun, en trou aan die Opperwese.
Die Vredesluiting Broers, ons het besluit om tot die bittere einde te staan; laat ons soos manne erken dat daardie einde vir ons gekom het, in bitterder vorm gekom het as wat ons ooit gedink het. Vir ’n ieder van ons sou die dood ’n soeter en sagter einde gewees het as die stap waartoe ons nou sal moet oorgaan. Maar ons buk voor Gods wil. Die toekoms is duister; maar ons sal die moed, die hoop, die vertroue op God nie prysgee nie.
Dit was die woorde van genl. J.C. Smuts aan sy mede-Boerestryders op die oggend van 29 Mei 1902. Hulle was byeen in die Tent van Samekoms op Vereeniging vir die aanvang van die vredesonderhandelinge wat ’n einde sou bring aan die Tweede Vryheidsoorlog, ook bekend as die Anglo-Boereoorlog. Hierdie stryd het reeds sedert 11 Oktober 1899 oor die hele land gewoed. Volgens die vredestraktaat, waarvoor net "ja" of "nee" gestem moes word, sou die twee Boererepublieke hul onafhanklikheid inboet.
Melrose-huis in Pretoria, waar die ondertekening van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 ’n einde aan die Tweede Vryheidsoorlog gebring het.
In Mei 1902 het sestig Boere-leiers met Britse verlof by Vereeniging vergader om oor vrede te besluit. Op 15 Mei tref die afgevaardigdes daar alles in gereedheid aan. Hulle is in twee ruim tente gehuisves, terwyl samesprekings in ’n groter tent in die middel van die terrein gevoer is.
Tydens die eerste vergadering is genl. C.F. Beyers tot voorsitter verkies en kry elke afgevaardigde die geleentheid om die toestand in sy kontrei te bespreek. Genl. Smuts wat pas teruggekeer het van Okiep het berig dat daar geen hoop op ’n algemene opstand in die Kaapkolonie was nie. Dit blyk ook dat net ’n paar generaals kans sien om die stryd voort te sit, onder andere genl. Christiaan de Wet van die Vrystaat. Die toesprake is ernstig en boeiend. Elkeen praat uit die hart en skets die omstandighede in sy eie distrik.
Die volgende dag word besin oor die moontlikheid om ’n deel van die land, waaronder die Witwatersrand, af te staan sodat die res van die volk in vryheid kon lewe. Die brandende vraag was: Sou die volk kon voortbestaan indien die leiers sou besluit om aan te hou veg? Hoewel die toekoms duister was, wou niemand onvoorwaardelik oorgee nie. Ná baie gesprekvoering is daar toe ’n kommissie van volksverteenwoordigers na Pretoria gestuur om oor voorwaardes van oorgawe te onderhandel.
Die voortbestaan van die volk het inderdaad die Boere-afgevaardigdes by Vereeniging in hul diepste wese aangegryp. Hul taal, hoe belangrik ook al, was maar ’n klein onderdeel van die reusagtige probleem wat hom in die ure van beslissing onontwykbaar opgedring het. Hoe kon die volk wat met soveel heldemoed so bitter swaar gestry, gely en geoffer het, gered word? Deur voort te veg totdat daar miskien geen volk meer oor is nie, of die wapen neer te lê en die bitter smaak van nederlaag, die demoralisering, die verlies van onafhanklikheid en politieke magteloosheid te aanvaar?
Dit was in die opweeg van hierdie geweldige alternatiewe dat die taalkwessie vir die eerste keer op 16 Mei 1902 in Kestell en Van Velden se notule van die konferensie vermeld word. Genl. Louis Botha was aan die woord. Hartroerend het hy gepleit dat die hopeloos geworde stryd gewonne gegee moes word voordat die reeds so diep beproefde volk totaal geruïneer was. Laat hulle, terwyl die geleentheid nog daar is, die beste moontlike voorwaardes beding. "Indien wij onze onafhankelijkheid niet kunnen behouden, laten wij dan trachten Verantwoordelijke Bestuur te krijgen ... Laten wij ook trachten om de rechten van de Hollandsche taal, onze taal, te behouden. Gij weet, hoe lang het genomen heeft, voordat men in de Kaapkolonie de rechten dier taal eenigszins erkend kreeg. Zullen wij niet trachten, die rechten vastgesteld te krijgen, nu wij de kans ertoe hebben?" (Zietsman: 38).
Dat die Boere-onderhandelaars nie juis daarin geslaag het om die regte van hul taal vasgestel te kry nie, moes reeds vir die afgevaardigdes by Vereeniging duidelik gewees het. Naas Stoffberg en Kemp was dit egter slegs J. Naudé van die Pretoria-kommando en die 'losse kommando' onder genl. De la Rey, wat kommer daaroor uitgespreek het. Volgens Naudé was dit ’n vaste opdrag van sy burgers dat die regte van die Hollandse taal gewaarborg moes word; die taal "die van zoveel beteekenis is voor het volk en een kanaal is, waardoor het volk weer volk kan worden" (ibid.: 39).
Op Maandag 19 Mei begin die onderhandelinge tussen genls. Louis Botha, Koos de la Rey, J.B.M. Hertzog en Jan Smuts aan die een kant, en Alfred Milner en genl. Herbert Horatio Kitchener aan die ander kant. Dit word ’n taai stryd en op 21 Mei stel Hertzog, Smuts, Kitchener en sy regsverteenwoordiger, Richard Solomon, ’n konsepvoorstel op om aan die Britse regering voor te lê. Op 28 Mei kom die finale vorm van Londen terug. Die voorstelle moet voor die einde van Mei in die geheel deur die Boere-afgevaardigdes aanvaar of verwerp word. As hulle dit sou verwerp, word die stryd voortgesit.
Op 29 Mei word die voorstelle in die Tent van Samekoms op Vereeniging bespreek. Pres. M.T. Steyn was ernstig siek en kon nie aan die samesprekings deelneem nie; gevolglik is genl. De Wet in sy plek as Vrystaatse president beëdig. By die aanvang van die bespreking stel genl. Koos de la Rey die vraag: "Wat is geloof? – Here, u wil geskied, nie my wil om te oorwin nie. Ek moet myself vernietig onder Gods wil." De Wet pleit dat die stryd wat in die geloof begin is, ook in die geloof moet voortgaan. Beyers sê dat die voortbestaan van die volk in God se hande gelaat moet word, maar dat die posisie haglik geword het omdat ’n gees van moedeloosheid die mense beetgepak het. Nou loop hulle oor na die vyand, en teen daardie gees kan niemand stry nie.
Op 30 Mei weeg Hertzog die voor- en nadele van die besluit teen mekaar op en merk toe op: "As julle twyfel, gaan voort met wat julle wil doen!" Botha wat pleit vir ’n staking van vyandelikhede omdat dit in die belang van die volk sou wees, word hierin deur Smuts ondersteun.
Op Saterdag, 31 Mei 1902 vergader nege verteenwoordigers van die Boererepublieke by Melrose-huis, Kitchener se hoofkwartier in Pretoria. Die Vredestraktaat word net ná 11 die aand onderteken.
Die vredesvoorwaardes het die volgende ingesluit:
Laasgenoemde is vervat in artikel 5 van die voorwaardes en lui soos volg: The Dutch language will be taught in Public schools in the Transvaal and the Orange River Colony where the parents of the children desire it, and will be allowed in courts of law when necessary for the better and more effectual administration of justice (ibid.: 37).
Verteenwoordigers van die Zuid-Afrikaansche Republiek
Verteenwoordigers van die Republiek van die Oranje-Vrijstaat
asook
C.H. Olivier en W.C.J. Brebner.
SLOTWOORDE
Die Vrede van Vereeniging (31 Mei 1902) het uitgeloop op Uniewording (31 Mei 1910) waarop later die Republiek van Suid-Afrika (31 Mei 1961) gevolg het. Tans word dié dag nie meer gevier nie, hoewel die land steeds as die Republiek van Suid-Afrika bekend staan.
Hierdie is blykbaar nie die laaste republiek nie. In pragtig-vloeiende en gevoelvolle Afrikaans skryf die bekende Suid-Afrikaanse digter G.A. Watermeyer van ’n toekomstige republiek, genaamd die ...
REPUBLIEK
VAN DUISEND JAAR
Hierdie keer geen bitter einde nie, hierdie keer geen duister toekoms nie. Op diegene wat God deur al die tye nooit prysgegee of verloën het nie, maar in dié opsig as bittereinders1 getrou gebly het, wag daar ’n tyd van vrede en krag as oorwinnaars na ’n lang en moeisame stryd, innerlik en uiterlik, ter wille van Hom en sy Ryk.
1 bittereinder s.nw.
1. Boerestryder wat aan die einde van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) geweier het om oor te gee. 2. Iemand wat tot die einde toe volhard uit plig en getrouheid aan ’n ideaal.
Uit S.A.Eng. of Amer.Eng. bitter-ender (1850 in bet. 2). Volgens Silva (1996) is sowel bitter-ender in S.A.Eng. as bittereinder in Afr. teen die einde van bg. oorlog opgeneem. Die redelik onlangse ontlening van bittereinder deur S.A.Eng. (1946) is wsk. ’n poging tot regstelling wat gegrond is op die wanindruk dat bitter-ender ’n leenvertaling van Afr. bittereinder is.
Bronnelys
Böeseken, A. 1983. Van oorloë en vrede onder die suidersterre 1795-1910. Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad. Van Bart, M. en L. Scholtz. 2003. Vir Vryheid en vir Reg. Anglo-Boereoorlog gedenkboek. Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad. Van Wyk, G.J. (teg. red.) 2003. Etimologiewoordeboek van Afrikaans. WAT, Stellenbosch. Zietsman, P.H. 1992. Die Taal is gans die Volk. Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria.
Geurmiddels
vir Boerekos
|
|||||||||
|
Buiteposte
aan die Kaapse grens, 1661. (Kaart M 1/381(a)K.A.B. geprojekteer op
’n moderne kaart deur die Instituut vir KartografieseAnalise, US,
1982) (Sleigh, 1993:128) |
Rondebosch
Die naam het inderdaad verwys na ’n digte doringbos wat in Van Riebeeck se tyd op die wal van die Liesbeekrivier gegroei het. Die doringbos is in die middel uitgekap en daar is ’n opening gemaak wat met ’n hek gesluit het. Sodoende is hierdie ronde bos as ’n veilige kraal vir die Kompanjie se vee gebruik.
Die pleknaam wat die eerste keer voorkom in die aanhaling: “Ende noch een ander partije onder haar vieren 1 cleijn mijltien nader ’t fort, bij ’t ronde doorn bossien, aen dese sijde van do. revier, offte Amstel” (C. 1, 21/2/1657) is in die 18e eeu o.a. as ’t Ronde bos en Rondebosje geskryf, en tans as Rondebosch.
Die spelvorme van plekname was oor die algemeen heel onvas. Dit is taalkundig belangrik om te bepaal hoe die vorms mekaar opgevolg en/of afgewissel het, en watter vorm gevestig geraak het en as standaardvorm steeds gebruik word. Rondebosch is ’n goeie voorbeeld hiervan: dit begin met “ronde doorn bossien/bosjen” (C. 1, 21/2/1657), toe “Rondebosje” (C. 10, 28/12/1676), toe “ronde bossie” (C. 14, 15/2/1681) as eg-Afrikaans, selfs die verkleinwoord, toe “Rondebosch” (C. 35, 3/2/1716) afgewisselend gebruik met “Rondebosje” (C. 43, 2/11/1717), maar waarskynlik deur wedersydse invloed op en deur vorme soos Stellenbosch seëvier die Ndl. vorm uiteindelik as standaardpleknaam, naamlik Rondebosch.
Tijgerberg/ Tygerberg/ Tierberg
Die Tijgerbergen (C. 29, 13/4/1711), ook onder andere gespel as Tygerberg/ Tierberg is die reeks koppies noord van die Kaapse Vlakte, noordoos van Bellville. In 1657 is dit Gevlekte Luipaertsberg genoem. Later word Tijgerberg ook Tierberg genoem. Die naam verwys na die plantegroei wat kol-kol voorkom en lyk soos die kleurpatroon van ’n roofdier wat vroeër in Afr. tier genoem is (vgl. Ndl. tijger). Daar kom nie tiers in Suider-Afrika voor nie, maar by gebrek aan die regte benaming is die woord gebruik om waarskynlik na die jagluiperd te verwys: “Desen nacht hadden de tijgers 6 van onse Hollantse schapen in de stal doot gebeten ..., hebbende verscheyden gaten door de soden muyr van de stal ... gebroocken, daer se deur gecomen waren” (V. Riebeeck, Dagverh. 1, 473).
In die Resolusies word ook gemeld van “ ... de Tijgerhoek aan de Breederivier en ’t strand langs” (C. 30, 25/10/1712). Tijgerhoek was die naam van een van die VOC-buiteposte naby die Zonder Endt Rivier wat as plaas verkoop is nadat die pos gesluit is. Tans dien dit as landbounavorsingstasie en staan steeds as Tygerhoek bekend.
Bottelary
In die VOC-tyd was ’n bottelary die voorraadruim op ’n skip; nie net bottels is daar geberg nie, maar ook al die ander kos wat tydens die reis benodig is. Hierdie woord vind ook op land sy plek om te verwys na die streek in die omgewing van die Bottelary-berg in die Stellenbosch-distrik. Die naam wat die eerste keer voorkom in die aanhaling: “ ... Bottelerije onder ’t district van Stellenbosch” (C. 54, 3/9/1720) is o.a. ook Bottelereij (1751) gespel. Dit is vandag nog die naam van die pad tussen Klapmuts en Kuilsrivier.
Hierdie gebied was in daardie jare waarskynlik die enigste plek aan die Kaap waar wilde hawer so geil gegroei het. Die Kompanjie het daar ’n skuur laat bou vir die opberg van dié hawer wat een maal per jaar daar met sekels en sense afgesny is. Dan is dit aangery na die Kasteel as voer vir die Kompanjie se perde.
Paarden Eijland
Die pleknaam Paarden Eijland het op ’n interessante wyse ontstaan. Tussen die Dieprivier en die see, van sy mond af tot by die Riet Valleij, was ’n lang, smal strook land wat hoofsaaklik uit duine en vleie bestaan het. In Augustus 1659 is daar ’n houtwaghuis met die naam De Kijckuit (ook Uijtkijk, C. 10, 14/12/1676) op ’n hoë sandduin op die eiland gebou, met die funksie om op die uitkyk te wees: oor die see om aankomende skepe aan te meld, na Robbeneiland om vir seine op te let; en om dan ook te dien as basis vir beeswagters en om aangespoelde wrakgoed te versamel en te bewaar.
Nadat die Kompanjie sy aktiwiteite ooswaarts uitgebrei het, was De Kijckuit se diens as uitkykplek nie meer nodig nie. Die strook land tussen die see en die Dieprivier waarop die waghuis gestaan het, het bekend geword as “het Eijland de Uitkijck”. Tegnies gesproke was dit nie ’n eiland nie, totdat ’n nuwe opening of ‘tweede mond’ verder noord gemaak is, waardeur die landengte toe aan alle kante met water omring is.
In 1728 word die beskrywing “’t paarden eijland” die eerste keer gebruik toe vaandrig E.W. Cochius aan goewerneur P.G. Noordt daarvandaan rapporteer, hoewel die benaming “’t eijland de Kijckuijt” nog amptelik gebruik is. Nadat die soldaat Steeven Gudden in 1731 daar poshouer geword het, het hy deurgaans die naam Paarde Eijland as die naam van sy pos gebruik. Die benaming word heelwat later eers in die Resolusies aangetref in die aanhaling: “ ... het soo genaamte Paarden Eijland aan deese kant van de Soute Rivier” (C. 130, 1/2/1752).
Die pos was ideaal vir perde geskik. Daar was volop vleigras en water, en droë duinsand vir die perde om op te rol. Die sout seewater het gesorg dat hulle hoewe vry van swamme kon bly. Steeds in 1790 dien Paarden Eiland as weiding vir die VOC se perde wat vir die artillerie gebruik is en vir trekosse van die waens wat van die plattelandse buiteposte gekom het.
In 1791 word die perde, koetse, karre, tuie en gereedskap op Paarden Eijland verkoop. Burger A. van Wielligh kry die kontrak om die ossewavervoer tussen die Kaap, Valsbaai en elders te behartig. Omdat die huurder altyd ’n groot klomp trekosse in die nabyheid van die Kaap gereed moes hê vir gebruik, kon Van Wielligh Paarden Eiland vir 125 ryksdalers per jaar vir sy osse huur. Hy is nie toegelaat om op die eiland hout te kap, te ploeg of om die grond op enige manier los te maak nie. Die VOC het reeds jare tevore die duine teen groot koste en moeite laat stabiliseer om te verhoed dat die sand wat in die see waai die reede bederwe.
In Oktober 1803 is daar besluit om Paarden Eiland te laat opmeet en met behoud van sekere servitute, vir verkoping te adverteer. Die eiland is teen 20 000 gulden te koop aangebied.
Kirstenbosch
In 1657 ontvang Leendert Cornelissen, ’n vry timmerman, hierdie bos as leenplaats by die Kompanjie: “ ... tot aen den vrij houtsager Leendert Corneliszs. Bos incluijs” (C. 2, 13/8/1659). Dit was geleë tussen Bosheuvel (Wynbergheuwel) en die Bosbergen , die reeks koppe tussen Tafelberg en die pas wat nou as Constantia-nek bekend staan; vergelyk die aanhaling: “Heden den Commandeur hebbende wesen besightigen seecker bosschagie, stijff 3 uijren ganes van hier leggende N.waerts in de hoek van den bosheuvel tegen de bosbergen Z.waerts beneden den Taeffelbergh” (C. 1, 27/10/1657). Aanvanklik is hierdie bos genoem Leenenbosch, maar staan later as Leendertsbosch bekend.
In 1659 word ’n takheining tussen die wonings van Harmen en Brinkman en die huis van Leendert Cornelissen opgerig. Dit is veral gedoen om voldoende weiding vir die Kompanjie se beeste te verseker en struwelinge met die Koina oor weidingsgebiede te bekamp. Daar is gevolglik ’n linie van bemande buiteposte geplaas, met ’n heining om die spasies tussen die poste af te sluit. In 1659 word Duijnhoop, Kijckuijt en Coornhoop teen die hange van die Windberg dus opgerig, en later kom Houdt den Bul en Keert de Koe by.
In 1659 blyk dit dat Leendert Cornelissen in die skuld is by die Kompanjie, en in 1661 word hy weens swak gedrag as burgerheemraad ontslaan en verloor gevolglik ook die leenbos. In 1672 of selfs vroeër gaan Leendertsbos gevolglik terug na die Kompanjie en word so deel van die oudste van die Kompanjiesposte.
Vanaf 1756 tot en met 1759 kom Jan Fredrik Kirsten se naam voor as een van die Weesmeesters van Cabo de goede Hoop. In 1761 word hy bevorder tot poshouer van Baaij Fals en beklee hierdie amp tot in 1774. Kirsten en sy seuns besit mettertyd die plase Alphen, Imhoff’s Gift, Zorgvliet, Brandenburg en Velthuysen. Die Kirstens was daardie tyd een van die rykste families aan die Kaap.
Teen ongeveer 1760 (net voor Kirsten poshouder van Baaij Fals (Valsbaai) geword het) is ’n aantal manskappe van die houtkappersbos ’t Paradijs (C. 28, 13/4/1711) gestuur om ’n nuwe terrein onder die suidoostelike hoek van Tafelberg te ontgin. Hierdie verskuiwing is nie in VOC-dokumente bekend gemaak nie, en die manskappe is deurgaans onder die besetting van ’t Paradijs gereken. Later is daar wel ’n poshuis gebou op hulle nuwe werksplek, Kerstenbosch, soos dit toe bekend geword het (Sleigh, 1993).
Uit die Resolusies kom die aanhaling: “de posten de Witteboomen, Houtbaaï, Paradys en Kirstenbosch” (C. 199, 2/12/1791). In die 1790’s teken “den Cornet Bombardier J. Jonis” ’n kaart van die plaats Kirsten-Bosch. Dat die naam ook op die kaart presies soos die van gespel word, is ’n aanduiding dat dit toe reeds ’n aanvaarbare pleknaam was.Toe die Britte die Kaap in 1795 die eerste keer beset, word daar ’n inventaris van die Kompanjie se eiendom wat onverkoop gebly het, opgestel en aan die Britse regeerders oorhandig. Die naam Kirsten-bosch kom in daardie inventaris voor. Wat ook al die verband met die Kirsten-familie, dateer dus van voor 1795.
Volgens die navorser Mary Alexander Cook (Compton, 1965) kon geen navorser op daardie stadium van haar ondersoek die verband tussen die Kirsten-familie en Kirstenbosch sonder twyfel vasstel nie. Cook bespiegel of die pleknaam nie eerder met ’n plantnaam in verband gebring kan word nie. Dus moet gesoek word na ’n houtsoort wat met die Ndl. woord kersten (vgl. Afr. kersten, kerstening) in verband gebring kan word. Die naaste wat hieraan kom is kershout (P. tricuspidatus) wat algemeen in die Kaapse skiereiland voorkom. Die naam kershout het betrekking op die hout wat 'n mens aan die Europese kersiehout (E. cherry) herinner. In ou Kaapse geskrifte en plekname is dit waarskynlik die aangewese houtsoort. Al is dit dus die beste kandidaat, sluit dit nie die ander moontlikhede soos die kersbos, kersbossie uit nie.
Een van die hoofopdragte van die poshouer op die buitepos Witte Boomen (C. 51, 28/11/1719) wat na silwerblaarbome verwys, was juis om veral toesig hou oor die jong kreupelhout wat natuurlik daar opslaan, want die sogenaamde “goud of kreupelboom” en “zilver of witteboom” neem tien jaar om volwasse te word en moes toegelaat word om hulle saad te versprei. Na 1791 is twee houtkappers by Kerstenbosch geplaas om die natuurlike hout teen die burgers te beskerm, totdat die pos as ’n plaas verkoop kon word.
Hangklip
Die suidelikste punt aan die oostelike kus van Valsbaai staan as Hangklip bekend. Die naam wat letterlik ‘hangende rots’ beteken, is blykbaar ’n vervorming van die oorspronklike Ndl. Hanglip, so genoem na die vorm van die berg wat laat dink aan ’n lip wat oor die ken hang. Die pleknaam Hanglip is deurgaans in die VOC-tyd gebruik en kom die eerste keer voor in die Resolusies in die aanhaling: “ ... beneeden de hang Lip” (C. 128, 29/1/1750).
Later het daar ’n klankverandering plaasgevind; gegee die omgewing is die huidige Hangklip betekenisgewys heel aanvaarbaar, al verskil dit in ’n mate van die oorspronklike benaming.
Drakenstein
Drakensteijn (C. 19, 25/12/1687) is die naam van die streek wat ongeveer 50 km lank en 20 km breed is en tussen die Roodezand-pas en die Paarl geleë is. In Oktober 1687 word die gebied so benoem ter ere van die Hoë Kommissaris, Hendrik Adriaan van Rheede tot Drakenstein, wat die Kaap twee jaar tevore besoek het. Goewerneur Simon van der Stel het hierdie gebied in 1687 aan die landbouers oopgestel.
Vroeër het die gebied ook Groot-Drakenstein en Franschhoek ingesluit. Dit is die rede waarom daar soms gesê word dat die Franse Hugenote hulle by Franschhoek gaan vestig het, terwyl ander weer sê by Drakenstein.
Grootvadersbosch
Die kloofbosse naby die huidige dorp Swellendam, wat in 1746 gestig is, is tussen 1710 en 1720 vir houtontginning oopgestel. Die naam Groot Vaders Bosch kom reeds voor in geskrifte nog voordat leenplase in die gebied aan boere uitgegee is en verskyn as voetnota in C. 94 (8/2/1734): “Wegens ’t hacken van hout in Grootvadersbosch bij de notulen aan te teyckenen” (vgl. C. 113, Klad Notulen, 1717–1738, bl. 353). Later kom dit ook voor in die aanhaling: “ … terwijl wijders aan het soogenaamde Grootvadersbosch ook een voorleser sal worden geplaatst” (C. 121, 14/2/1743).
Daar word steeds bespiegel oor die herkoms van hierdie pleknaam. Een teorie is dat die naam verwys na die oudheid en gevestigdheid van die bos. So beteken Grootvaders tijd in Ndl. na die ou tyd, langvervloë dae; net so kon Grootvadersbosch verwys het na die ou woud van langvervloë dae. Grootvader in Ndl. verwys ook na ’n eerbiedwaardige grysaard of ’n hoogbejaarde man. Volgens ’n ander beskouing het daar dalk aanvanklik besonder baie bobbejaantou en soortgelyke plante in die woud voorgekom en dat dit die eerste besoekers aan hierdie bos kon herinner het aan ’n man met lang grys hare en ’n baard.
Op 26 Augustus 1724 staan die Kompanjie aan landbouer Roelof Olofsz verlof toe om sy vee te “gaan leggen en weijden onder de Grootvadersbosch”. Hieruit blyk dat die naam voor 1724 reeds bestaan het. Daar word egter vier plase aan die een naam gekoppel, naamlik:
Grootvadersbosch gelegen aan de Tradouw/Tradouw gelegen aan de Buffeljagts Rivier (of Melkhoutenboom). Cornelis van Rooyen (Royen) 24.4.1731 permitted to graze his sheep at Tradouw on the Buffeljagts River S.G. 9, 389
Grootvadersbosch aan de Kruijs Rivier. v. Rooyen (Royen), Reynier van 3.5.1753. To graze below “Groot Vadersbosch” on the Kruys R. vacated by Jacob Cok. S.G. 13, 439
Grootvadersbosch gelegen over de Klip Rivier (Olofsz., Roelof: 14.11.1730 Permitted to graze sheep on Palmiet River S.G. 9, 1
Grootvadersbosch gelegen over de Klip Rivier aan het Duijvenhoks Rivier (Oelofsz. Roelof: 5.10.1747: to graze sheep at Brakkekuil gel. a/d Vlackte. S.G. 11, 451; Oelofsz., Roeloff. Wed.: 26.11.1750 To graze sheep at “Kleinbrakkefontein” on the Vette R. S.G. 12, 401
Al bogenoemde plase val tans onder die Heidelberg-distrik in die Wes-Kaap.
Melkhoutenboom wat daardie tyd die naaste aan Swellendam geleë was, was die plaas waarbinne die bos geleë was. Dié plaas word dus die eintlike Grootvadersbosch omdat die opstal hier die historiese Groot Vaders Bosch-woonplek is. Volgens oorlewering het Olofsen as die “groot vader” bekend geraak. Die eretitel van “grootvader” het op elke nuwe eienaar van hierdie plaas oorgegaan. Die Grootvadersbosch-natuurreservaat wat op die voormalige Melkhoutenboom geleë is, is staatsgrond wat tans deur die Afdeling Kaapse Natuurbewaring bestuur word.
3. BINNELANDSE TOGTE
Talle nuwe plekname is aangeteken tydens elk van die vele togte wat die VOC aan die Kaap onderneem het. Die volgende is enkele van die landtogte waarna daar in die Resolusies verwys word:
Pieter Cruithoff se tog benoorde die Kaapse nedersetting (C. 5, 10/1/1670; C. 8, 28/11/1672)
Simon van der Stel se tog na die Cooperbergen (C. 17, 28/11/1684)
Oloff Bergh se tog na onderskeie Khoi-volke of -‘naties’ (C. 23, 1/10/169)
August Beutler se binnelandse reis (C. 130, 1/2/1752)
Hendrik Hop en Jacobus Coetsee se reis na Namakwaland (C. 139, 30/6/1761; C. 140, 23/11/1762)
Joachim van Plettenberg se reis (C. 156, 26/5, 1/9 en 1/12/1778)
verslag van die landtog na Bruintjeshoogte in die Oos-Kaap (C. 207, 7/9/1792; C. 217; 12/8/1793).
Reise van onderskeidelik August Beutler in 1752, en Coetsee en Hop in 1760.
August Beutler se reis (1752)
Op die grootpad vanaf Kaapstad na die Suid-Kaap, kom ’n mens duskant Swellendam die naambord Vaandrigsdrift by ’n afdraaipad na links teen. Hierdie plek wat by die Hessequas-kloof op pad na Swellendam geleë is, is genoem na Vaandrig August Frederik Beutler wat ’n aantal baie interessante baanbrekersreise onderneem het. Uit die volgende aanhaling blyk duidelik wie en wat in 1752 benodig is vir hierdie binnelandse ekspedisie:
“Op 1 Febr. 1752 ... deese binnenwaarts Leggende Landen, ... eenigen handel met voordeel voor d’ E. Comp. ... Begin der aanstaande maand Maart ... onder het Commando van den Vaandrig August Frederik Beutler sal worden uijtgezonden ...
– Twee Sergeants, Vier Corporaals, Een Tamboer, Dertig Zoldaaten ...
– Voorts den Adsistent Carel Albregt Haupt om den Dag Register te houden ... den Onderstuurman Pieter Clement en den Landmeeter en Caarte maaker Carel David Wentzel ...
– den Onderchirurgijn Jan Hendrik van Ellewe,
– Een Botanicus, Een Smit, Een wagen maker.
– En eijdelijk den Onder Baas van de Schuur Hendrik Beeneke met vijff en Twintig zoo waagen Rijders als Leijders ...
– Elf waagens ...
– mitsgad:rs nog van een Schuijt, dienende om over de Onwaadbaare Riviere te kunnen koomen. ...
– aan de Menschen onder dit commando gehoorende, om dezelve in Staat te Stellen, Sig tot het doen van die Togt te kunnen uijtrusten, Twee maanden gagie Sullen verstrekt worden.”
Vaandrigsdrift is geleë naby die plek waar die eerste pont of “ponton” in gebruik geneem is. Dié pont is aangewend op die plek waar die Zonder End Rivier (Khoi Kanna kam Kanna) in die Breede Rivier vloei. Die eerste riviernaam kom voor in die aanhaling: “houtboschen aan de Rivier sonder Endt” (C. 30, 7/3/1713) en die tweede as “Breede Revier” (C. 9, 26/3/1676 en C. 30, 25/10/1712)). Die pontdiens sou ’n oplossing bied vir die trekpad wat baie moeilik begaanbaar was, in so ’n mate dat die diere se pote heel “verkreupelt” geraak het tydens die reis deur die onherbergsame gebied; daarom die besluit deur die Kompanjie om ’n pontdiens in te stel. Die “pontonhouder” het die plaas Potjes Craal (Poetjes Kraal op die kaart) ontvang. Toggangers wat steeds landwaarts wou reis, het net soos vroeër die plaas Kluijtjeskraal as deurgangsroete gebruik.
Ligging van Vaandrigsdrift:
naby die Zonder End Rivier met
Caledon
4. SLOT
Die studie van plekname aan die hand van inligting wat in die Resolusies van die Politieke Raad voorkom, blyk ’n tot nog toe onontginde én bykans onontginbare bron te wees. Voorgaande name verteenwoordig slegs ’n heel klein deeltjie van wat die geheelinhoud bied.
’n Heel interessante en vanuit ’n taalkundige oogpunt belangrike aspek is die mate waarin die spelvorms onvas was, hoe die vorms mekaar opgevolg en/of afgewissel het en watter vorm geseëvier het, gevestig geraak het en as standaardvorm steeds gebruik word (vgl. Rondebosch).
Helena Liebenberg
Transkribeerder, TANAP-projek (Okt. 2001 tot Sept. 2003)
Toesighoudende Redigeerder, TEPC-projek (Okt. 2004 tot Jan. 2008)
Verkorte bronnelys
Hoofbron
Resolusies van die Politieke Raad, 1651-1795. Kaapstad: Kaapstadse Argiefbewaarplek
Bykomende bronne
DU PLESSIS, E.J. 1973. ’n Ondersoek na die oorsprong en betekenis van Suid-Afrikaanse berg- en riviername. Naamkundereeks nr. 3. S.A. Naamkundesentrum. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers
LE ROUX, T.H. 1966. Die dagboek van Louis Trichardt. Pretoria: J.L. van Schaik.
RAPER, P.E. 1987. A Dictionary of Southern African Place Names. Johannesburg: Jonathan Ball Publishers
SLEIGH, D. 1993. Die Buiteposte – VOC-buiteposte onder Kaapse bestuur 1652-1795. Kaapstad: Human & Rousseau
Woordeboeke
DE VRIES, J. 1997. Nederlands Etymologisch Woordenboek. Vierde druk. Leiden: Brill
Webster’s New Geographical Dictionary. 1984. Springfield, Massachusetts: Merriam-Webster Inc., Publishers.
Woordeboek van die Afrikaanse Taal op CD-ROM. 2006.
Woordenboek der Nederlandsche Taal op CD-ROM. 1995.
Nasionale
Boekhandel Bpk. Kaapstad
1e druk 1933, 4e
druk 1961
“Vaderland!
ons sal die adel
van jou naam met
ere dra:
Waar en trou as
Afrikaners
– kinders van
Suid-Afrika.”
LANGENHOVEN
In Suid-Afrika tree die kind sterk op die voorgrond op die toneel van die lewensgeskiedenis van ons volk. Deur al die jare heen leer die geskiedenis ons van die ontberings en die lyding van die kinders van ons nasie tydens die groot wordingsproses van die volk. Maar daarby weet ons ook van die taaie volharding, die selfstandigheid, die dapperheid en die heldhaftigheid van ons volk se kinders, sy seuns en sy dogters.
Waar die man en die vrou gestaan het, gely en gestry het, geworstel en oorwin of die dood tegemoetgegaan het, daar het die seun en die dogter van ons volk gestaan, gely, gestry en geworstel. Saam het die jongspan die oorwinning help behaal, saam met die grootmense het hulle sonder vrees die skaduwee van die dood ingegaan.
Waar die man en die vrou die naam van die Boerenasie roemryk gemaak het deur selfopoffering, moed en heldedade, daar het die seun en die dogter ook nie agtergebly nie. Die groot heldedade van die jong kinders vorm ’n deel van ons geskiedenis waarop ons as volk met reg trots kan wees.
Dit ly geen twyfel nie dat die meeste verhale van die wonderlike heldemoed en ander prysenswaardige dade van kinders nooit geboekstaaf is, of selfs oorvertel is nie. Ons voorgeslag het nie daarvan gehou om kinders te prys nie; op dié manier is baie sulke gevalle deur die ouers gesien, maar daar is nooit verder oor gepraat nie.
In die volgende bladsye word beskrywings gegee van ’n aantal heldedade wat deur kinders in ons geskiedenis verrig is. Ook word daar die een en ander vertel van die rol wat die kind in die geskiedenis van ons volk gespeel het, en wat hy alles moes deurmaak.
Die vertellings in al hierdie opgetekende gevalle berus op feite. Dit is geskiedenis en nie sommer stories en verdigsels nie. .....
Mag die voorbeeld van hierdie stoere seuns en dogters van ons volk in die verlede vir die jeug van vandag en die toekoms ’n besieling wees. Heldedade is groot dinge, maar aan die wortel daarvan lê nie alleen moed nie, maar ook daardie nuttige en voortreflike eienskap waarmee ons Voortrekkerseuns en -dogters geseën was, naamlik selfstandigheid; die vermoë om self te weet wat om te doen en om jou man te staan onder enige omstandighede, die kuns om, al gebeur wat ook al, ’n “plan te maak”. In klein dinge en in groot dinge kon die kinders van ons voorgeslagte altyd ’n plan maak – of dit was om van leerkruisbande ’n bruikbare toom te maak, en of dit was om in die uiterste lewensgevaar ’n pad te baan deur woestelinge om kruit te gaan haal vir omsingelde burgers.
Mag nie alleen daardie heldemoed bly voortlewe as ’n kenmerk van ons volk se kinders nie, maar meer nog daardie selfstandigheid en die kuns om altyd ’n plan te maak.
As die vertellings wat hier versamel en opgeteken is, iets daartoe bydra, dan is die skrywer se arbeid ten volle beloon.
Bloemfontein, Mei 1933
In die geskiedenis van elke volk speel die kind ’n groot rol. Die kind van vandag is die man van môre. Die toekoms van die nasie hang af van die kind. As die kinders swak van liggaam en swak van karakter opgroei dan sal die nasie binne ’n paar jaar ’n papbroeknasie wees, sonder krag en sonder ruggraat. Maar as die kinders reg grootgemaak en opgevoed word dan hoef mens nie vir die toekoms van die nasie te vrees nie.
In die wêreldgeskiedenis lees ons van die Spartane in die vroeë eeue, ’n klein volkie wat gekenmerk was deur hul moed en durf in oorlog. Van hul sewende jaar is die kinders opgelei in die kuns om te veg en is hulle taai gemaak teen alle ontberings. En die kinders is van kleins af die een groot ding ingeprent deur hul moeders, naamlik dat hulle liewers dood van die slagveld afgedra moes word as met ’n wond van agter; as hulle van agter gewond was dan was dit ’n teken dat hulle gevlug het. Die gevolg was dat dié klein nasie beroemd geword het deur die hele wêreld en in die geskiedenis vir hul dapperheid en dat hulle deur ander nasies gevrees is.
In ons eie Suid-Afrikaanse geskiedenis tree die kind ook op die voorgrond en het die seuns en dogters so groot geword dat hulle en hul nageslagte naderhand roem oor die hele wêreld verwerf het. Deur al die jare heen het die kind sy deel bygedra tot die vorming van ons volk en die opbou van ons geskiedenis. Waar die man en die vrou gestaan het, gestry het en gely het, daar het die Boeredogter en die Boereseun gestaan, gestry en gely. Waar die man en die vrou ons volk se naam roemryk gemaak het deur moed, opoffering en skitterende heldedade, daar het die seun en die dogter ook bygedra met hul taaie volharding, moedige optrede en heldedade.
Wat het in die verlede die krag en moed en durf van ons volk verseker? Dit was onder die leiding en deur die genade van God die kind van Suid-Afrika, wat deur al die honderde jare van stryd sy deel bygedra het, wat hom voorberei het vir die dag dat hy of sy die plek van vader en moeder moes inneem.
Vandat daardie eerste blanke kindjie [Willem Wylant, gebore 6 Junie 1652] hier aan ons sonnige suiderstrand die lig gesien het tot vandag was die kind van Suid-Afrika ’n eer en ’n steunpilaar vir ons volk. Dikwels was sy aandeel dié van lyding, beproewing, honger en dood, maar tussen al die donker wolke blink sy volharding en sy heldedade uit.
Veral op die kinders van die Voortrekkers kan ons vandag terugsien met dankbaarheid en regmatige trots. Toe die Groot Trek begin, sien ons die seun en dogter saam met vader en moeder oppak om die wilde, vreemde binneland in te trek vir vryheid en vir reg. Die plaas, die huis, al die ou plekkies waar hulle as kinders gespeel het, moes verlaat word. Hulle wis nie wat hulle te wagte staan op die lang pad wat voorlê nie – maar hulle gaan om vir ons ’n land skoon en bewoonbaar te maak.
Die dogter help vir haar moeder om al die goedjies in te pak, die kos reg te maak, en die beddegoed na die waens te bring. Die seun help sy vader om die vee bymekaar te maak, die osse in te span en die wa op te pak. Alles is klaar. Die sweep klap, die osse beur vorentoe en die wa loop. Hulle trek.
Die seuns en dogters het op trek nie lekker in die wa gesit nie. Nee, hulle moes met alles help en elkeen het sy werk gehad. Die seuns pas die vee op en jaag hulle aan. Die dogters help vir moeder om die klein babatjie op te pas of water te kook en kos te maak. Soms moes meisies ook die tou voor die osse neem en as touleier dien.
Ons weet wat gebeur het met die dogtertjie van kommandant-generaal Pretorius met die trek uit Natal na Transvaal. Die jong wat touleier was, het een nag weggeloop en toe hulle die anderdagoggend moes wegtrek, was daar niemand om die tou te vat nie. Die dogtertjie was maar twaalf jaar oud, maar sy sê dadelik:
“Pappie, ek sal die tou vat.”
Generaal Pretorius kon toe ook nie anders nie, want hulle kon nie wag nie. Die dogter het toe maar vorentoe gestap en die tou gevat. Dae lank was sy touleier gewees. Daar was nie paaie nie en sy moes die wa tussen klippe, bosse en slote deur lei en veilig oor berge neem. Ongelukkig het die een vooros een dag kwaai geword en die dogter gestoot. Die horing het dwarsdeur haar arm gesteek en die dapper meisie lelik beseer. Toe moes sy die werk staak totdat haar arm eers weer gesond was.
’n Engelse vrou wat oor hierdie gebeurtenisse geskrywe het, maak met lof melding van hierdie flukse Boeredogter en sê daarby dat dit selfs ’n seun vreeslik moeg maak om heeldag voor die osse as touleier te loop en vir ’n meisie moet dit baie swaar gewees het.
Die seuns en dogters van daardie tyd het van jongs af aan in die vrye natuur opgegroei en was taai en gebrei. Hulle was dus mans genoeg vir die swaar en ontberings van die trek. Maar tog was die moeilikhede baie groter en die gevare baie erger as dié waaraan hulle gewoond was in hul ou hartbeeshuisie. Dikwels het daar donderstorms en kwaai haelbuie oor die waens getrek. Die haelstene was soms so groot soos pruime en partymaal selfs so groot soos hoendereiers. Die kwaai winde het ook baie skade gedoen.
Dan was daar nog die gevaar van wilde diere, want oral op hul pad was daar volop leeus, tiers, wolwe en ander roofdiere. Nooit was hulle veilig teen skielike aanvalle deur [woestelinge] nie, veral snags. Dan verkeer hulle in gevaar om doodgemaak te word of dat al hulle vee gesteel sou word.
Siekte het ook dikwels voorgekom en dan was daar geen dokter te kry nie. Die moeders moes maar self dokter met al hul boeremiddels uit die medisynekissie. Op die lang reis moes hulle ook die ondraaglike hitte deurstaan van die son wat hulle brand daar op die kaal vlaktes; en in die lang, koue winternagte moes hulle dikwels bibber en verkluim van die koue.
Maar dit het die kinders taai gemaak, sodat hulle naderhand só gebrei was dat niks vir hulle te swaar was nie.
Daar was nie bediendes om wasgoed te was nie en die dogters moes maar saam met hul moeders die klere en beddegoed in die riviere gaan was, al was dit hoe koud.
Toe die trek by die Oranjerivier (of Grootrivier, soos hulle dit genoem het) kom, was dit net ná groot reëns en die rivier was vol. Dit was ’n groot teleurstelling; hulle was haastig om deur te kom, want dan was hulle in ’n vrye land. Maar ’n plan is gou gemaak. Aan die kant van die rivier was daar gelukkig volop wilgerbome. Hulle het toe ’n groot klomp daarvan afgekap en aanmekaargebind om ’n soort pont te maak. Die waens is eers leeggemaak en toe op die pont gelaai en so oor die rivier getrek. Daarna is al die goed en toe weer die vroue en kinders met die pont na die ander kant oorgeneem. Toe die vroue en kinders opgelaai is, begin hulle ’n gesangvers sing: “Kom treën wij dan gemoedigd voort”, en al singende is hulle oor die vol rivier geneem.
Met die reis oor die Drakensberge het dit baie moeilik gegaan. Van gemaakte paaie was daar natuurlik geen sprake nie en hulle moes self ’n pad soek. Op party plekke was dit so skuins en was daar sulke gevaarlike afgronde dat die waens met toue vasgebind moes word, en dan het die mans en die seuns daaraan getrek om te keer dat die wa nie die afgrond instort nie. Op ander plekke was daar net klipbanke, en op die lelike plekke moes die waens maar afspring van die een klipbank na die ander.
Die vroue en dogters kon op daardie lelike plekke natuurlik nie op die waens ry nie, en so moes hulle te voet oor die hoë berge loop en die klein kindertjies dra.
Lourens de Klerk, wat self op daardie togte was, vertel as volg:
“Met die aftrek van die berg is vier of vyf waens daar afgerol en verpletter teen die rotse, met al wat daarop was. In die meeste gevalle word daar net twee agterosse voor die waens gespan wat berg-af gaan, osse wat besonder geskik moes gewees het om ongelukke te vermy. Aan weerskante word rieme vasgemaak aan die leerbome, waaraan ’n aantal mans vashou om te keer dat die wa omval; twee wiele word met remskoene gerem (om soveel moontlik die afslyt van die wabande te vermy), terwyl die katel en beddegoed met kiste binnekant stewig vasgemaak word. Hulle begin vroeg in die more bo-op die berg en teen die aand is die wa eers onder die berg aangeland. Die vroue en kinders loop die berg af, terwyl ’n siek tante op ’n katel afgedra word deur ’n stuk of vier mans, en ander vroue langsaan loop om koelte oor haar te maak. Hier en daar word op geskikte skaduryke plekke waar water te kry is, gerus en geëet, ’n ketel gekook en ’n stukkie vleis gebraai of ’n roosterkoek gebak. Verskillende waens gaan natuurlik kort agtermekaar af.”
Nog een vertelling uit die ondervindings van die Voortrekkers: Dit word aan ons vertel deur Anna Elizabeth Steenecamp, ’n niggie van Piet Retief. Dit het gebeur ’n paar maande ná die slag by Bloedrivier waar Dingaan deur die Voortrekkers verslaan en op die vlug gejaag is.
Dit was omtrent nege-uur in die aand. Baie mense was alreeds in die bed, maar sommige was nog besig om hul kinders te leer om die Bybel te lees. Meteens kom daar ’n geroep. Mense hardloop na buite en sien dat daar ’n wa aan die brand is. Die waens het naby mekaar gestaan in die laer en baie gou het ander waens ook vlam gevat. Die die vuur ontstaan het deurdat ’n klein bediendetjie ’n kers opgesteek en onversigtig daarmee gewerk het.
Maar daar was groot gevaar, want op elke wa was daar vate en sakkies vol kruit. As die vuur eers daarby kom, ontplof dit en kon al die mense dadelik opgeblaas word. Dit was te gevaarlik om in die laer te bly en die vroue en kinders moes dadelik ’n ent ver vlug.
Anna Steenecamp, wat die verhaal vertel, het twaalf kinders gehad en sy het met hulle gehardloop na ’n kloof ’n ent van die laer. Ander vroue en kinders het hulle gevolg. Daar moes hulle toe in die donker nag en bittere koue, en skaars gekleed sit en aankyk hoe die waens voor hul oë verbrand. Kort-kort is daar ’n geweldige ontploffing as die vuur die kruit bereik en die waens vlieg in duisende stukkies in die lug rond. Elke slag as daar so ’n ontploffing kom, val die stukke hout en yster rondom die klompie wat daar sit en magteloos aankyk hoe al hul besittings vernietig word. Die ergste is dat hulle weet daar is nog mense by die laer wat verbrand of stukkend geruk word deur die ontploffings.
Naderhand was die gevaar verby, want daar was nie meer kruit om te ontplof nie. Toe loop hulle terug na die vreeslike toneel waar hul laer nog ’n klein rukkie gelede rustig gestaan het. Die mans wat hard geprobeer het om die vuur te blus, is lelik beseer en ’n hele paar is gedood. Twee kindertjies is in die waens verbrand. Die volgende dag is gevind dat daar nege dooies en twaalf gekwestes in die as en puin lê. Gedurende die nag het hulle al geprobeer om die gewondes en die lyke uit te kry, maar die hitte van die vuur was so erg dat hulle nie naby kon kom nie, en die brand het heelnag deur gewoed. Sommige vroue en moeders het gedurende die nag daar gesit en huil om te sien hoe hul mans en kinders deur die vuur verteer word terwyl niemand iets kon doen om hulle daaruit te kry nie. En dit was buite so koud dat almal maar so naby aan die vuur moes bly sit as wat hulle kon om warm te bly.
Die volgende oggend het hulle onder groot droefheid die verbrande bene uit die as bymekaargemaak, dit in ’n deken vasgebind en in een gat begrawe.
Daar was nie onderwysers by die Voortrekkers se laers nie en die kinders kon toe nie skoolgaan nie. Elke vader en moeder het maar self hul kinders leer lees en skrywe, en die eerste boekie was die bekende “Trap der Jeugd”, waarin hulle die letters kon leer en kon leer spel en woorde lees. Die boek wat hulle daarna almal moes leer lees, was die Bybel. Die ouers het gesorg dat elke kind die Bybel goed leer ken het. Elke aand, wanneer die swaar trek of die werk van die dag verby is, kom elke familie bymekaar by hul eie wa en die vader hou huisgodsdiens, en almal sing saam psalms en gesange. Dan begin die skool en die kinders word geleer om die Bybel te lees, en te skrywe, so goed as pa of ma dit kan doen. Die groot eksamens wat elke kind moes maak, was die katkisasie en aanneming. Dit is vandag nog bekend as die Boerematriek. So gou as ’n jong seun of dogter die aanneming deur is, dan is die skooldae of liewers skoolaande verby. Dan is hulle ook gereken as grootmense en kon trou. Baie is getroud toe hulle nog maar vyftien of sestien jaar oud was.
Dan het so ’n kind egter ook al die harde skool van die lewe deurgemaak en was heeltemal gewoond daaraan om vir homself te sorg. Die dogters kon goed huishou en die seuns kon hulle plek inneem onder die mans om ’n weg te baan deur die nuwe, wilde wêreld wat vandag ons beskaafde en skone Suid-Afrika is.
Ons kom nou by die groot Driejarige Oorlog tussen Engeland en die twee Boererepublieke, Transvaal en die Oranje-Vrystaat, van 11 Oktober 1899 tot 31 Mei 1902. As daar een deel van ons volk se geskiedenis is waarin die kind van Suid-Afrika ’n groot rol gespeel het, dan is dit gedurende hierdie oorlog. In daardie drie donker jare wat ons land moes deurmaak, het die skaduwee van lyding en van dood ook besonder swaar op ons seuns en dogters en ons klein kindertjies gerus. Maar so tussen daardie droewige en donkere skaduwees deur skyn daar ook ’n helder lig op die opoffering, die manlikheid, die dapperheid en die uithouvermoë van die jongspan. Deur daardie lange, wrede jare het die kind weer die geskiedenis van die dae van die Voortrekkers herhaal; die kind het saam manhaftig geveg op die bloedige slagvelde, saam honger gely en verskriklike ontberings deurstaan op die verbrande en verwoeste plase, saam gely en gesterf in die konsentrasiekampe.
Maar saam met die mans en die vrouens het die seuns en dogters van ons Boerevolk heldedade verrig en roem en eer vir ons klein volkie verwerf, wat in lengte van dae deur ’n dankbare nageslag onthou en geëer sal word. Nie alleen in ons eie land nie, maar deur die beskaafde wêreld het ons jong kinders deur hul groot aandeel in die stryd bewondering afgedwing van ander volke. Die wêreld het eenvoudig verbaas gestaan oor wat plaasgevind het en uitgerig is.
’n Lang tyd het die oorlogswolke oor ons geliefde land gehang. Toe die mense sien dat die oorlog nie meer gekeer kan word nie, is oral haastig voorbereidsels gemaak. Menige seun het al gejeuk om die roer te neem en op te trek, want almal het besef dat die vryheid van ons land en volk in gevaar was – daardie vryheid waarvoor ons voorvaders so duur met hul bloed betaal het. Die roers word skoongemaak en in gereedheid gebring, die perde word gevoer en klaar gehou en al die ander voorbereidsels gemaak, sodat as die bevel om op te saal van die Presidente kom, alles in die haak moet wees om net te groet en te velde te trek.
Op 11 Oktober 1899 kom toe die bevel: “Burgers, julle moet klaar wees.” Die oorlog is daar. Kommandeerlyste word uitgestuur en van alle kante ry gewapende burgers na die plekke waar hul kommando’s bymekaar moes kom. Volgens die kommandowet van die Vrystaat en Transvaal was elke burger van sestien tot sestig jaar verplig om die wapen op te neem en te gaan veg om sy land te verdedig. Elkeen moes ’n ryperd, saal, toom, ’n geweer met dertig patrone en ook mondprovisie vir agt dae gereed hê. Vir die mondprovisie – die kos wat elkeen moes saamneem – was daar geen vaste reël nie, maar die gewoonte was om te sorg vir genoeg biltong en droë boerbeskuit en natuurlik sou niemand sonder koffie oorlog toe gaan nie.
Toe die oproep kom en die kommando’s moes uittrek, was daar dus duisende jongkêrels van sestien, sewentien en agtien jaar onder die vegtende burgers. Hierdie penkoppe was die ywerigste van almal en was net haastig om die vyand op die lyf te loop en te skiet. Baie van hulle het nie al die gevare en swaar van ’n oorlog besef nie, maar aan moed het dit hulle nie ontbreek nie.
Maar dit was nie net seuns van sestien jaar en ouer wat aangesluit het nie. Toe die burgers uittrek, was daar honderde seuns van baie jonger as sestien jaar onder hulle, ja selfs kinders van tien, elf, twaalf of dertien jaar het saamgegaan. Hulle wou hul eenvoudig nie laat keer nie, en party het selfs teen hul ouers se sin van die huis weggeloop. Gedurende die volgende jare, terwyl die oorlog aan die gang was, het baie sulke jong seuns ook nog gedurig kom aansluit en gehelp veg. Hulle wis dat die Boere maar ’n handjievol was teen die groot magte van Engeland, en wou nie tuis sit nie, maar het liewers aangesluit by die kommando’s om te help waar hulle kon en hul deel in die stryd te doen. Baie seuns het saamgegaan om hul vaders te gaan afsien die dag toe die veldkornetskappe van die vergaderplek moes wegtrek. Toe die burgers onder die sing van die volkslied en met die geknal van geweerskote oor die bulte wegry, was menige seun se hart seer oor hy moes agterbly omdat hy te jonk was, en sodra hy later die geleentheid gekry het, was hy self tussen die vegtende Boere op kommando.
Elke generaal, kommandant en ander offisier van die Boere het ná die oorlog met die grootste lof gepraat van die flukse jong penkoppe wat onder hom gedien het en van hul dapperheid en opoffering. Mense van ander nasies wat in aanraking gekom het met die Boere of gehoor het van die oorlog, het verbaas gestaan om die jong kinders onder die stryders te vind, want dit was vir die beskaafde wêreld iets vreemds. Oorlogmaak is mos grootmense se werk en nie kinderspeletjies nie. Maar hulle het die Boereseuns nog nie geken nie. Hulle was taai knapies. Van jongs af het hulle geleer om perd te ry en oor die velde agter die beeste of agter wild rond te jaag; hulle het geleer om ’n geweer te hanteer en raak te skiet; hulle was ook gehard teen wind en weer; daarby het hulle selfstandig grootgeword en elkeen het geleer om sy man te staan en altyd self ’n plan te maak in enige moeilikheid.
Dit is bekend hoe dapper hierdie penkoppe hulle op die slagveld gedra het en hoe hulle nooit die ergste gevare ontsien het nie. Die ouer burgers moes die jongspan maar net altyd keer en maan om nie te onversigtig of roekeloos te wees nie, selfs in die kwaaiste gevegte. As daar op die vyand afgestorm word, was die seuns gewoonlik naby die voorpunt te kry; as daar geveg word, dan wou die seuns soms nie eens skuiling soek agter ’n skans of ’n rots om daarvandaan te skiet nie.
By die gevegte om Ladysmith, in Natal, word ons vertel, was daar so ’n klomp jongkêrels wat eenvoudig nie bang wou word nie, selfs al storm ’n Engelse mag op hulle af. In een van die gevegte het dit kwaai en gevaarlik gegaan. Die Boere is op ’n koppie en skiet van agter groot klippe op die Engelse wat aangestorm kom om hulle te verdryf. Die vyand is naderhand so naby dat die bevele van die offisiere gehoor kon word. Die Engelse kom in volle vaart om die posisie te probeer inneem en die koeëls spat tussen die klippe rond dat dit ’n naarheid is. Toe spring daar skielik ’n klompie penkoppe agter die klippe uit, gaan penregop bo-op die klippe staan en skiet so al wat hulle kan na die vyand. Die ouer mans skree vir hulle: “Klim af en skuil, julle word doodgeskiet!”
Maar dis verniet; die jongkêrels dink nie daaraan om bang te word vir die dood nie, maar net aan skiet. Die gevaarlikste en waaghalsigste dinge is deur hulle aangerig. Soms was hulle roekeloos, maar dit verg darem dapperheid en moed om sulke dinge aan te vang. Dwarsdeur die oorlog het die seuns hulle baie manhaftig gedra en hul leiers kon altyd op hulle reken. Hulle moes maar net die bevel gee en dadelik was die penkoppe gereed om uitvoering daaraan te gee, al was die gevare ook hoe erg.
Die dogters het ook hul deel bygedra. In baie gevalle was al die mansmense van ’n plaas weg op kommando en dan moes die dogters hul plek inneem in die boerdery en na die vee en die saaiery kyk. In koue winternagte moes hulle die lammers versorg; in die brandende hitte van die somerson moes hulle te perd agter die vee ry of te voet by die ploeg stap. Dan was hulle nog dikwels in gevaar van lastig geval te word deur parmantige naturelle wat probeer baasspeel het noudat die mans van die plaas weg was. Maar hulle het alles moedig verdra, en hulle baie deeglik van hul taak gekwyt. Toe die verwoesting en verbranding van plase en huise begin het, was daar baie vrouens en kinders wat hul waens opgepak en na die kommando’s toe gevlug het om uit die hande van die vyand te bly. Dit was geen maklike taak nie. Selfs in die nag, in wind en weer, moes jong dogters dikwels die tou voor die span osse neem of langs die wa loop met die sweep om die trek aan te help. Menige knap, welopgevoede dogter het weke en maande lank te perd gery en die vee aangedryf. Hulle wou so lank as moontik uit die hande van die vyand bly, want word hulle gevang, dan word hul vee afgeneem en hulself na die gevreesde konsentrasiekampe gestuur. Dit het ook gebeur dat die vyand met kanonne en kleingewere geskiet het op laers waar daar net vroue, kinders en afgeleefde manne was, om die laer tot stilstand te bring en te vang. Mens kan jou voorstel wat die ongelukkige jong kinders in sulke omstandighede moes deurmaak.
Dit was oorlog en mens moet allerhande dinge in oorlogtyd verwag. Hierdie gebeurtenisse word ook net aangehaal met die doel om aan te toon wat die kinders van daardie tyd moes deurmaak.
Honderde van die seuns wat so moedig op kommando gedien het, is naderhand in gevegte deur die vyand gevange geneem. Toe is hulle saam met die mans gestuur om opgesluit te word in krygsgevangenekampe waar hulle maande en jare lank agter die doringdrade moes sit. Sommige was in die kampe by Groenpunt en Simonstad in Kaapstad; ander weer is oor die see weggestuur na die eilande Ceylon, St. Helena en die Bermudas. Onder die krygsgevangenes was daar talle jong seuns van tien tot sestien jaar en ouer, wat daar sonder vader of moeder of familielid moes bly, ver weg van hul huis en vaderland. Die meeste van hulle het nooit eens geweet of hul ouers, broers en susters nog lewe nie, want gewoonlik kon hulle geen tyding kry nie.
Die jongspan het die Engelse wagte dikwels baie las gegee deur hul onnutsige streke. Tug moes deur die hoofde gehandhaaf word en dus moes die jongkêrels dikwels gestraf word vir hul ondeundheid. Dit word vertel dat ’n paar van hulle weer eendag iets aangevang het waarvoor hulle moes boet. Hulle kom toe voor die offisier en die straf wat hulle kry, is om ’n dag harde arbeid te doen. Daar moes toe vir hulle werk gesoek word en naderhand word besluit dat hulle ’n klomp bome moet plant. Die hele dag het die kêrels gate gemaak vir die bome en laat die middag neem hulle toe die boompies om dit te plant. Die wagter het nie goed opgelet hoe hulle die bome plant nie, en toe die werk klaar was, het hy hulle weer terug na die kamp laat marsjeer. Die anderdagoggend gaan ’n offisier na die werk kyk, en wat vind hy? Die klomp ondeunde seuns het mooi al die bome onderstebo geplant met die wortels na bo, buitekant die grond. Hulle moes toe weer gedug daarvoor boet, want die offisier was woedend.
By al die kampe is naderhand skole opgerig vir die kinders, deur die krygsgevangenes self, want daar was onderwysers ook onder hulle. Predikante het ook Sondagskole en katkisasieklasse ingestel. Op dié manier het die seuns hul tyd daar as krygsgevangenes nuttig deurgebring. Toe hierdie dinge in ander lande bekend geraak het, was die nasies verbaas om te hoor dat sulke jong skoolkinders al opgesluit word as krygsgevangenes – dit was vir hulle onverstaanbaar. Hulle het nie die Boereseun geken nie, die jong knapie van die vrye Afrikaanse veld, wat nie tuis wou sit nie, maar liewers sy lewe ook gewaag het deur aan die sy van sy vader en sy ouer broer vir sy land en sy volk te veg.
Hulle was helde.
Die treurigste deel van die geskiedenis van daardie oorlog was die lyding van die kinders in die konsentrasiekampe. Op verskillende plekke soos Winburg, Bloemfontein, Bethulie, Springfontein, Aliwal-Noord, ens., is deur die bevelvoerders van die Engelse sulke kampe opgerig. Duisende families van vrouens en kinders is van die plase weggeneem en in daardie kampe geplaas, waar hulle in tente moes woon. Daar het die gesonde kinders van die veld by die duisende beswyk aan siektes, honger en ontbering. Nie minder as 26,370 vroue en kinders nie het in daardie kampe gesterf, en die meeste was kinders. Dit is omtrent vier maal soveel as die burgers wat in gevegte doodgeskiet en in die oorlog dood is. ’n Hele geslag het daardeur vir ons volk verlore gegaan.
Daar lewe nog baie mense wat daardie aaklige tyd deurgemaak het. Dit word ook nie hier aangehaal in bitterheid teenoor die mense wat verantwoordelik was vir daardie konsentrasiekampe nie. Ons bespreek nie hul deel daaraan nie. Dit word net genoem as historiese feit om die rol wat die kind van Suid-Afrika in ons geskiedenis gespeel het, sy aandeel in die lyding, te beskryf en te gedenk. Die kind het in daardie Driejarige Oorlog die swaarste gely. Die seun en dogter van daardie tyd het weer, net soos in die hele voorgeskiedenis van ons volk, die grootste mate van lyding en smart moes deurmaak. Maar hulle het getoon dat hulle waardige afstammelinge was van die stoere Voortrekkers.
Hul aandeel is vir ons volk verewig deur die volksmonument, die gedenknaald wat daar by eensame koppies buitekant Bloemfontein staan as ’n voortdurende herinnering en hulde aan die groot smart en lyding van die kinders van ons volk. Maar ook in die harte van hul volksgenote van vandag en van die verre toekoms sal daar dankbaarheid en hulde wees.
’n Heldedaad wat vandag deur die wêreld bekend is, is verrig op ’n afgesonderde Vrystaatse plaas gedurende die Driejarige Oorlog tussen Engeland en die Boere van die Transvaalse en Vrystaatse Republieke. Die seun aan wie die eer toekom, se naam is Japie Greyling en hy was toe maar elf jaar oud.
’n Paar jaar ná die oorlog het die seun se dapperheid en trou aan sy volk bekend geraak. Die Afrikaanse digter, Jan Celliers, het hom gaan besoek en van sy moeder en ’n bediende met die naam van Sanna, wat alles gesien het, al die besonderhede gekry. Jan Celliers het toe sy bekende en roerende gedig “Japie Greyling” gemaak en daardeur die naam en daad van hierdie seun verewig vir ons volk en ons nageslagte.
’n Aantal jare gelede het die Engelse offisier wat destyds as kaptein Seeley (later generaal) verantwoordelik was vir wat gebeur het, die gebeurtenis beskrywe in ’n boek oor sy oorlogsherinneringe [J.E.B. Seeley: Fear and be Slain] Generaal Seeley swaai die seun groot lof toe vir die edele, dapper en bewonderenswaardige optrede van daardie dag.
Die Engelse kommando het omtrent dertig myl gelê van die plaas waar Japie met sy moeder en susters gewoon het. ’n Spioen het berig gebring aan die Engelse laer dat daar ’n Boerekommandant saam met ’n paar ander dié nag op die plaas is. Hulle wou baie graag die Boere en veral die besondere kommandant vang, en kaptein Seeley gaan toe in die middel van die nag met twintig gewapende en uitgesoekte Engelse soldate daarheen om te probeer om die Boere te betrap. Hulle het die hele nag deur gery en so teen die rooidag kom hulle eindelik naby die plaas, wat hulle mooi in die skemeroggend kan sien. Toe verdeel hulle in twee groepe om die plaas te omsingel en so die Boere vas te keer.
Maar wat, die Boere was vir hulle te gou. Toe die Engelse naby kom, sien hulle drie ruiters van die plaas wegry. Hulle probeer om die Boere te keer, maar verniet. Die drie ruiters se perde was te vinnig en jaag skoon onder die Engelse uit. Die Engelse sit hulle agterna so vinnig as wat hul kan, maar sien die Boere naderhand ver voor hulle oor die rantjies jaag.
Kaptein Seeley ry toe vinnig na die plaas toe om te sien wie nog daar is en uit te vind waar die kommando van die Boere is.
Japie het dié oggend douvoordag opgestaan en die vuur in die kombuis aangesteek om koffie te maak. Hy sien die Engelse troepe aankom en gaan na buite. Daar kry die Engelse hom. Die spioen by die Engelse kon Afrikaans praat en hy vra toe vir die seun wat sy naam is.
“Wie is jy?”
“Ek is die seun van my pa, wat hulle nie kon vang nie.” Kaptein Seeley sê dat hy nie anders kon nie as om die dappere houding van die jong seun te bewonder wat daar tussen twintig van die vyand staan.
“Waar is die Boere heen?” vra hulle hom weer.
“Na hul kommando toe.”
“Dit weet ek,” sê kaptein Seeley, “maar waar is die kommando? Wys vir my waar is hulle.”
Die seun kyk voor hom op die grond vir tien tellings; toe kyk hy op en antwoord: “Dit kan ek nie vertel nie.”
Die Engelse offisier vererg hom en besluit om enige ding te doen om die seun sy mense te laat verklik. Hy dink dat die maklikste manier is om die seun bang te maak totdat hy vertel. Maar hy het verkeerd gereken as hy gedink het om deur dreigemente en bangmaak die Boereseun sover te kry dat hy sy eie volk sal verraai.
Kaptein Seeley stap toe tot by Japie en sê kwaai vir hom:
“Jy moet my vertel anders sal ek jou laat doodskiet.”
Japie kyk die offisier vas in die oë en sê weer:
“Nee, ek sal nie vertel nie.”
Dit was nie na die offisier se sin nie, en hy het nie lus gehad om lank met die seun te staan en lol nie, anders kon hy en sy manskappe nog dalk deur die Boere daar gevang word.
“Nou ja,” sê hy vir Japie, “as jy nie wil vertel nie, sal ons jou teen die muur sit en jou doodskiet.”
Dit het nog nie vir Japie bang gemaak nie en hy weier beslis om hulle te sê wat hulle wil weet.
“Skiet my maar dood,” sê Japie.
Die offisier sê vir sy sersant om ses troepe reg te laat staan met hul gewere. Japie word deur twee Engelse geneem en teen die muur geplaas. Die ses troepe kniel op die grond neer en laai hul gewere wat nou reguit op die arme seun gemik word. Kaptein Seeley sê hy het saggies vir die sersant gesê dat hulle nie regtig moes skiet nie, maar hy is seker daarvan dat die seun dit nie geweet het nie.
Die Engelse offisier is nou haastig en hy wil Japie dwing om te praat.
“Kom, vertel my nou gou waar is die Boere se kommando!”
Daar staan Japie teen die muur en hy kyk in die lope van ses gewere wat na hom korrel. As hy maar net wil sê waar die kommando is, sal hulle hom laat loop en niks sal hom oorkom nie. As hy weier om te vertel, sal daardie ses gewere netnou gelyk losbars en die wrede koeëls sal sy ou lyfie stukkend skiet. Wat sal hy doen? Moet hy sy eie lewe red en die Boere, sy eie mense, verraai? Of moet hy dapper wees en weier om dit te doen al word hy doodgeskiet?
Hy is maar ’n seuntjie van elf jaar en sy hele lewe lê voor hom. Sy pa is weg op kommando en hy moet hier op die plaas vir sy moeder en susters help met die boerdery.
Wat ’n vreeslike versoeking vir so ’n jong seun wat die dood voor hom sien in die bekke van die Engelse se gewere!
Japie het nie getwyfel nie. Daar was vir hom maar net een pad oop. Hy sal nie ’n verraaier wees nie. Hy skud sy kop vir die Engelse offisier.
“Laai jul gewere!” skree die offisier hard. Die ses man trek die slotte van hul gewere reg.
“Staan klaar!”
Die ses gewere word na die skouers gebring en die soldate vat korrel op Japie.
Die seun staan doodstil en roer nie en praat niks nie. Hy skud net weer sy kop. Sy moeder en susters staan dit verslae en verstom in die grootste angs en aanhoor.
Die offisier stap weer 'n tree vorentoe en sê parmantig:
“Toe sê my nou gou voor hulle skiet.”
Die dappere houding van die seun was wonderlik en kaptein Seeley vertel in sy boek dat hy toe een van die pragtigste dinge gesien het wat hom nog ooit in sy lewe te beurt geval het. Die seun se gesig het geglinster van vaderlandsliefde en toewyding. Hy lig sy hoof op, kyk die offisier in die gesig, sit sy hande agter die rug en sê met 'n helder en harde stem:
“Ek sal nie sê nie.”
Dit was eenmaal te veel vir die Engelse. Die trou en moed van hierdie elfjarige kind uit die Boerevolk het hulle gewen. Die offisier stap vorentoe tot by die seun en lig sy hand op. Japie dink dat die man hom ’n klap gaan gee, maar toe neem die offisier sy hand en sê: “Ek hoop ek sal jou weer eendag ontmoet.”
Daarna spring die Engelse op hul perde en jaag weer weg van die plaas terug na hul eie kommando.
Hoor wat sê generaal Seeley dertig jaar ná die gebeurtenis daardie vroeë oggend op die Vrystaatse plaas:
“Solank as wat ek lewe, sal ek nooit daardie wonderlike oomblik vergeet nie, toe liefde vir vader, huis en land getriomfeer het oor ’n dreigende en vir hom gewisse dood; nooit sal ek die uitdrukking op die gesig van daardie Boereseun vergeet nie, toe hy met sy hoof regop en met glinsterende oë vir my gesê het:
‘Ek sal nie sê nie!’”
Opmerking: Vierkanthakies [ ] is gebruik waar ’n eie woord of verbandhoudende inligting bygevoeg is.
Groetend
Helena Liebenberg
http://www.taaloord.co.za
Vooraf
Daar is seker weinig woorde in die menslike taal wat ryker is aan betekenis vir die enkeling sowel as die menigte as die woord vryheid. Maar daar is seker ook weinig woorde wat meer misbruik word, juis in die naam van die vryheid, of waarmee op groter skaal in die wêreld-politiek gesmous word, as hierdie doodgeryde woord.
In ons eeu is reeds twee volksverknegtende wêreldoorloë in die naam van die menslike vryheid gevoer. Die eerste sou dan die vryheid van klein nasies ten doel gehad het – maar met watter ironiese resultaat? En wie onthou nie die bekende slagkreet van die tweede (“We fight for world freedom!”) wat tallose male oor die vier winde van die hemel onder begeleiding van fanfaremusiek weerklink het nie? En gewag ons eie kort geskiedenis nie reeds van twee heldhaftige Vryheidsoorloë teen Britse aggressie en geweldpleging nie?
Maar waarin bestaan nou eintlik hierdie wonderlike “vryheid” waar elke mens en elke volk na smag, en waarvoor individue sowel as volke nog altyd bereid was en is om, as dit daarop aankom, die hoogste moontlike offer te bring – te wete hulle eie lewensbloed?
Beteken persoonlike vryheid dat jy kan doen en laat net soos jy wil, dat jy kan maak en breek soos jy lekkerkry? Seer seker nie. Beteken volksvryheid dat ’n bepaalde volk hom aan die hele wêreld nie meer hoef te steur nie en maar ongehinderd sy eie gang kan gaan? Hoegenaamd nie! Maar wanneer is ’n mens en ’n volk dan werklik vry as ons almal links en regs aan bande gelê word? Laat ons ’n antwoord probeer vind op hierdie vrae en allereers die vraag van persoonlike vryheid bespreek.
Persoonlike Vryheid
Die lewe lê aan elke mens sekere beperkings op wat voortvloei uit sy persoonlike verhouding tot ander mense op huislike, maatskaplike en staatkundige gebied Want elkeen van ons is deel van ’n groter geheel (die huis of familiekring), wat weer deel is van ’n nog groter geheel (die samelewing of maatskappy), wat weer deel is van ’n nog veel groter geheel (die volk of staat waartoe ons behoort).
Die individu is dus een van baie ander soos hy of sy, wat onderling aan mekaar verbind is deur allerlei bande van bloed- en rasverwantskap, van taal en kultuur en godsdiens – waardeur almal saamgesnoer en van mekaar afhanklik gemaak word. Daarom kan niemand net vir homself leef nie, maar moet elke mens voortdurend rekening hou met sy medemens; daarom kan geen huis of samelewing of staat bestaan sonder bepaalde geskrewe en ongeskrewe wette, waardeur die onderlinge verhouding van individue tot mekaar gereël word nie.
Waar daar geen wetmatigheid, geen algemeen erkende en geëerbiedigde gesag bestaan nie, moet wetteloosheid en bandeloosheid ontstaan en gevolglik onderdrukking en uitbuiting van die swakkere deur die sterkere – vernietiging derhalwe van individuele vryheid. Die eerste vereiste vir ware menslike vryheid is dus wet en orde, en dit is trouens ook die eerste groot grondbeginsel van Gods hele skepping. Wil die skepsel derhalwe waarlik vry wees, dan moet hy in eerste instansie leer om hom aan die oppergesag van sy Skepper te onderwerp en dienooreenkomstig te lewe. Met ander woorde – die mens se hoogste vryheid bestaan in sy gebondenheid aan en eerbiediging van ’n Oppergesag, in sy inagneming van die verordeninge van sy Maker, soos dit geopenbaar word nie net in die Heilige Skrif nie, maar ook in die natuur- en sedewette waavan ons menslike bestaan en voortbestaan afhanklik is.
En dit geld ook van alle ander menslike verordeninge wat op wettige gesag berus. Solank as ek die landwet eerbied – my dus daardeur laat bind – is ek ’n vrye man; maar sodra ek die landswet minag of opsetlik oortree, beland ek in die tronk. Juis deur my wetsgebondenheid te verbreek, verbeur ek my persoonlike vryheid. Solank as ek matig lewe en reëlmaat beoefen, wat eet en drink en werk en ontspanning betref, kan ek ’n leeftyd lank gesond en sterk bly; maar sodra ek my aan oordaad van watter aard ook skuldig maak – dus weer die aan my gestelde perke te buite gaan – kan ek in ’n ontydige graf beland.
Hoeveel mense is daar nie wat oënskynlik vry is, maar in werklikheid ’n slawejuk dra nie? Want die arme mens wat hom deur een of ander hartstog laat beheers – en die naam van hierdie soort duiwel is Legio – is nie meer vry nie; hy is niks minder as ’n slaaf nie en sal vroeër of later tot die pynlike ontdekking kom dat hy hom sodanig laat vasketting het dat hy nie meer kan loskom nie.
Persoonlike vryheid beteken dus in werklikheid self-beperking en selfdissiplinering – baasskap oor jouself. En onderdanigheid aan u Skepper.
Volksvryheid
Kent
gij dat volk vol heldenmoed,
en
toch zo lang geknecht?
Het
heeft geofferd goed en bloed
voor
vrijheid en voor recht
–
dat vrije volk zijn wij!
Heft,
burgers, ’n lied der vrijheid aan
en
zingt ons eigen volksbestaan –
van
vreemde banden vrij!
[Volkslied
van die Transvaalse Republiek, amptelik Zuid-Afrikaansche Republiek]
Laat ons nou die vraag van volksvryheid vlugtig in oënskou neem, meer bepaald met betrekking tot ons eie volk. Op nasionale feesdae sing ons dikwels nog die eertydse Volksliedere van die gewese Transvaalse en Vrystaatse Republieke, enkele bekende reëls waarvan hierbo aangehaal is. En dan beteken dit tans vir my soos vir elke gebore ou Republikein, maar net ’n weemoedige hulde aan ’n skone vryheidsverlede, maar net ’n herhaalde afskeids-himne aan wat eenmaal vir ons bestaan het, maar wat vir ons kinders nie meer bestaan nie. En as ons die volle betekenis daarvan destyds nog nie kon besef nie, hoeveel minder kan ons kinders van vandag dit dan besef?
Daardie liedere gee uiting aan ’n ideaal wat diep in die Afrikaner-siel leef, omdat die wortels daarvan tot in die verre verlede terugreik en omdat dit van geslag tot geslag voortgedra en telkens weer deur nuwe offers op die vryheidsaltaar geheilig is. Want dit was die vryheidsideaal waarvoor ons verre voorsate – Geus en Hugenoot – goed en bloed veil gehad het en wat deur hulle na die afgeleë suidhoek van Afrika oorgeplant is; dit was die vryheids-ideaal waarvoor ons latere voorvaders en -moeders huis en haard vaarwel gesê en die woeste wildernis ingetrek het; dit was die vryheidsideaal waarvoor die Boerevolk tot die bitter einde op die slagvelde van Suid-Afrika gestry en in die konsentrasiekampe gely het – vyf-en-veertig jaar gelede. En met die verlies van daardie laaste stukkie onafhanklike Boerebestaan was ons duurverkreë staatkundige vryheid vernietig, maar nie ons diepgewortelde vryheidsideaal nie. Want met verloop van tyd het die besef al hoe sterker geword dat waaragtige volksvryheid nie in die eerste plek van ’n bepaalde staatsvorm afhang nie, en dat dit nie soseer langs staatkundige as langs sielkundige weg gesoek moet word nie.
Met ander woorde – “ons eigen volksbestaan, van vreemde banden vrij”, het gaandeweg moontlik geblyk ook sonder die vroeëre Republikeinse staatsvorm. Want die platgetrapte doringboompie, al was sy stammetjie so amper middeldeur, het weer stadig regop gekom; uit die puinhope van ’n oënskynlike verlore vryheidstryd het ’n gelouterde volksiel as uit die dood opgestaan en nuwe gestalte aangeneem. Daarvan getuig die wonderlike bloei van ons eie taal en eie letterkunde en eie kultuur; daarvan getuig die algemene volksontwaking op ekonomiese, opvoedkundige, wetenskaplike en ander gebiede Kortom – die vernietigingsdroom van die veroweraar het al spoedig geblyk ’n ydele droom te wees.
Die vraag kan selfs gestel word of “dat vrije volk” van destyds nie miskien groter gevaar geloop het om onbewus deur “vreemde banden” geestelik verslaaf te raak, juis binne die vrye Republiek, as ons vandag daarsonder nie? Want die grotendeels landelike bevolking van die ou Republieke het nog in salige onbewustheid geleef van die magtige gevaar wat nie alleen die landsgrense nie, maar veral die volksiel van buite bedreig het. Dit was eers nadat die Republieke vernietig was dat ons oë oopgegaan het vir die moontlikheid van algehele volksvernietiging.
Daarna eers het die Boerevolk as geheel hom ten volle bewus geword van die magtige vreemde invloede wat toe reeds sedert honderd jaar in Kaapland aan die werk was om daardie deel van ons volk van sy eiendommelike karakter, van sy volkskultuur van sy geestesvryheid te beroof. Daarna eers het dit geblyk dat hierdie angliseringsproses nou ook stormenderhand in die verowerde Republieke toegepas sou word. Daarna eers is die stryd om erkenning van ons volkstaal met vasberade erns aangepak en tot aan sy finale triomf deurgevoer; daarna eers het die landswye wekroep weerklink: “Handhaaf en Bou!” Daarna eers het ons van suid tot noord waarlik volksbewus en taalbewus en kultuurbewus geword.
Maar met dit alles staan ons feitlik nog maar aan die begin van hierdie merkwaardige wedergeboorte, en die gevare wat die volksiel nog steeds bedreig, neem met die dag eerder toe as af, veral in ons stede. Daarom is onvermoeide waaksaamheid op alle terreine van die volkslewe ’n gebiedende noodsaaklikheid. Ons mag nie een oomblik met die bouwerk verslap nie.
Dit blyk dus dat ons nie hoef te wag tot Suid-Afrika eendag miskien ’n Boererepubliek sal word om inderdaad as “vrije volk” bestempel te kan word nie. Inteendeel – hoe eerder die volksiel hom volkome aan die geestelike verslawing van alle “vreemde banden” kan ontworstel, des te eerder sal ons volk ook die beloofde land van staatskundige onafhanklikheid weer kan binnegaan.
Uit DIE BRANDWAG-GEDENKALBUM, AFRIKAANSE PERS/BOEKHANDEL, 1957, Johannesburg.
(Met erkenning aan die KAP vir die deurstuur van bogaande dokument)
‘De la Rey’ skep nuwe selfbeeld
Treffende
reaksie op verswyging van Afrikaner-rol
deur Jaap
Steyn
Beeld-forum
1 Maart
2007
Baie is oor De la Rey gesê.
Oor een ding stem almal saam en dis dat die mitiese figuur van genl. Koos de la Rey dit verdien om besing te word. In die Vryheidsoorlog was hy ’n groot krygsman en bekend vir sy vernuwende taktiek.
Aktueel is daarby sy geloof in die toekoms van Afrikaans. Baie Afrikaners in die 19de-eeuse Transvaal wou meer Engels hê, ander weer Hollands. Min mense het Afrikaans ernstig opgeneem.
De la Rey het in ’n Volksraaddebat gesê dat pogings om Afrikaans teen te gaan, vergeefs sal wees. Afrikaans is ewe geskik as Hollands of enige ander taal om beskaafde uitdrukking aan gedagtes te gee.
Bok van Blerk, Sean Else en Johan Vorster sorg met “De la Rey” vir ’n treffende reaksie op die verswyging van die Afrikaners se aandeel aan die geskiedenis van Suid-Afrika. In skoolgeskiedenisboeke kry selfs die Anglo-Boereoorlog net ’n paar afskeep-sinne, terwyl dit een van die mees heroïese tye in ons geskiedenis was.
Europa en die VSA het die Boere bewonder. Die Russiese skrywer Leo Tolstoi, veral bekend vir War and Peace, het baie van De la Rey gedink, en het gesê: “Wanneer ek van Britse nederlae lees, voel ek baie bly in my hart.”
Beroemde digters soos Willem Kloos, P.C. Boutens en Albert Verwey het gedigte oor die Boere geskryf. Verwey beweer: “’n Ander en beter mensesoort het opgestaan, ’n beter volk as ons stry in Suid-Afrika vir sy bestaan.”
Nog iemand uit dié tyd, pres. Paul Kruger, kry aandag in ’n nuwe boek, Paul Kruger se laaste jare 1899-1904. Hierin gee prof. Paul Zietsman ’n interessante beskrywing en tientalle foto’s van Kruger se “pelgrimstog vir vryheid” (November en Desember 1900). Só het die Europese pers sy reis genoem om die Boererepublieke se saak in Europa te gaan bepleit. Zietsman sê dat die Europese volksmassas Kruger met groter verering en simpatie ontvang het as selfs oudpres. Nelson Mandela later.
Kruger se reis het begin in die hawestad Marseille, waar 130 000 Franse hom ingewag het. Hy was op die Nederlandse oorlogskip De Gelderland, wat koningn Wilhelmina van Nederland gestuur het om hom van Lourenço Marques (Maputo) na Europa te bring.
’n Leier van die Franse Boere-vriende, senator Paulliet, het sy toespraak begin met die woorde (wat uit Frans in Nederlands getolk is): “Meneer die President, diep ontroer staan ek voor u, wat met die Boere die hoogste en edelste deugde verteenwoordig wat die mensheid tot eer strek: die ontembare liefde vir vryheid en onafhanklikheid en die onwrikbare geesteskrag om liewers alles te deurstaan, die smartlikste lyding, ja selfs die dood, as om te buig voor die vreemde juk.”
Parys was die hoogtepunt van Kruger se reis. Daarvandaan is hy na Duitsland, maar keiser Wilhelm wou hom nie te woord staan nie. Miljoene Duitsers het dit die keiser kwalik geneem.
Geeneen van die Europese regerings kon sy wil op Brittanje afdwing nie, ondanks die sterk gevoelens van hul volkere.
Volgens ’n Nederlandse letterkundige, Hans Ester, het baie Nederlanders Kruger byna as ’n god, ’n mitologiese held, beskou en probeer aanraak. In Den Haag moes ’n hoteleienaar op ’n openbare funksie ’n bordjie by Kruger plaas met die versoek dat die gaste hom nie moes aanraak nie!
Vandag is ons nugterder oor helde. Ons besef met die woorde van N.P. van Wyk Louw in Die pluimsaad dat ’n volk bestaan uit “goeies, slegtes, dapperes – dapperes en banges – niemand heilig voor God nie, maar almal sondaars”.
Maar ons eer die dapperes en die bittereinders. Hulle het die wêreld met hul vryheidstryd aangegryp.
En terwyl die huidige bewind die helde uitskryf uit hul land se geskiedenis en hul taal verwond, verower “De la Rey” met sy klinkende Afrikaans Suid-Afrika stormenderhand.
’n Mens wil amper wens dat die anti-De la Rey-brigade harder skreeu. Want hoe meer hulle lawaai, hoe meer word die lied gesing – dit toon die Loftus-base se ommekeer – en hoe meer sal ’n jong geslag wil weet wie saam met De la Rey in die heldegalery staan, en waarom.
Só word ’n nuwe groepselfbeeld geskep, hoe gretig ander ook is om dit te wil afskiet en die Afrikaner permanent met skande te wil beklad.
Prof. Jaap Steyn is ’n onafhanklike historikus en kommentator.
De la Rey-CD
(http://www.bokvanblerk.co.za)
Mozi Records (Sean Else en Johan Vorster) kondig met trots aan dat Bok van Blerk se debuutalbum De La Rey so pas 5 keer goud bereik het!!! Baie dankie aan almal wat die CD gekoop het!
In Februarie 2006, word Bok van Blerk se debuut-CD, Jy praat nog steeds my taal in Suid-Afrika vrygestel. In Oktober 2006 herdruk die vervaardigers van Mozi Records die CD as … De La Rey en sluit die epiese musiekvideo in, gereken deur MK89 as die beste musiekvideo nog ontvang. Tans is die CD nommer 3 op kykNET se program DKNT, en het dit op 2 November 2006 goue status bereik.
Bok van Blerk (kunstenaarsnaam van Louis Pepler, ’n boorling van Boschkop, Donkerhoek se wêreld, noord van Pretoria) is trots Afrikaans en elke stukkie musiek op sy CD drup van heerlike kultuur. Van die voet-in-die-hoek treffers soos ’68 Cevy (Minki), Habana! en Hatfield Jol regdeur tot die hartroerende So waai die wind en die magtige volkseie … De La Rey met as aanvangswoorde:
"De la Rey, De la Rey, sal jy die boere kom lei De la Rey. De la Rey, Generaal, Generaal, soos een man sal ons om jou val, generaal De la Rey …"
Bok van Blerk sing hier van genl. Koos de la Rey – “’n man van durf en daad, ’n man van aksie, ’n man met gewete, ’n ware leier wat, indien hy vandag gelewe het, nie net ons volk nie, maar die ganse Suid-Afrikaanse nasiedom sou help vorder het tot by daardie wonderlike land wat die Nuwe Suid-Afrika nog altyd veronderstel was om te wees. Dit is waaroor hierdie veelbesproke lied gaan.” (Koos Kombuis, LitNet, 28 Nov. 2006)
Met sy platinumtreffer het hy en sy generaal ’n volksenuwee raakgeboor. Watter debát het nie vlamgevat oor Afrikanerskap, oor kultuur, oor wortels nie. Dis ’n quo vadis, Boere – met ondertoon van ’n nuwe Afrikaner-nasionalisme, die eerste ‘struggle song’ van die nuwe Boere-Afrikaners. (Hanlie Retief, Rapport, 27 Jan. 2007)
Die De la Rey-generasie, word hulle genoem.
Tot nie so lank gelede nie, was die 6e April ’n openbare vakansiedag in Suid-Afrika en het as Van Riebeeck- en later Stigtingsdag bekend gestaan. In nakoming van ’n eeue oue gelofte deur Jan van Riebeeck, wat die VOC-nedersetting aan die Kaap die Goeie Hoop tot stand gebring het, is sy aankoms vir baie dekades lank jaarliks paslik gevier.
Die volgende in-voëlvlug-oorsig van gebeure op en oor hierdie belangrike datum is grotendeels saamgestel uit brondokumente wat in die Kaapstadse Argiefbewaarplek gehuisves word, aangevul deur gegewens uit enkele ander bronne.
Replika
van die Drommedaris
(Klik
vir vergroting)
Om halfdrie die middag van 5 April sien die opperstuurman van die Drommedaris die omtrek van Tafelberg uit die see opdoem en hy kry ’n beloning van 8 Spaanse reale. Dadelik word die skeepsvlag gehys en ’n kanon afgevuur om die ander twee skepe te waarsku dat die land gesien is. Om eenuur die nag is hulle na aan die kus. Aangesien die Goede Hoope en die Reijger nêrens te sien is nie, laat Van Riebeeck ’n tweede vuur brand, aangesien twee vure die afgesproke sein was dat hulle hul bestemming bereik het. Om vieruur dié oggend is al drie skepe bymekaar aan die Kaapse kus (Daghregister, deel I: 19).
So het die son opgegaan op die môre van die 6e April, wat Van Riebeeck self later beskou het as die stigtingsdag van die nedersetting. Daardie dag het die skepe rustig naby die kus bly lê, terwyl Van Riebeeck sy boekhouer, Adam Hulster, en die onderstuurman, Aernt van Ieveren, in ’n sloep uitgestuur het om Tafelbaai te verken. Eers twee uur voor sononder kom hulle weer terug met die gerusstellende berig dat daar geen skepe in die baai was nie. Met behulp van ’n sagte suidewind kom die Drommedaris en die Goede Hoope die baai binne. Hulle laat die ankers sak naby die “versse” rivier, terwyl Van Riebeeck reëlings tref vir alles wat die volgende dag gedoen moet word. Eerstens moet skipper Davidt de Coninck baie vroeg gereed wees om saam met ses gewapende soldate te land. Hulle moet kyk of daar briewe of papiere onder die sogenaamde poskantoorklippe lê en ook soek na vars groente. De Coninck moet ook ’n seën/treknet saamneem om vis te vang.
Op Sondag, 7 April, skryf van Van Riebeeck as opskrif bo-aan die Daghregister: “In ’t schip den Drommedaris ter rheede aen Cabo de Boä Esperance”. Nog twee volle weke en twee dae sou almal in die skip oornag en slegs aan land gaan om te werk.
Aangesien Van Riebeeck hom die moeite getroos het om baie deeglik boek te hou van alles wat gedurende sy verblyf aan die Kaap gebeur het, tas ons nie in die duister rond nie. Tog het party skrywers en skilders dit nodig geag om hul fantasie die vrye teuels te gee, sodat daar voorstellings is waarvolgens Van Riebeeck met ’n vaaldeldraer en ’n yslike vlag aan land kom en geskenke gee aan ’n klompie [Khoina] wat eerbiedig voor hom staan. Só het byvoorbeeld Charles Bell in 1850 Van Riebeeck se landing voorgestel. Die werklikheid was anders.
Toe die Reijger op Sondag, 7 April, sy ankers langs die ander twee skepe laat sak het, was skipper De Coninck reeds met ses gewapende soldate aan land besig om na briewe te soek. Net ná 8-uur die oggend kom hy terug met baie vis en enkele briewe.
Teen die aand van hierdie eerste Sondag aan die Kaap het Van Riebeeck saam met sy skipper aan land gegaan om naasteby te besluit waar die fort gebou moes word (Böeseken: 56).
6 April tydens Jan van Riebeeck se ampstermyn
Die volgende aanhalings is geneem uit Van Riebeeck se Daghregister en aangevul uit enkele ander bronne.
APRILUS ANNO 1653
Sondagh, 6en dito, heel stil weer, op den dach ’t luchjen Z.westelijck; sijnde verleden nacht een soldaet, genaemt Andries de Belij, overleden.
Tegen den nacht begon ’t vrij te regenen vermenght met veel weerlight ende donder.
APRILIS ANNO 1654
Paesdagh, den 5en dito, werm weer ende windt als gister, tot tegen den avont begond uytten Nwesten wat te koelen met regen.
[Maandag] 6en ditto ... Heden voor de tweede mael jarich sijnde dat wij door Godes Hulpe geleyde met de scheepen Drommedarus, Reyger ende Goede Hoope hier ter plaetse behouden sijn aengelandt omme dese fortresse ende colonie nae d’ ordre onser Heeren Meesters op te maecken ende stabileren, ende gemerckt Godt de Heere alle die saecken tot den dach van heden met veele segeningen wel ende gewenscht heeft laeten succederen ende voltrecken,
soo hebben beslooten, ende oock voor d’ eerste reyse begonnen, desen dach, den 6en April wesende, tot Godes eere met dancksegginghen te vieren ende voor altijt tot een vastblijvenden danck- ende bededach in te stellen, ten eynde daerbij des Heeren weldaeden, aen ons bewesen, bij ons naecomelingen nooyt vergeten, maer altijt tot Godes eere ter gedachtenisse in memorie gehouden mogen worden.
Afrikaans
6 APRIL 1654. Aangesien dit vandag twee jaar gelede is dat ons met God’s hulp en leiding met die skepe Drommedaris, Reiger en Goede Hoop veilig hier geland het, om hierdie fort en kolonie in opdrag van ons here en meesters op te bou, en ons gemerk het dat God die Here al die sake tot vandag toe met baie seëninge, goed en na wens laat verloop het,
het ons besluit, en ook vanjaar daarmee begin, om hierdie dag, 6 April, tot God’s eer met danksegging te vier, en dit vir altyd as ’n dank- en biddag in te stel, sodat ons nakomelinge nooit die weldade wat God aan ons bewys het, vergeet nie, maar dit altyd in gedagte mag hou.
English
6th APRIL 1654. Today is the second anniversary of our safe arrival with the ships Drommedaris, Reijger and Goede Hoop at this place through the Holy guidance of God to build this fortress and establish this settlement according to the instructions of our Lords and Masters, and the Lord God has hitherto given His abundant blessing to the satisfactory and successful accomplishment of all these matters.
We have therefore, resolved, and also for the first time begun to celebrate this 6th day of April in the name of the Almighty, and henceforth to set it aside for all time as a day of thanksgiving and prayer, so that our descendants may never forget the mercies we have received at the Lord’s Hands, but may always remember them to the Glory of God. (Honikman, 1966)
APRILIS ANNO 1655
[Dinsdag] 6 do., fraij, droogh weer, ende jarigh sijnde van den dagh onses arrivements uijt ’t patria alhier, hebben op dato den daerover gestelden danck- ende bededagh gehouden, ende dierhalven door den predicant van den Phenicx, genaempt Harmanus Bushoff, ’t woordt Gods laten predicken.
Opmerking: Ds. Hermanus Bushoff, wat hier op 6 April 1655 die godsdiensoefening waargeneem het, is in 1620 in Utrecht gebore. Na suksesvolle studie in Leiden en Utrecht, en nadat hy reeds enige jare in Nederland in die bediening gestaan het, het hy op 10 Desember 1654 met die Vogel Phenix uit Texel na Oos-Indië vertrek. Hy was dus juis op sy uitreis toe hy die erediens op 6 April 1655 aan die Kaap gelei het. Op 24 Junie het hy in Batavia aangekom. In die Ooste was hy predikant op Formosa en later te Batavia, waar hy in 1674 oorlede is.
APRILIS ANNO 1656
[Donderdag] 6 dito, fray weer en de wint westelijck als voren. Ende is op heden gehouden den jaerlijckxen bede- ende danckdagh over ’t geluckigh arrivement ende goet succes van de begonnen besettinge deser plaetse, etc.
Item tegen den avont affscheyt gegeven d’ opperhooffden van ’t jacht den Hector, omme met den eerste goeden wint haer reyse na Batavia te vervorderen.
APRILIS ANNO 1657
5en dito, Op dato is d’ E. Heer Commissaris voormelt met den Commandeur Riebeecq weder uytgegaen ende al de bakens over de vlacte van de Tafelbay ende Bay Fals besichticht ende nagesien, mitsgaders wijders alle considerable distantien laten affmeten ende aenteyckenen. Item oock
den 6en, als wanneer Sijn E. tegen den avondt na gedaen werck weder aen ’t fort quam.
Opmerking: Van Riebeeck se aandag is vermoedelik tot so ’n mate deur die besoekende kommissaris in beslag geneem dat hy vergeet het om die dag van sy aankoms aan die Kaap, 6 April, as ’n dankdank- en bededag te vier, soos hy in 1654, 1655 en 1656 gedoen het. In 1658 is dit blykbaar ook oor die hoof gesien, maar in 1659 is dit weer op die gewone wyse gevier.
APRIL ANNO 1658
[Saterdag] 6 dito, idem, goet weer als vooren. Was ’t Schapejacht al weder hier gecomen met 16 stucx schapen. [Volgens hierdie aantekening wil dit voorkom of 6 April, die dag van Van Riebeeck se aankoms aan die Kaap, in 1658 ongemerk verby gegaan het.]
Ende ’t vrijmans-vaertuygh van ’t Dassen-eylandt met vis ende eyeren.
Heden had den schapewachter door achteloosheyt 15 schapen in ’t velt verlooren, na dewelcke gesocht maer geen wederom gevonden wierden; des gelast is hem deselve tot straffe op reecqueninge te stellen tegen 10 gulden ’t stucq, opdat na desen beter sal oppassen.
Heden hebben de navolgende persoonen voor den Raedt ondertrouw gedaen, conform de resolutie hieronder g’insereert, luydende als te weten [kom ook voor in die Resolusies van die Politieke Raad waaruit die volgende aangehaal is]:
SATERDAGH DEN 6 APRIL AO. 1658
Hendrick Hendricxsz van Surwurden jonghman ende vrijburger alhier out 23 jaren, sich in trouwbeloffte begeven hebbende met d’ eerbare jonge dochter Grietge Fransz Meeckhoff geboortich van Steenwijck Out 19 jaren in dienst ende onder voogdije staende van den oppercoopman Willem Reijersz bescheyden op ’t alhier ter rheede leggende schip Wapen van Amsterdam, ende versoeckende mits toestaen van denselven oppercoopman metten andren wettelijck in den H. echten staedt te mogen bevesticht worden: mitsgaders ten dien eijnde te vergunnen dat de gebooden soude mogen binnen dese twee navolgende dagen werden affgecundicht door dien bovengem. schip jegenwoordich ten naestenbij vaerdigh leght om metten eersten te vertrecken, Soo is (om ’t selve schip ter saecke voorsz in sijn voorder te doene voijagie niet te retardeeren offte op te houden &a.) bij den Raedt deser fortresse versterckt met d’ E. Commandeur Cornelis Qualbergen ende oppercoopman voorsz niet anders hebbende cunnen vernemen als dat beijde liber ende vrije persoonen waren welcke met niemandt ter werelt, volgens haer als ook voorsz oppercoopmans eijgen verclaringe, ijtswes dienaengaende uijtstaende hadden, verstaen deselve jonge luijden haer billick versoeck te consenteeren, mitsgaders ten dien fine, om redenen voorsz morgen Sondagh sijnde nae ’t Cristelijck sermoen haer eerste, ’s avonts na ’t gebedt de tweede ende op Maendagh des avonts haer derde affcundigen te laten doen, omme als dan Dincxdagh ’s morgens (geen wettige oorsaecke van verhinderinge voorcomende) door den Secretaris van onsen Raedt (vermits hier geen predicant hebben) de solemnisatie voor alle den volcke in openen raedtcamere te laten geschieden, ende met de trouw publijckelijck voort te varen.
Aldus gedaen ende geresolveert in ’t Fort de Goede Hoope ten dage ende jaere als boven.
JAN VAN RIEBEECK. 1658, CORN. VAN QUAELBERGH, WILLEM REIJERSSEN, ROELOFF DE MAN, JAN VAN HERWERDEN. 1658, ABRAHAM GABBEMA, secrets. 1658 (C. 1: 320)
APRIL ANNO 1659
Sondach, 6en dito, jaersdagh van de genomen possessie deser Caep bij d’ Ed. Compagnie, mitsgaders bid- ende danckdagh voor den zegen door Godt de Heere over alles met soo goede successen verleent.
APRIL ANNO 1660
Sondagh, den 4 dito, betogen lucht en de wint als boven. Is heden door bovengenoemde predicant [Cornelius Walrandt] hier aen landt predicatie gedaen ende 6 kinderen gedoopt, te weten:
1 van den Commandeur met den naeme Elisabeth
1 van de weduwe van den overleden vendrigh, Jan van Harwarden, met den naeme Johanna
1 van den vrij-meulenaer, Wouter Corneliss. Mostaert, met den naeme Cornelia
1 van den hovenier, Marten Jacobss., met den naeme Cornelis
1 van den vrij-lantbouwer, Jacob Cloeten, Catrijn
1 van den vrij-Saldanhavaerder, Joris Janss., met den naeme Johannes
Ende quam heden hier mede wel ter rheede ’t schip de Walvis, van de Camer Amsterdam, daerop schipper Albert Bruynvis, ondercoopman Hendrick Duycker, ende een predicant genaempt Nicolaes Heussens ofte Heussinius, uyt ’t Vlie geseylt 24 December passado met 379 gegagieerde coppen, waervan 20 overleden ende noch omtrent wel 40 sieck te coy lagen, hebbende nergens aengeweest.
[Maandag] 5 ende [Dinsdag] 6 dito, idem weer. Ende is vandage met den capiteyn ende overste van de Caepmans, Herry, neffens al de principale ende outste, in ’t fort weder opnieuws vreede gemaeckt ende belooft aen weercanten den anderen niet meer te molesteeren; ...
APRIL ANNO 1661
[Woensdag] 6en dito, ’s morgens heele donckere, mistige lucht ende stilte, is ’t werck van de bovengemelte redout [Duynhoop] begonnen, ende omtrent 9 uyren de mist weder opgeclaert, den fiscael uytgesonden met den tolcq Doman ende den Hottento Carabinga, toegenaemt Platneus, om haer aen te wijsen de plaatsen achter den Bosheuvel, buyten Compagnie’s begrepen cirkel, over al de bergen ende dalen leggende tot in de Hout- ende Bergh-valeyen incluys, alsmeede langs de zeecant onder de Gevelbergen, mitsgaders de wegen die se vandaer tot ons ende tot haer overal ongemolesteert sullen mogen passeren ...
Opmerking: Stigtingsdag is blykbaar vergeet.
APRIL ANNO 1662
[Donderdag] 6 dito, even schoon, still weer, ende sijn heden geruylt 38 schapen ende 1 koe van de Saldanhars.
[MAY ANNO 1662
[Saterdag] 6e dito, West- en N. Westewinden met mooy weer, op den middach is d’ E. Heer Zacarias Wagenaer in behoorlick forme voor alle den volcke alhier als Commandeur voorgestelt ende sijne commissie van d’ Ed. Heer Gouverneur-Generael en Raden van India van de puye door den secretaris affgelesen, waernaer eenstemmich voor Commandeur in de plaetse van d’ E. Heer Jan van Riebeeck is aengenomen ende erkent. Godt de Heere geve geluck en voorspoet in sijne begonnen regieringe.
Opmerking: Die volgende dag, Sondag, 7 Mei 1662, is Van Riebeeck met sy vrou en kinders aan boord van die Mars van die Kaap weg na Batavia.]
6 April 1752
Ryk Tulbagh (1699-1771) was een van die beste goewerneurs wat ooit hier aan die Kaap de Goede Hoop aan bewind van sake gestaan het, en die herinnering aan sy regeringstyd het lank onder die koloniste voortgeleef. Meer as dertig jaar na sy dood, toe ’n nuwe distrik ingerig moes word, het generaal Janssens uitdrukking gegee aan hul blywende erkentlikheid en sy eie bewondering van ’n groot voorganger deur dit Tulbagh te noem.
Deur sy aangename en deeglike karakter, getroue pligsvervulling en ywer om hom deur studie en toewyding altyd beter vir sy werk voor te berei, het hy die agting van almal met wie hy in aanraking gekom het, afgedwing. In 1751 volg hy sy swaer, Hendrik Swellengrebel, as goewerneur op en beklee twintig jaar lank tot met sy dood, hierdie amp. Amptelike onderdrukking, afpersing en oneerlike praktyke is tot ’n minimum afgebring. Hoewel hy van die koloniste verwag het om hul pligte teenoor die regering na te kom, was hy toeganklik en vriendelik en het na hul probleme en besware aangehoor. Sy menslikheid het ook uit sy behandeling van sy slawe geblyk. Hulle het almal met sy dood hul vryheid gekry, en in sy testament is daar vir die onderhoud van die ou afgeleefdes onder hulle voorsiening gemaak.
Naas Jan van Riebeeck was Ryk Tulbagh die enigste goewerneur volgens die Resolusies van die Politieke Raad, wat Stigtingsdag herdenk het. Tydens die Raadsvergadering gehou op 21 Maart 1752 stel hy voor dat daar op Saterdag, 8 April 1752 in elk van die vyf Kaapse gemeentes ’n dankseggingsdiens gehou moes word ter herdenking aan die totstandkoming van die VOC-vesting aan die Kaap ’n eeu tevore:
Dingsdag den 21:n Maart 1752
’s Voormiddags alle praesent uijtgenoomen den Heer Secunde Sergius Swellengrebel, mitsg:s d’ E: E: Christoffel Brand en Josephus de Grand Preez door indispositie.
Nademaal het op den 8:n der aanstaande maand April een gantsche Eeuw ofte omloop van Hondert jaaren sal sijn, dat dit Land bij d’ E. Comp: in possessie genoomen en steeds vreedig is beseeten geworden; soo is op de Propositie van den Heer Gouverneur billijk geagt en dien volgens beslooten dat diesweegens ten voorseijden dage openbaare en plegtige gedagtenisse sal werden gehouden en ten dien eijnde de Respect: predicanten soo hier aan Cabo, als tot Draakensteijn, ’t Land van Waveren en ’t Swart Land, den Eerw:n predikant Frans Le Sueur het op Stellenbosch sullende waarneemen, bij Missive aangeschreeven werden, om op den 8:n April voormeld, weegens deese Saak in de Kercken ter evengen:e plaatsen een dank predicatie te doen; met bijvoeging dat hunne Eerw: derselver onderhoorige Gemeijntens daarvan vooraf sullen moeten verwittigen, ten eijnde op meergem:e dag behoorlijk te kunnen saamen koomen, en den Alderhoogsten met eenparige herten te dancken voor alle groote weldaaden en Zeegeningen geduurende soo een lange Reex van Jaaren, aan dit Land en dies Inwoonderen beweesen, en Sijne Goddelijke Majesteijt wijders af te smeeken, dat ’t hem dog behaagen mooge dit Land met dies Ingeseetenen verder onder de Magt der Maatschappije voor alle Rampen en Onheijlen in genaade te bewaaren.
...
Aldus geresolveert ende g’arresteerd in ’t Casteel de Goede Hoop ten dage en jaare voorsz: R Tulbagh, P: Reede van Oudshoorn, I: Meinertzhagen, Hend:k de Ruijter, R S Allemann, N:s Heijning, C Brand, Corn:s Eelders Mij Present O M Bergh E:g:clercq (C. 130: 105-122)
In die Daghregister van 1752 word soos volg geskryf oor die kerkdiens wat in Cabo de Goede Hoop gehou is:
Saturdag 8: Bleef het uijtspansel duijster bewolkt tot ’s nanoens, wanneer het wederom ten grootsten deele opklaarde en goed weer wierd, hebbende de wind van ’t N:W: tot W:t fris doorgewaaijd.
Na dat in corformité van het dien aangaande gearresteerde in Raade van Politie onder den 21 der even afgeweekene maand Maart, heeden morgen door den Eerw: heer Petrus van der Spuij, weegen ’s E: Comp:s hondertjarige geruste besittinge deeses lands, een treffelijke dank predicatie was gedaan geworden, wierd des middags al ’t canon soo van dit Casteel als der resp: langs het strand leggende batterijen en redouten gelijker hand los gebrand, gelijk sig ook alle de ter rheede leggende soo ’s Comp:s als Engelsch, Fransse en Deensse scheepen, lustig met hun grof geschut lieten hooren; werdende ’s Comp:s gequalificeerde dienaaren, nevens de voornaamste uijt de burgerij, desgelijx de hoofden der aanweesende ’s Comp:s en vreemde natien scheepen, des middags door den Edelen Heer Gouverneur seer vriendelijk ter maaltijd onthaald.
Sijnde wijders kort naar de middag een seijnschoot van den Leeuwencop gedaan geworden. (C. 1998: 78)
6 April 1952
Suid-Afrika het in 1952 sy 300ste verjaardag herdenk. Die feestelikhede het nie minder nie as nege weke geduur. Op Saterdag, 5 April, is die landing van Van Riebeeck met die Drommedaris, waarvan ’n model van 40 voet spesiaal gebou is, op Tafelbaaistrand voorgestel.
Die laaste dag van die fees, Sondag 6 April, is op die volgende wyse as ’n dag van toewyding gevier:
OGGEND:
WYDINGSDIENSTE
Spesiale
wydingsdienste in alle bedehuise in die Kaapse Skiereiland en Noordelike
Stadsgebiede.
Militêre
Kerkparade by St. George-katedraal, St. Georgestraat, Kaapstad.
NAMIDDAG: JAARLIKSE KRANSLEGGING
3.00
Byeenkoms by Van Riebeeck se standbeeld in die Monumentale Toegang.
Aankoms van erewag, begelei deur die Blaasorkeste van die Staande Mag en
die Lugmag.
Aankoms
van optog van die hoogwaardigheidsbekleërs.
Transvaalse Feeskoor (dirigent: Prof. G. Bon
Voorlesing van Van Riebeeck se gebed en gelofte deur die Ambassadeur van Nederland. Die volgende is die (vorm)gebed wat in die Resolusies verskyn:
O Barmhertige Goedertieren Godt ende Hemelsche Vader, nadien het uwe Goddelijcke Maijesteijt geliefft heefft ons te beroepen over ’t bestier der saacken van de Generale Vereenighde Nederlantse g’octroijeerde Oost Indische Compe. alhier aen Cabo de Boa Esperance ende wij ten dien eijnde met onsen bijhebbenden Raedt in uwen H. name vergadert sijn: omme met advijs van deselve sodanige besluijten te maecken, waermede den meesten dienst van de opgemelte Compe. gevoirdert, de Justitie gehanthaefft, ende onder dese wilde brutale menschen (mogelijck sijnde) uwe ware gereformeerde Christelijcke Leere mettertijt mochte voortgeplant ende verbreijt worden, tot uwes H. Naemes loff ende Eere, ende welstant onser Hren. Principalen, waertoe wij sonder dijne genadige hulpe ’t alderminste en vermogen. Soo bidden wij U derhalven O aldergenadighste Vader, dat gij ons met uwe Vaderlijcke wijsheijt wilt bijwoonen, ende in dese onse vergaderinge presiderende, onse herten sulx verlichten dat alle verkeerde passien, misverstanden ende andere diergelijcke gebreecken van ons mogen geweer[t] blijven, ten eijnde onse herten van alle menschelijcke affecten reijn, ende onse gemoederen soo gestelt sijnde wij in onse raedtslagen niet anders voornemen nochte besluijten, als ’t gene mach strecken tot grootmaeckin[ge] ende loff van uwen alderheijlighsten naeme, ende den meesten dienst van onse Heeren ende Meesters sonder in eeniger maten op eijgen baet off particulier proffijt acht te nemen, het welcke ende wes meer ons tot uijtvoerin[ge] onser bevolen dienste ende zaligheijt nodigh sij. Wy bidden ende begeeren in den naeme uwes Wel lieven Zoons onsen Heijl[ant] ende Zaligmaker Jesu Christij, die ons heefft leeren bidden
Onse Vader & (C. 1: 2)
Kransleggingsplegtigheid: Wanneer die eerste krans gelê word, word ’n salvo deur die erewag afgevuur.
Transvaalse Feeskoor
DIE
“WILHELMUS”
(gelei
deur die koor)
Wilhelmus van Nassouwe
Ben
ick van Duytschen Bloedt,
Den
Vaderland ghetrouwe
Blijf
ick tot in den doet.
Een
prince van Orangien
Ben
ick vry onverveert,
Den
Coninck van Hispangien
Hen
ick altijt gheëert.
Mijn schilt ende betrouwen
Zijt
ghy, O Godt, mijn Heer!
Op
U soo wil ick bouwen,
Verlaet
my nimmermeer:
Dat
ick doch vroom mag blijven
U
dienaar t’aller stond,
Die
tyranny verdrijven,
Die
my mijn her doorwondt.
AAND:
FINALE WYDING EN AMPTELIKE SLUITING
Vroeë
aanddienste in alle bedehuise in die Kaapse Skiereiland en Noordelike
Stadsgebiede.
8.30
Byeenkoms in die stadion.
Voorspel
deur Blaasorkeste van die Lugmag en die Staande Mag (dirigent: Kapt. E.A.
Kealey).
8.55
Gesamentlike sang, gelei deur massa-feeskoor.
9.20
Laaste beweging van die Negende Simfonie van Ludwig von Beethoven, gelewer
deur ’n massa-koor en soliste, begelei deur die Kaapstadse
Stadsorkes
(dirigent: Albert Coates).
9.45
Amptelike sluiting van fees deur die Minister van Binnelandse Sake.
10.00
Seën.
6 April 2005
Na afloop van die International Council on Archives-kongres wat in Augustus 2004 in Wene gehou is, is bekend gemaak dat Nederland se VOC-versameling deel word van UNESCO se Memory of the World-register.
Daarop is hier te lande besluit om ’n funksie aan te bied in die Kaapstadse Argiefbewaarplek waar ’n baie belangrike deel van die VOC-argiewe gehuisves word.
Toe die huidige Suid-Afrikaanse minister van Kuns en Kultuur, dr. Pallo Jordan, gevra is om ’n datum vir hierdie geleentheid te kies, het hy 6 April voorgestel “to coincide with the arrival of Jan van Riebeeck in South Africa on 6 April 1652”. Hier volg die toespraak wat hy tydens hierdie byeenkoms gelewer het:
“Honourable Ambassadors and representatives of foreign countries, the mayor of Cape Town, my colleagues in die National Department of Arts and Culture and Provincial colleagues, Ladies and Gentlemen, and all protocol observed.
We have gathered today to mark the registration of the Dutch East India Company (popularly known as the VOC) records housed in the Cape Town Archives Repository, in the prestigious International Memory of the World Register of UNESCO, the cultural branch of the United Nations. The registration is significant in that the records held by the repository together with other Dutch East India Company records housed in the National Archives in Jakarta, the Tamil Nadu Archives in Chennai (previously Madras, India), the National Archives in Colombo and the National Archives of the Nederlands, The Hague, which in total amount to four kilometers of paper, have been recognised as important for mankind, and as such will benefit from programmes envisaging the conservation, restoration and increased accessibility of the archives of the Dutch East India Company with the aid of new information and communication technologies.
The nomination for the inclusion of the Dutch East India Company records in the Memory of the World Register was made by the National Archives of the Netherlands during August 2003 in Gdansk, Poland, and was based on concern for the condition of the documents distributed throughout the world, inclusive of here in South Africa, although reasonable satisfaction on the preservation of the Dutch East India Company records in the Cape Town Archives Repository, has been expressed.
The inclusion of the South African held Dutch East India Company records on the Memory of the World Register is notable in that this is the second South African collection of records to be registered. South Africa’s own nomination of the Bleek collection, being the papers of Dr. W.H.I. Bleek, his sister-in-law Lucy Lloyd, his daughter Dorothea Bleek and G.W. Stow relating to their research into the San language and folklore, and held by the National Library of South Africa, Cape Town Campus and the University of Cape Town, was accepted and registration of the collection was effected in 1997.
The records as a whole of the Dutch East India Company, established in 1602, are considered of importance for mankind given the fact that the Company operated the first multi-national business and was a bureaucratic giant.
Together with records of the Dutch East India Company housed in the National Archives of the Netherlands, The Hague, the Company records in Cape Town form the basis for the historical reconstruction of Cape society between 1652 and 1795 with comprehensiveness virtually unequalled elsewhere in the world. These records also serve as an invaluable source for the study of the Cape Colony as crossroads of West and East and for the inroads made into other regions of the African continent for exploration and the trade for goods and slaves. It must be noted that the VOC Project ties in very nicely with another important project of UNESCO, which is the Slave Trade Archives Project. There is a linkage between the Slave Trade Archives Project and our own “Slave Route Project”.
Memory
of the World Register – Leeskamer, Kaapstadse Argiefbewaarplek
(Klik
vir vergroting)
Please note that I recently appointed a National Committee of the Memory of the World Register to advise me regarding collection that would need to be motivated for possible enlisting in die International Register. The said committee is made up of the National Archives of South Africa, Department of Arts and Kulture Branches such as International Relations, Freedom Park, National Library, Iziko Museum, National Flagship Institute to name but a few. (This committee will market the South African collections and will review all proposals.) Some collections have been put forward for consideration by my department.
The establishment in 1652 of a refreshment station at the Cape under die administration of the Dutch East India Company, which administration endured for almost a century and a half, had far reaching effects on the history of present-day South Africa. Developing from a refreshment station to an European settlement at the cost of African common lands and pasture, the Khoikhoi and San on whom the Dutch East India Company had initially been dependent for bartering of cattle, were forced into slavery or wage labour, their livestock and land being added to that of the settlers. While some chiefdoms worked with the Dutch East India Company, others resisted, but the nature of society, detailed in the Dutch East India Company records makes these records both unique and irreplaceable for an understanding of South Africa’s historic past.
Within UNESCO’S Memory of the World Programme and on the initiative of the Netherlands, a project titled “Towards a New Age of Partnership” (TANAP), a Dutch-Asian-South African programme of co-operation, was given impetus by the holding of an international TANAP conference which took place in December 1998 in The Hague and Leiden. This conference was attended by Prof. Jatti Bredekamp, Chief Executive Officer of Iziko Museums, Ms Mandy Gilder, Deputy National Archivist and Ms Marian George, Head of the Cape Town Archives Repository.
As an outcome of attending the TANAP Conference, a fact-finding mission visited the Cape Town Archives Repository when priority was presented to the mission which related to the transcription of the [latter part of the] series Resolutions of the Council of Policy (1744-1795), the most prominent Dutch East India Company holding of the repository. The proposal was accepted and funding was made available. The entire series is now freely accessible on the TANAP website which has achieved both the objective of the TANAP and Memory of the World Programmes.
Teëltablo
in die Leeskamer, Kaapstadse Argiefbewaarplek
(Klik
vir vergroting)
Presently a further transcription project made possible by Netherlands funding is in progress in the Repository with the aim of making other series of Dutch East India Company records relating to slaves accessible to a wider community.
The Secretariat of UNESCO’s Memory of the World programme are to be commended on their efforts to promote the preservation of the endangered memory of humanity recorded while ensuring the widest possible access for researchers and the general public. I also want to thank the Secretary-General of the South African National Commission, Mr S Kgamphe, for his valuable inputs in this programme.
The generous contribution by the Nederlands government which has enabled the aims of the programme to be realized, in this instance, with respect to the Dutch East India Company records, is much valued as promoting international cultural relations.
We should go all out to preserve this shared heritage for posterity.
I thank you.
Minister Z.P. Jordan”
Slotgedagte
“Die 6e April is ’n / ons gegewe” – Helena Liebenberg
Bronne
Bosman, D.B. en H.B. Thom. Daghregister gehouden by den oppercoopman Jan Anthonisz van Riebeeck. Deel 1-3. A.A. Balkema, Kaapstad. 1955.
Gie, S.F.N. Geskiedenis van Suid-Afrika. Deel I, – 1795. Pro Ecclesia-drukkery, Stellenbosch. 1928.
Honikman, A.H. 1966. Cape Town, City of Good Hope. H.B. Timmins, Cape Town.
Kaapstadse Argiefbewaarplek:
A 709 – Amptelike program van die Van Riebeeck-fees (1952). Nasionale Pers Bpk., Kaapstad. 1952.
BP – The festival in pictures/Die fees in beeld. Van Riebeeck Festival/Fees 1952
C. 1, 130 – Resolusies van die Politieke Raad van Kaap die Goeie Hoop (1651-1795)
C. 1998 – Daghregister, 1752.
GELOFTE ONDER LEIDING VAN SAREL CILLIERS
VOOR DIE SLAG VAN BLOEDRIVIER
9 tot 15 Desember 1838
Des anderen daags, zynde de 9e, was alles nog rustig, en wy bleven hier over, om de Sabbath te vieren; terwyl ook de vorige Zaterdag avond, in de tent van de Hoofd-Kommandant, werd doorgebragt met ’t zingen van enige gepaste liederen, en ’n kragtig gebed, door de heer Cilliers gedaan.
Des Zondags morgens, voordat de godsdienst begon, liet de Hoofd-Kommandant degenen die de godsdienst zouden verrigten, by malkander komen, en verzocht hen, met de gemeente te spreken, dat zy allen volyverig in geest en in waarheid, tot God mogten bidden,
om Zyne hulp en bystand, in het slaan tegen de vyand; dat hy aan de Almagtigen 'n gelofte doen wilde, (indien allen wel willen),
“om zo de Heere ons de overwinning geven mogt, ’n Huis tot zyns Grote Naams gedagtenis te stichten alwaar het Hem zal behagen,”
en dat zy ook moesten afsmeken, de hulp en bystand van God, om deze gelofte zeker te kunnen volbrengen,
en dat wy de dag der overwinning, in ’n boek zullen aantekenen, om dezelve bekend te maken, zelfs aan onze laatste nageslachten, opdat het ter Eere van God gevierd mag worden.
GEBED VAN PAUL KRUGER
Woorde: J.D. Wetsels
Musiek: Jan Morks, Op. 140;
verwerk: H. Pieter v.d. Westhuizen, 1976
Heer der gerechtigheid!
Gij, die de volken liedt,
wees met ons lot begaan,
hoor’t angstig smeken aan.
Maak onze kleine kracht
sterk tegen d’ overmacht;
op U, o Eeuwig Licht
blijv’ onze hoop gericht.
Gij, die de Liefde zijt,
wees in de zware strijd
ons met Uw hulp nabij,
hoed ons voor slavernij.
Naar uw geboden, Heer,
is onze levensleer,
wat heeft mijn volk misdaan
om het zo fel te slaan?
Mijn dierbaar Vaderland
is in uw Vaderhand.
Heer, op U bouwen wij,
op U vertrouwen wij.
Thans in de donk’re nacht
zij ons geloof de kracht,
die ’t leed ons dragen doet,
want Gij zijt groot en goed,
want Gij zijt groot en goed!
GEBED UIT “DIE STEM VAN SUID-AFRIKA”
Op u Almag vasvertrouend het ons vadere gebou:
Skenk ook ons die krag, o Here! om te handhaaf en te hou –
dat die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry.
Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou, o Heer –
met ons land en met ons nasie sal dit wel wees, God regeer.
GEBED VAN N.P. VAN WYK LOUW
Vier gebede by jaargetye in die Boland
Mei – Julie 1937
I. Vroegherfs
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rook-vaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en vér was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.
Bronne
Dagboek van Jan Bantjes
Hierdie is die eerste verwysing na die
instelling van Geloftedag, of die maak van die Gelofte; die datum was
Sondag, 9 Des. 1838. Die enigste ander oorspronklike vermelding, is dié
van genl. Pretorius self, in sy rapport aan die Volksraad, en van Charl
Cilliers, in sy verklaring.
http://www.groottrek.za.cx
Lied 342. Gebed van Paul Kruger
FAK-sangbundel, Kaapstad, 1979
Ons Blêrkas
Lied 001 Die Stem van Suid-Afrika
FAK-sangbundel, Kaapstad, 1979
Ons Blêrkas
Nuwe Verseboek vir Seniors
saamgestel deur Henning Snyman en Jan Vosloo
Tafelberg, Kaapstad. 1991
KAAPS-HOLLANDS:
DIE “AFRIKAANS”
VAN DIE BOUKUNS?
Hans Fransen
Aan die suidpunt van Afrika en verspreid oor ’n gebied noordwaarts sover as Calvinia en ooswaarts tot by Uitenhage, Cradock en Graaff-Reinet – ’n oppervlakte so groot soos dié van die Verenigde Koninkryk – het oor meer as twee eeue ’n boustyl ontwikkel wat as “Kaaps-Hollands” bekend staan. Dié naam is in soverre korrek dat dit die boutrant is wat grotendeels onder leiding van “Kaapse Hollanders” – insluitende mense van Duitse en Franse oorsprong – ontwikkel is vir hulle gebruik, meestal as wonings maar ook as plaasgeboue en selfs kerke en drosdye, en wat uniek is aan die Kaap de Goede Hoop hoewel daar duidelike verwantskap met elemente in die woningboukuns van Nederland en aangrensende gebiede bestaan. Die naam is dus regverdigbaar, ook omdat daar wel ander “Kaapse” boustyle bestaan: dié van die pre-koloniale bewoners (’n baie nomadiese en daardeur verganklike bouwyse waarvan bitter weinig oorleef het) en die later “Georgiaanse” style wat meer (en sterker) Brits-beïnvloed is.
Oor die fisiese vorm van die Kaaps-Hollandse boukuns kan ons hier kort wees; daar bestaan uitstekende boeke wat dit tot in besonderhede beskryf. Dit is basies ’n “volksboukuns” wat nie “geplant” is in die sin dat dit nie in opdrag van koloniale owerhede ontwerp is deur argitekte of vaklui uit die moederland nie. Dit het spontaan ontwikkel in die vryburgergehuggie buite die mure van die Kasteel, die latere Kaapstad, waar langgerekte een kamer diep en twee of drie kamers wye kothuisies opgerig is uit plaaslik beskikbare materiale: klippe vir fondamente, klei of kleistene vir mure, geelhout vir balke en vleiriet vir dakke. Hulle het met hul lang kant na die straat gestaan, in teenstelling met die huise in Nederlandse stadjies waar hulle met hul smal kante langsmekaar leun. Dit het die patroon in alle Kaapse dorpe gebly.
Later het hierdie eerste Kaapse huisies geleidelike veranderings ondergaan, sonder dat dit hul basiese karakter enigsins aangetas het. Deur die beperkte breedte van die Kaapstadse erwe moes uitbreidings noodwendig agtertoe plaasvind, in die erf in, met een of twee agtervleuels wat die huise die vorm van ’n L of ’n U gegee het. Op die platteland, waar daar geen erfbreedte was om mee rekening te hou nie, het die T- en, daaruit ontwikkelend, die befaamde H-plattegrond ontstaan – al die vleuels van daardie huise steeds een kamer wyd, ’n voet of twintig. Dié eenheid van materiaal en van afmetings het ’n besonderse harmonie aan die huise se uiterlik en verhoudings verleen. In die hele Nederlandse invloedsfeer is daar geen boustyl wat ook maar in die verste verte met hierdie Kaapse “letter-van-die-alfabet-styl” vergelyk kan word nie.
Ook in ’n ander opsig is aan party van die Kaapse huise veranderings aangebring. Waar die styl oorspronklik ’n beslis demokratiese eendersheid gehad het, kom daar oor die loop van die agtiende eeu ’n verlange na meer individualiteit en ook status, en word daar bo oor die tydlose basis van die volksboustyl ook sierelemente aangebring wat ’n mens “modieus” sou kan noem. Vir party boligte bokant voordeure is houtsnyers gevra om sierlike snywerk te vervaardig. En, nog meer opvallend, is die “Kaapse gewel” ontwikkel om ’n eie “gesig” aan die eenvoudige dorps- of plaashuis te verleen. Ook in Nederland het dekoratiewe voorgewels individualiteit aan die huise in hul strate verleen, maar daar het hulle bo aan die smal en hoë fasades gepryk. Die Kaapse huise is in die breedte gebou, en hier was dié groot versiering die middegewel, waarvan die bestes meesterwerke van die pleisterkuns is.
Pleisterversiering is nie ’n Nederlandse kuns nie. Dit kom voor in party Mediterreense streke, en in dele van die Europees-koloniale gebiede. Maar die siervorms self volg die welbekende noordwes-Europese stylperiodes op die voet: die eenvoudige “holbol” boogvorms van die jare 1760 en 1770 en die meer bewerklike krulgewels van die 1780’s is (enigsins verlate, soos te verwagte) uitings van die Barok en die Rokoko. In die 1790’s word hulle soos in Europa taamlik skielik opgevolg deur die reguit lyne, pilasters en frontons van die Neoklassisisme.
Soos gesê, het hierdie versierings net ’n dun lagie gebly wat bo oor die basiese volksboukuns gelê kon word maar die karakter daarvan nouliks aangetas het. Maar wie was die bouers en dekorateurs wat vir hierdie unieke bouwerke verantwoordelik was? Name wat positief met spesifieke geboue verbind kan word bestaan eers uit die laat 18de eeu, toe die styl mét sy versierings al dekades lank volledig vorm aangeneem het: die beeldhouer Anton Anreith1 en die argitek Louis Michel Thibault2. Oor die afgelope jaar of wat is, tereg, gepoog om die moontlike rol van die slawe in hierdie boubedrywighede te ondersoek. En inderdaad kan aangeneem word dat slawemesselaars, -pleisteraars en -timmermans betrokke was by baie van die bouwerk, soos wat hulle maar by die meeste fisiese arbeid betrokke was. Maar beteken dit dat ons húlle as die skeppers van die Kaapse boukuns moet beskou?
Daar is weinig in die tipiese, tradisionele Kaapse huis te vinde wat nie verklaar kan word nie uit die noordwes-Europese landelike boukuns, aangepas aan die oorpsronklik taamlik elementêre omstandighede van pioniers in ’n nuwe land wat ’n onderdak vir hulself moes skep met plaaslik vindbare materiale, “uit die aarde opgebou”. Ook die dekoratiewe verfynings wat sommige van dié wonings ondergaan het – gewels, boligte – volg Europese voorbeelde, hoewel op ’n afstand en duidelik met ’n eie karakter. Daar word soms gewys op ’n enkele speelse dekoratiewe elementjie op ’n gewel as ’n moontlik “oosterse” motief, maar dit kan net sowel die werk van ’n fantasieryke plaaslike pleisteraar wees.
Kenmerkend plaaslik, ja, dit is die Kaapse boukuns beslis. As daar in noordwes-Europa dalk ’n T-vormige plaashuis of ’n pleistergewel aangetref word wat aan die Kaap herinner – en daar is – bly dit geïsoleerde gevalle. Onmiskenbaar verwant, dus, maar terselfdertyd onmiskenbaar eiesoortig. In hierdie opsig is daar dus ’n besliste ooreenkoms met die taal, Afrikaans, wat die setlaars en ook hulle slawe in die loop van die 18de en vroeë 19de eeu ontwikkel het (anders as met die boukuns, wat baie keer ’n datum dra, is die tydperk waarin Afrikaans sy beslag gekry het, nie presies vasstelbaar nie, en was dit bowendien ’n heel geleidelike proses). Net soos die Kaapse volksboukuns was en is ook die Kaapse volkstaal duidelik op die taal van die moederland gebaseer, wedersyds goed verstaanbaar, maar met groot grammatikale veranderings – meestal vereenvoudigings – en ’n verrykte woordeskat vanweë talle plaaslike nuutskeppings asook leenwoorde uit die Ooste.
Net soos die Kaapse volkskuns is hierdie taal onmiskenbaar van Europese oorprong, maar ewe onmiskenbaar hier gebore en getoë. Hoegenaamd nie ’n “patois” soos die 1893-aanhaling in die Shorter Oxford English Dictionary dit noem nie: “The Dutch patois spoken in South Africa”: ’n streeksvariant van ’n taal “having no literary status”.
Afrikaans: ’n Taal wat uit Nederlands ontstaan maar hier tot volwaardigheid gegroei het, net soos wat die Kaaps-Hollandse boukuns al meer as twee honderd jaar ’n volwaardige boustyl is met sy eie grammatika en woordeskat van konstruksie, materiale, details, versiering en verhoudings.
1 ANREITH, Anton (1754-1822) was een van die eerste belangrike beeldhouers wat in Suid-Afrika gewerk het. Hy het verskeie pragtige beelde en houtsneewerke nagelaat wat nou tot van Suid-Afrika se kosbaarste kultuurbesittings behoort. Sy uitmuntende vakmanskap en groot aandag aan detail spreek duidelik uit die sierlike lyne van sy Barokke styl.
Anreith is in Duitsland gebore en het in Freiburg in die kuns studeer. Hy begin egter vir die VOC werk en word in 1777 as soldaat na die Kaap gestuur. Ná ’n paar maande begin hy egter as ’n skrynwerker werk. Nadat hy houtsneewerk aan die spreekstoel van die Lutherse kerk in Kaapstad gedoen het, kom sy talent onder die aandag van sy werknemers en hy word in 1786 die amptelike beeldhouer van die VOC in Kaapstad. In die Kasteel skep hy verskeie beelde en doen ook versieringswerk aan geboue wat deur die beroemde argitek L.M. Thibault ontwerp is.
In 1791 kon die VOC dit nie meer bekostig om hom in diens te hou nie en hy begin vir homself werk. Hy doen reliëfwerk aan die gewels van verskeie geboue (onder meer die wynkelder van Groot Constantia) en doen ook pragtige houtsneewerk. Onder die geboue wat deur hom versier is, was Rust-en-Vreugd, die losie van die Vrymesselaars in Kaapstad en die Ou Hooggeregshof.
Van 1805-1815 het Anreith deeltydse kunsonderrig gegee en ’n private kunsskool gestig. In 1815 het die Vrymesselaars sy private skool gekoop en die eerste openbare kunsskool in Suid-Afrika daarin gestig. Anreith was tot aan sy dood prinsipaal van dié skool.
2 THIBAULT, Louis Michel (1750-1815) was ’n argitek, ingenieur en landmeter wat in 1775 (moontlik ook in 1774) aan die Académie Royale d’ Architecture in Parys studeer het. Hy was ’n briljante student en ontvang talle toekennings. Hy het nie as argitek in Frankryk gepraktiseer nie, maar dien as ingenieur-offisier in die Corps des Ponts et Chaussées aldaar. In 1781 bestudeer hy militêre ingenieurswese met die hulp van Kol. Charles Daniel de Meuron, aanvoerder van ’n Switserse huursoldaatregiment van Neuchâtel waarby Thibault, ’n Vrymesselaar, in 1782 aangesluit het.
In 1783 kom hy as lid van hierdie regiment, wat deur die VOC gebruik is ter verdediging van die Kaap, in die land aan. Hy verlaat egter De Meuron se regiment en tree in 1785 in diens van die VOC waar hy in 1788 tot kaptein-lieutenant bevorder is. Hy trou met Elisabeth van Schoor wat die dogter was van Evert van Schoor, lid van die burgerraad, en die niggie van Adriaan van Schoor, landdros van Stellenbosch van 1748 tot 1763.
Teen 1795 met die magsoorgawe van die VOC aan Engeland het Thibault reeds ’n vooruitstrewende argitekspraktyk gevestig, in daardie tyd iets heel ongewoons aan die Kaap. Hoewel hy sy pos verloor het, het hy en die nuwe bewindhebbers goed oor die weg gekom. Tydens die Bataafse bewind (1803-1806) open kommissaris-generaal J.A. de Mist, ook ’n Vrymesselaar, die Goeie Hoop losie waarvan Thibault the ere-argitek was. De Mist stel hom ook aan as inspekteur-generaal van openbare en militêre geboue. Sedert daardie tyd het Thibault omtrent elke regeringsgebou aan die Kaap ontwerp.
Met Thibault se aankoms aan die Kaap was die Kaaps-Hollandse boustyl reeds deur onbekende bouers gevestig. Hy was egter in sy geboorteland opgelei in die Franse Neoklassisisme van die laat agtiende eeu. In gevalle waar Thibault die plaaslike Kaaps-Hollandse styl gevolg het, het hy wel sy Neoklassieke stempel daarop nagelaat.
Na die tweede Britse oorname van die Kaap in 1806 is hy deur generaal sir David Baird heraangestel as inspekteur van openbare geboue. In 1807 is hy benoem as geswore landmeter en in 1811 as landmeter vir die staat. In 1813 tree hy op as adviseur insake voorbereidings vir die Vrymesselaars se tegniese en kunsskool wat in 1815 met Anton Anreith as hoof geopen het. Hy was ook verantwoordelik vir die ontwerp van onder andere die Tokai-herehuis, Rustenburg in Rondebosch en die drosdye van Tulbagh en Graaff-Reinet.
Thibault en Anreith het talle opdragte saam uitgevoer. As kunstenaar was Thibault die teenoorgestelde van sy lojale medewerker: hy was intellektueel ingestel en ’n akademiese kunstenaar, terwyl sy vriend ’n uiters bedrewe en kunssinnige vakman was. Dat die werke van hierdie twee meesters mekaar so harmonies kon aanvul, is voorwaar besonder merkwaardig in Suid-Afrikaanse kuns.
AFBEELDINGS

Die langgerekte rietdakstyl sonder versierings: Koopmanskloof in die Sandveld.
(Foto Hans Fransen)

Die meer statige T-vormige plaaswoning kyk uit oor die vlakte. Daar kan duidelik gesien word hoe ’n “langhuis” later met ’n agtervleuel met kombuis vergroot is: Joostenberg, Klapmuts.
(Foto Arthur Elliott)

Die T-vorm het al gou tot ’n H-vorm gegroei en ’n baie groter en dieper huis gelewer wat alkante toe mooi vertoon sonder om die basiese een kamer wye dakkonstruksie prys te gee: Mooiplaas in die Bottelary.
(Foto Arthur Elliott)

’n Besonder sierlike krulgewel “ANO 1780”: die kelder van Groenhof by Stellenbosch.
(Foto Hans Fransen)

Die hoogtepunt van die Barok in Kaapse gewels, en ’n meesterwerk van die pleisterkuns: Hazendal, “DEN 23 AUG AO.1790”. Ons sal seker nooit weet wie die kunstenaar was nie; dit kon maklik ’n slaaf gewees het, maar dan het hy hom mooi by die Europese model gehou.
(Foto Arthur Elliott)

Barok selfs op die trappie na die stoorsolder: Meerlust.
(Foto Arthur Elliott)

En ook die hoenderhuis was pleisterversiering werd. Oosters??
(Foto Arthur Elliott)

Barokversierings waar dit baie toepaslik is: die ou Burgerwaghuis op Groentemarkplein uit 1755-61. Die krul-bolig is van die bewerklikstes in die Kaap, maar in ’n Rokoko-styl wat ook in Europa voorkom; so ook die pleisterwerk met sy “gesplete fronton” bokant die deur en die “winkbroue” bokant die vensters. Maar wie het die bebaarde maskers versin?
(Foto Hans Fransen)

’n Soort gewel-pleisterlys uit die Rokoko, hier uitgerek om oor ’n Kaapstadse platdak te pas.
(Foto Arthur Elliott)

Die Neoklassisisme het die Barok-Rokoko-styl ook aan die Kaap opgevolg, met sy pilasters, fronton en kruike. Tog het baie van die speelsheid van die ouer styl hier (Nektar, 1815) bewaar gebly.
(Foto Hans Fransen)
VERGELEGEN
Anno 1700
Na die aftrede van goewerneur Simon van der Stel in 1699 het sy seun, Willem Adriaan, hom in dié amp opgevolg en het Vergelegen (‘ver geleë’) sy eiendom geword. Die jong Van der Stel het die onbewerkte grond in ’n ware paradys omskep.
Aan die voorkant van die H-vormige woning is die agthoekige ommuurde tuin wat in 1700 deur Van der Stel uitgelê is. Vyf majestueuse Sjinese kamferbome wat tussen 1700 en 1706 deur hom aangeplant is, staan wag by die ou opstal. Dit is die oudste oorlewende en amptelik gedokumenteerde bome op die subkontinent en is in 1942 tot nasionale gedenkwaardighede verklaar.
Cornelis de Jong skryf soos volg oor dié bekende landgoed wat hy besoek het:
“Elfde brief
Kaap de Goede Hoop, 1 October 1792.
De aangenaamste en, zo men wil, de beste plaats is Vergelegen, ook door den Gouverneur van der Stel aangelegd en thans door eenen Lauphster bewoond.
Hier heft men veel lommer, en de Laurens-rivier, die thans niet meer dan een groote beek was, doch somtijds een der grootste rivieren van dezen uithoek is, vrij hoog rijst en in haren stroom met verbazende drift sware boomen medevoert, en bijgevolg alsdan door wagen noch ruiter te woorwaden of overtekomen is, loopt ’er achter om, en geeft aan dit buitengoed altijd genoegzaam water.
De citroen- en orange-boom groeit hier welig, en weleer had men ’er zelfs een laan van campher-boomen, die thans gerooid ligt. Ik zag sommigen dezer ontwortelde boomen, geheel van aarde ontbloot en half verbrand, nog jonge loten schieten; een teeken, dat het hout zeer sappig is. De bladeren hebben volkomen de reuk van campher; maar de gom zelve heft men nooit gewonnen (bl. 85, Reizen naar de Kaap de Goede Hoop, Ierland en Noorwegen in de jaren 1791 tot 1797 door Cornelius de Jong, met het, onder zijn bevel staande, ’s Lands fregat van oorlog, Scipio. Eerste deel. Met Platen. Te Haarlem bij Francois Bohn, MDCCCII).
Vergelegen wat na Willem Adriaan se ontslag deur die VOC aan verskeie eienaars behoort het, is in 1798 deur die Theunissen-familie gekoop. Dit was meer as ’n eeu lank in hul besit en onder hul sorg het die wingerde gedy. In 1816 het hulle die wynkelder gebou nadat die oorspronklike kelder van Willem Adriaan afgebreek is.
In 1917 het Sir Lionel Phillips die landgoed vir sy vrou, Lady Florence, gekoop. Tydens die restourasie van die opstal is die middelgewel van die Paarlse Pastorie as model gebruik.
Na hulle afsterwe koop Charles Barlow die landgoed in 1941, waarna sy seun Tom die plaas in 1966 oorneem.
Vergelegen is in Oktober 1987 deur Anglo American Farms Limited gekoop. Wingerde is teen die hange en op die plato rondom die wynkelder aangeplant, en sagte sitrus teen die warmer noordelike hange. In die vallei is pruime en pere aangeplant.
Die opstal en werf, wat van besondere geskiedkundige belang is, is nou oopgestel vir besoekers.
– Argief –
Afrikaners
en die diaspora-verskynsel
–
Argief –
OOR KAAPSE LANDBOUERS EN SEISOENE
– Argief –
Jan van Riebeeck se Daghregister
– Argief –