Childbirth-related deaths and the inventories President Paul Kruger – laaste boodskap aan sy volk Jan en Maria van Riebeeck Jan Gerritze Bantjes se joernaal oor die Slag van Bloedrivier ʼn Ongelyke Oes: Kaapstad: Argeologiese opgrawings – Jan van Riebeeck se Fort |
CHILDBIRTH-RELATED DEATHS AND THE INVENTORIES
Maureen Rall, 24 January 2020, UCT Summer School Course Lecture
Helena Liebenberg, 21 January 2020, UCT Summer School course lecture For various reasons people from Western Europe as well as the Far East arrived at the early Cape of Good Hope. Many Westerners served in the local VOC structure, while the Easterners arrived mainly as slaves or exiles. While disseminating the material contained in certain series of VOC documents vested in the Cape Town Archives notes were made of certain individuals who made an impression on the inquiring mind. It was surprising to see how much information could be gathered from these series in order to conduct case studies, for our purpose Angela of Bengalen, the royal princes Loring Passir and Dipa Nagera of Java, Nicolaas Ondatje of Colombo and Manual Thuart of Tutucurin, complemented by a case study of the French refugee, Prieur du Plessis, a Protestant Christian. The fact is that these people who honoured different religious beliefs, enriched the contents of the various cases.
Die Tracing History Trust en die VOC-Daghregisters
voordrag gelewer deur Helena Liebenberg op Saterdag, 15 Oktober 2016 tydens ’n byeenkoms van die Orde van den Prince, Afdeling Kaap de Goede Hoop gehou by SASNEV, Pinelands, Kaapstad Inleidend
saamgestel deur Helena Liebenberg vir 31 Mei 2014 Aan die einde van die jaar 1901 – dit wil sê presies ’n jaar nadat hy in Europa aangekom het – het pres. Kruger weer sy verblyfplek naby Utrecht gaan neem. Dit was tydens sy verblyf alhier dat die tyding hom ook bereik het dat daar op 31 Mei 1902 by Vereeniging vrede gesluit was en dat die twee Republieke hul onafhanklikheid moet prysgee.
Jan en Maria van
Riebeeck
Helena Liebenberg
Inleidend Tot nie so lank gelede nie, was die 6e April ’n openbare vakansiedag in Suid-Afrika en het as Van Riebeeck- en later Stigtingsdag bekend gestaan. In nakoming van ’n eeue oue gelofte deur Jan van Riebeeck, wat die VOC-nedersetting aan die Kaap de Goede Hoop op 6 April tot stand gebring het, is die aankoms van hom en sy geselskap vir baie dekades jaarliks paslik in die land gevier. Hoewel die datum reeds geruime tyd as vieringsdag uit die amptelike landskalender geskrap is, is daar nogtans groot getalle mense wat in goedgesindheid hierdie stigtingsdatum en die gebeure daaromheen in ere hou en paslik gedenk. Die inligting wat in die onderhawige dokument datumgewys aangebied word, is uit die volgende bronne verwerk: die gedigitaliseerde Resolusies van die Politieke Raad (1651-1795), asook Van Riebeeck se Daghregister (1651-1662 wat sy ampstermyn dek), A.J. Böeseken se Jan van Riebeeck en sy Gesin (1974), die S.A. Biblioteek se Almanach der Africaansche Landbouwers en Hoveniers (1984) en Gwen Fagan se Roses at the Cape of Good Hope (1988) in gedrukte formaat. Die doel van dié kort mededeling is om vanuit ’n persoonlike oogpunt te wys op enkele hoogtepunte tydens sy ampstermyn as eerste kommandeur en stigter van ’n Europese vesting aan die Kaap: hy het aan die hoof gestaan van die bou van die Fort, was in ’n sekere opsig Eerste Tuinier hier en het ook ’n gelofte, die eerste, op hierdie bodem afgelê. Dié drie aspekte was volgens my rigtinggewend in die groei en ontwikkeling van hierdie vesting en ook van besondere simboliese belang. Reis en aankoms Met die doel om ’n verversingstasie en ’n militêre teenwoordigheid aan die Kaap te vestig, vertrek Jan van Riebeeck vergesel van sy gesin en grotere geselskap aan die einde van 1651 met drie klein skepies, die Drommedaris, Reijger en Goede Hoope uit Texel, “vande Camer Amsterdam”. Sy vertroueling en geliefde ‘huijsvrouw’ Maria de la Queillerie wat van Hugenote-herkoms was, het ’n geweldige groot en ondersteunende rol aan die sy van haar man gespeel [Lees oor die Hugenote in Taaloord onder Stamboomboord: “Is ons van mistieke herkoms?”]. Die Franse biskop Nicolaes Etienne wat die Kaap besoek het, beskryf haar in 1661 as een van die wysste vroue wat hy ooit ontmoet het. “Sy word deur almal bemin,” skryf hy. “Sy is onbevooroordeeld, selfbeheersd, goed bekend met die Heilige Skrif en nie styfhoofdig nie.” Minder selfgenome skryf hy daarna dat hy hom as Rooms-Katoliek eintlik skaam om soveel goeds van ’n Hugenoot te skryf (Böeseken, bl. xvi-xvii).
“Ons was daar” – ’n Boerefamilie se oorlogs- en kampervarings deur die oë van ’n kind
Helena Liebenberg voordrag
gelewer op 18 Mei 2012, Bellville-Biblioteek
Inleidend Die Tweede Vryheidsoorlog, ook genoem die Engelse Oorlog en Driejarige Oorlog deur die Boeremense wat daardeur geraak is, het vernietigende gevolge gehad vir die volk waaruit ek stam. Die oorlog is gevoer tussen die twee klein Boererepublieke met die republikeinse ideaal, naamlik die Zuid-Afrikaansche Republiek onder presidentskap van S.P.J. Kruger en die Vrijstaatse Republiek onder presidentskap van M.T. Steyn aan die een kant, en die magtige Britse Ryk as aggressor met die imperiale ideaal aan die ander kant. Ek het ’n onblusbare trots vir my volk en my voorgeslagte. Vandag wil ek u graag vertel van my ouma wat haar kinderherinneringe aan die oorlog vir haar kinders en kleinkinders in boekievorm nagelaat het. In slegs 67 A5-bladsye vertel sy ’n roerende verhaal oor dié oorlog. Waar kom die Boeremense van die twee Boererepublieke vandaan? Die meerderheid van hulle was nakomelinge van die Voortrekkers, en indien hulle reeds bejaard was, was hulle waarskynlik nog self Voortrekkers, soos my oorgrootoupa. Ons herkomsspoor lei een of ander tyd terug na die Kaap de Goede Hoop waar ons stamvaders, meestal Nederlanders, Hugenote of Duitsers per skip aangeland het. Die Du Plessis- en Malan-familie wat deel van my konsentrasiekampverhaal is, val in die Hugenoot-kategorie.
Jan Gerritze
Bantjes se joernaal
Journal der Ekspeditie van de uitgewekene Boeren, onder hunnen Hoofd- Kommandant ANDREAS WILHELMUS JACOBUS PRETORIUS, (voormaals van Graaff-Reinet), tegen DINGAAN, Koning der Zulus, in de maand(en) November en December 1838; - ondernomen met oogmerk om wraak te nemen, wegens den wreedaardigste en onmenselikste moord van het gewezen Hoofd der Uitgewekenen, Pieter Retief, en zyne zestig medgezellen) en de daarop gevolgde onmenselike slagting, van mannen, vrouwen en kinderen, gepleegd door DINGAAN, en zyn volk; - alsmede ter herovering der goederen en bezittingen, by die gelegenheid door hen geroofd. Het Journaal is gehouden door de Hr. J.G. Bantjes, de Klerk des Volksraads, die gedurende de ekspeditie als Secretaris van den Hoofd-Kommandant, heeft geageerd:- Jan Gerritze Bantjes, penvoerder van die Voortrekkers
Helena Liebenberg
’n Besoek aan die Stedelijk Museum De Lakenhal in Leiden enkele jare gelede was ’n vanselfsprekende keuse nadat ek sedert 2001 vir twee jaar aan Kaapse VOC-dokumente ‘blootgestel’ was. Dié dokumente stel ’n mens aan ’n vroeërtydse wêreld bekend en verleen aan jou toegang tot die rykdom wat in die wye rompe van die retoerskepe tussen Europa en die Verre-Ooste verseil is. Veral die stowwe soos armoesijn, baftas, bethille, gilang, karsaai, salampoeris en ander kosbare Oosterse sy en satyn het in my verbeelding uit die skeepsvraglyste afgerol in kleurvolle massas mooi. Wat die kleurvolheid betref, het ek ’n soortgelyke gevoel in die Lakenhal ervaar hoewel met ’n ordelike verskil, aangesien die tekstielsoorte daar in netjiese en hanteerbaare stroke en lengtes uitgestal word. Op die Museum se inligtingsblad staan die volgende:
Deur Daniel Pieter Bezuidenhout
Geboren op 19 November 1813, op die plaats Bakfontein, Uitvlugt, tusschen Winterveld en Nieuwveld, district Graaff-Reinett, Kaap-Kolonie en thans woonachtig in het district Bethlehem, O.V.S. Die naam van mijn vader was Wijnand Frederik Bezuidenhout. Hij was een neef van Bezuidenhout van Slagtersnek. Wij zijn ingetrokken met 110 man, en hadden als Hoofdkommandant Gert Maritz, en als tweede Kommandant Hendrik Potgieter. Eerst zijn wij gegaan naar Marico om Selikatz te straffen voor moorden die hij gepleegd had overkant Vaalrivier. Hij heeft de Liebenbergs en Erasmus vermoord. Wij hebben Selikatz verdreven, en Lindley, de Amerikaanche zendeling uitgebragt. Ook Dr. Adams, en nog een man, en twee wit vrouwen.
ʼn Ongelyke Oes:
JOHAN FOURIE AND DIETER VON FINTEL OPSOMMING Wynvervaardiging was een van die eerste industrieë wat aan die Kaap gevestig is. Die aankoms van Hugenote aan die Kaap in 1688/89 het die wynbedryf ʼn belangrike hupstoot gegee, meer as wat ander setlaars sou kon. Maar hoekom? Deur van kwantitatiewe produksiedata oor meer as 100 jaar van Europese vestiging aan die Kaap gebruik te maak, verklaar ons hoekom spesifieke Hugenote – dié wat van wynproduserende streke in Frankryk afkomstig was – beduidend meer produktief was as die ander setlaars. Standaard produksiefaktore verklaar nie die verskil nie: die Hugenote se wynkennis, vermoëns en geheime het kwaliteit wyn verseker, onontbeerlik om skeurbuik op die verbygaande skepe te bekamp. Hierdie geheimenisse van wynvervaardiging is langs familielyne aangestuur sodat hierdie families byna ʼn eeu na hul aankoms steeds beter wynmakers was as die ander Afrikaners.
Verspreiding van ons Hugenote-families in Wes-Europa
KAAPSTAD: ARGEOLOGIESE OPGRAWINGS JAN VAN RIEBEECK SE FORT
ARCHAEOLOGICAL MONITORING AND EXCAVATION IN THE AREA OF JAN VAN RIEBEECK’S EARTHEN FORT AT THE GRAND PARADE, CENTRAL CAPE TOWN EXECUTIVE SUMMARY The Archaeology Contracts Office was appointed to do the monitoring of the renovations to services and paving of the Grand Parade in central Cape Town by Iliso Consulting Engineers and Project Managers (Pty) Ltd. This monitoring was ordered by Heritage Western Cape who, with this Record of Decision, did not follow the recommendation of the Heritage Impact Assessment to allow a thorough archaeological excavation to document the fort started by Jan van Riebeeck in 1652.
Die gedokumenteerde verhaal van die prinsebroers Loring Passir en Dipa Nagara
deur Helena Liebenberg
1. Inleiding
Reeds voor die afloop van die 17e eeu het die Kaap ’n plek geword waarheen gevangenes gestuur is ná vonnisoplegging deur die VOC-howe in Oos-Indië. Die volgende plekname gee ’n aanduiding waar hierdie VOC-howe, -rade of -regerings gevestig was: Batavia, Nagapatnam, Colombo, Jaffanapatnam, Samarang, Indië, Gale en Cheribon.
Alle soorte mense is vanaf die Oos-Indiese gebiede asook Suid-Asië na die Kaap verban. Aanvanklik was die meeste van hulle gevangenes of persone van hoë aansien of statuur, maar later is ook misdadigers hierheen gestuur. Onder die bannelinge was daar geestelike leiers, lede van koninklike families (in talle gevalle vergesel van hul gevolg), hooggeplaaste amptenare, gemeenskapshoofde, vyande van die staat en oorlogsmisdadigers. Indien die bannelinge as gevaarlik beskou is, is hulle na Robbeneiland gestuur. Ander Oosterse bannelinge is toegelaat om in die Kaap en in die distrikte te woon, onder andere Stellenbosch en selfs so ver as Swellendam.
Aan die hand van brondokumente wat in die Kaapstadse Argiefbewaarplek gehuisves word, onder andere
is dit moontlik om ten opsigte van hierdie persone ’n redelike goeie oorsig te verkry oor sy of haar doen en late waarby die VOC en die gesagstruktuur alhier belang gehad het.
deur Helena Liebenberg (Toestemming vir die plasing van die verkorte weergawe van die Inleiding tot die Resolusies is deur die Nationaal Archief, Den Haag aan Taaloord verleen) 1. Inleidend
’n Portugees vind die seeweg van Europa na Indië
In Augustus 1486 verlaat die Portugese ontdekkingsreisiger, Bartolomeu Dias, met twee klein skepies en ’n vragskip die Taagrivier by Lissabon. Hy moes om die suidpunt van Afrika seil en sodoende ’n seeweg en gevolglike handelsroete na Indië verkry. By Angra Pequena (tans Lüderitzbucht, Namibië) plant hy ’n klipkruis. ’n Geweldige storm dwing sy skepe van koers af, en hy en sy bemanning bereik eers weer land toe hulle die inham wat vandag as Mosselbaai bekend staan, binnevaar. Toe het Dias besef dat hulle reeds om die punt van Afrika geseil het en dat die seeweg voor hom oop lê! Die inheemse Khoi wat met hul veetroppe in daardie omgewing gewoon het, het die land in gevlug toe hulle die skepe sien aankom. Op die eilandjie St. Croix naby Algoabaai plant Dias ’n volgende kruis en vaar waarskynlik tot by die Visrivier in die huidige Oos-Kaap, waar die klein vloot weens min voorraad aan boord moes omdraai. In die blye besef dat die seeweg na Indië gevind is, verander Dias die pleknaam Cabo Tormentoso ‘stormkaap’ met sy terugvaart in 1488 na Cabo da boa Esperanza ‘kaap van goeie hoop’.
Portugal gaan voort om sy Indiese ryk uit te bou en jaarlikse vlote vaar om die Kaap daarheen. In 1498 noem Vasco da Gama die baai waar Dias aangedoen het Aguada de Sâo Bras ‘waterbron van St. Blasius’. Tydens Joâo de Nova se reis na Indië (1501-1502) doen sy vloot ook daar aan, hy noem die plek Golfo dos Vaqueiros ‘baai van veewagters’ en rig ’n bidkapel, die eerste Christenbouwerk in Suid-Afrika, op. De Nova sit sy reis voort tot by Rio de la Goa ‘rivier van die meer’, die baai waaraan Lourenço Marques in 1544 sy naam sou gee. Een van die drie eskaders van hierdie vloot word aangevoer deur Antonio de Saldanha wat in 1503 weens ’n navigasiefout in die baai wat nou Tafelbaai heet, beland. In Maart 1510 het die Portugese onderkoning, Francisco d’ Almeida wat toe pas die Portugese gesag in die Indiese Oseaan gevestig het, saam met van sy vernaamste offisiere in ’n botsing met Khoi in Tafelbaai omgekom. Die kuste van Suid-Afrika was die vernaamste rede waarom die Portugese heersers nie in die besetting van dié land belang gestel het nie.
Stigting VOC, 6 Desember 2008
’N MANDJIE VOL WOORDVRUGTE UIT DIE KOMPANJIESTUIN deur Helena Liebenberg
’N WOORD VOORAF
My hartlike dank aan die Stigting VOC vir die groot voorreg om vanjaar se Anna Böeseken-gedenklesing te mag aanbied. Ek vertrou dat my woorde gestand sal doen aan my agting vir hierdie VOC-kenner en -navorser by uitnemendheid. My voordrag handel oor enkele grepe uit ’n omvattende studie. Ek bepaal my vanoggend by die reisverhaal van enkele sitrussoorte, hoe die vrugte die Kaap bereik het en wat hier gebeur het, drie besonderse lemoenbome in Suid-Afrika, die woordgeskiedenisse van enkele sitrussoorte en verwante vrugte (uiteengesit op die volgstuk), en maak enkele opmerkings voor die lees van die slotreëls. Daar is gebruik gemaak van primêre argiefmateriaal, sekondêre bronne (ook Internet-afbeeldings en -inligting), asook woordeboeke (tweetalig, verklarend en etimologies). Die Afr. betekenis van die sitrussoorte word in die voordrag gebruik. Net soos die betekenisse, het ook die vrugtesoorte verander, sekere name is verouderd en nuwe variëteite met nuwe benamings het bygekom. Daarby verskil die Afr. en Ndl. name van bepaalde vrugte van mekaar.
INLEIDEND
Die eerste gedokumenteerde tuin in Suid-Afrika was dié een wat deur Jan van Riebeeck in opdrag van die VOC in Cabo de Boa Esperance aangelê is. Dit was immers die aanvanklike en hoofrede waarom die Kaapse nedersetting op 6 April 1652 gestig is. Die geïmpliseerde en toegepaste opdrag kon ongeveer soos volg gelui het: ‘Verlaat julle vaderland waarskynlik vergoed en gaan berei ’n tuin voor aan die onbekende suidpunt van Afrika. Bewerk daar die grond met volharding, saai en plant met ywer ten spyte van terugslae, sodat veral die moeë en siek reisigers tussen die Ooste en die Weste dankbaar kan aandoen by hierdie oase wat deur julle offervaardigheid tot stand gebring is, waar dit wat benodig word, vars en goed vir die gesondheid sal wees – water, groente en vrugte. Dit is julle opdrag en verantwoordelikheid. Maak van dié landstuin ’n ware lushof.’ Uit ’n heel ander tydvak en op soek na kennis oor gister en eergister het ek met ’n leë transkripsiemandjie by hierdie beskrewe tuin aangeland en met groot opgewondenheid en ywer gelees en geniet van die eerste vrugte aan dié bome wat in die vrugbare grond sonnig wortel geskiet het. En toe ek weer sien, was my mandjie ’n horing van oorvloed, volgelaai met inligting oor bepaalde vrugtewoorde om my koers te gee op ’n heel interessante reis: ’n roetebepaling deur die geskiedenis na die herkoms van woorde wat Jan van Riebeeck die eerste was om hier te lande in sy dagregister vir ons te dokumenteer, naamlik die woord lemoen en daarmee saam orangie/orange. Voeg hierby appel, asook ander woorde in ons Westerse tale wat om verskillende redes aansluiting by die eerste twee vind. Tydens ’n verkorte weergawe van die lemoenreis word by heelwat plekke aangedoen. In die voordrag word gewys op die woorde se vorm en betekenis in verskillende tale; op die rol van klankverspringing en klankverandering in woorde; en op die verband tussen oënskynlik onverwante woorde wat sigbaar word wanneer die letters kaleidoskopies in ’n bepaalde patroon val. Hoe ouer die woorde, hoe meer kan hulle vergelyk word met die trapsgewyse inbedding op DNS-stringe: betekenis, simbool en klank word oorgeërf hoewel ander invloede mettertyd daarop inwerk en gevolglik veranderings teweegbring. Hedentydse taal is eintlik ’n kleurvolle mosaïek waarin die brokstukkies en oorblyfsels van voorouertale uit langvergete tye behoue gebly het. Veral plek- en persoonsname is hier van belang. As ’n mens die brondele en -betekenis van ’n woord kan bepaal, selfs al bereik jy net gedeeltelik sukses, is jy reeds besig om ’n sirkel te sluit.
KORTREIS VAN DIE SONVRUG
Lemoene in Indië
Die lemoen en ander sitrusvrugte is reeds duisende jare in hierdie gebied bekend. Soetlemoene groei blykbaar wild in Garhwal en Sikkim in die Nilgiri- asook die Khasi-heuwels waar die valleie nog altyd besonder goeie lemoene lewer. Teen ongeveer 100 n.C. verskyn name van lemoene in die oudste mediese boek in Sanskrit, getitel Charaka-Samhita deur Charaka, hofdokter van koning Kanishka, waar die bitterlemoen naranga en die soetlemoen airavata genoem word. In latere tye toe die benaming vir die lemoen deur Hindoes aan ander volke oorgedra is, is die Sanskrit-woord nāranga wat in Persies nārenj is, deur die Arabiere oorgeneem as naranj. (Vergelyk in hierdie opsig die pleknaam Naranjo, die terrein van ’n vroeë Maya-stad naby Tikal, Noord-Guatemala.) Die Persiese geskiedkundige Abu Ishag al Farai al-Istakhri skryf in sy Boek van die Lande (950 n.C.) oor suurlemoene wat in Manstjoerye en in die Poendjab gegroei het. Jordanus van die Franse Dominikaanse sending en eens die Biskop van Malabar, Suid-Hindoestan, skryf in 1330 oor die diere en plante van Indië: “... in sommige plekke is daar suurlemoene so soet soos suiker, terwyl daar ander soorte is wat net so suur is soos ons suurlemoene” (Eshuys: 49).
Lemoene in Sjina
Aangesien vroeë Sjinese geskrifte meld dat lemoene reeds teen 2400 v.C. in sekere van die Suidoos-Sjinese gebiede bekend was, word dikwels aangeneem dat die plante daar inheems moes wees en daarvandaan na Indië versprei het. Hierdie aanname word egter wat een lemoensoort betref, deur die Sjinese literatuur self weerlê. Dit blyk uit ou Sjinese geskrifte dat daar ’n variëteit van die (soet)lemoen in Sjina voorgekom het, maar wat oorspronklik van Iran afkomstig was. In die Sjinese literatuur is daar verskillende benamings gebruik vir die soetlemoen, naamlik die Hung kan (geel lemoen), Hu-kan (Iranse lemoen) en Yu/Ju-kan (melkagtige lemoen). Soos deurgaans in soveel tale gebeur het, het ook die Sjinese dikwels die vorme verwar en gevolglik verskillende soorte lemoene onderskei en as sodanig benoem. Volgens ’n hedentydse Sjinese vertaler beteken Hung kan, Hu-kan en Ju-kan al drie “lemoen van Iran”. Die Sjinese inwoners van die grensgebiede Sauchuan en Yunna was bekend met die soetlemoen, wat blykbaar ingevoer is vanaf die oostelike dele van Indië waar dit inheems was. Martini beskryf in 1655 in sy Nuwe Sjinese Atlas twee vorme van lemoene: die een met ’n los skil is die mandaryn (Afr. nartjie); die een met ’n vaste skil is die koelielemoen (Afr. (soet)lemoen), waar koelie ’n inwoner van Indië impliseer. [Afr. koelie uit Eng. coolie uit Hindi kulī, qulī wsk. uit Kulī, Kolī, ’n inheemse stam van Gujarat, Indië.]
Lemoene in die Maleise Eilandsee (Argipel)
Die Maleise naam vir soetlemoen, jruk, (in Bahasa Indonesia is dit jeruk) word reeds aangetref in die ou Javaanse Ramayana-teks wat voor 1200 n.C. saamgestel is, en die stad Jrukci (tans Garut) wat afgelei is van die vrugnaam, verskyn reeds in ’n inskripsie van ongeveer 915 n.C. Sitrusbome, veral die soetlemoen, is reeds eeue lank op talle van die Suidsee-eilande bekend. Die Nederlander Jan Huygen van Linschoten wat verskeie jare in Spanje en Portugal gebly het, reis na die Ooste en bly ses jaar daar. In 1583 skryf hy dat Ceylon die beste lemoenstreek in Indië is en ook dat die Sjinese lemoen soeter as suiker is. G.E. Rumphius (1637-1706), goewerneur van Nederlands-Indië, skryf in sy boek Kruie van Amboyana dat die bewoners in sy tyd geglo het dat die soetlemoen en die mandaryn toe kort gelede vanuit Sjina ingevoer was. Hulle noem die soetlemoen die Sjinese suurlemoen (suur in vergelyking met die soet nartjie), wat in die 17e eeu meestal deur die Sjinese deel van die bevolking gekweek is. Vandag nog staan die (soet)lemoen in Nederlands as die sinaasappel bekend, terwyl die nartjie mandarijn genoem word.
Lemoene in die Midde-Ooste
In die suidelike provinsies van Iran, langs die Persiese Golf en in die warm vogtige Gilan-streek (Noordwes-Iran) aan die Kaspiese See, was toestande baie gunstig vir die kweek van sitrusvrugte. Die Jode vier reeds duisende jare die Loofhuttefees (Levitikus 23), waarin die lemoen ’n belangrike rol speel. Vandag nog is die adamsappel wat in die kusgebiede van die Middellandse See voorkom, belangrik tydens die Loofhuttefees. Dit verwys na die geel vrug van die Pomum adami (ook genoem Poma Adam ‘appel van Adam’) ’n variëreit van die lemoenboom. Die vrug se skil toon hollighede wat soos tandmerke lyk. Volgens volksgeloof is dit die verbode vrug van die Paradys, waarin die bytmerke deur Adam as ewige gedagtenis aan sy sonde dien! Dit is waarskynlik hoofsaaklik aan die Jode te danke dat sitrusvrugte tydens oornames deur vyandelike groepe op sommige plekke in Italië, Spanje en die eilande by die kus bewaar gebly het. Hoewel Granada en Taragona vroeër bekend gestaan het as Joodse stede, het die Jode nie slegs daar gewoon nie, maar ook op die platteland, waar hulle wingerde en boorde gehad het. Ter wille van bogenoemde fees het hulle sitrusvrugte, onder andere sitroene, asook dadelpalms aangeplant. Die Persiese dokter Abu-Mansur (970 n.C.) vertel dat lemoene gewoonlik soetsitroene genoem is. Dit kan dus beteken dat dikwels wanneer van sitroene gepraat of geskryf is, ook na soetlemoene verwys is sonder dat daar duidelik tussen die twee soorte onderskei is. Joodse en Arabiese mediese skrywers noem die suurlemoen en die sitroen albei turunj.
Lemoene in Europa
Soet- en suurlemoene was reeds in die eerste eeu n.C. by die Romeine en Grieke bekend. Die Romeine, wat ’n groot deel van die toenmalige bekende wêreld verower het, het die vrugte na Italië gebring, vanwaar hulle dit na die res van Europa versprei het. Die muurskilderye en mosaïeke van die eerste eeu n.C. toon duidelik dat lemoene en suurlemoene in Italië bekend was. Lemoene, waarskynlik soetlemoene, was in Italië bekend voor die vernietiging van Pompei in 79 n.C. In ’n publikasie van Valeriani (1397) word die bitterlemoen, soetlemoen, sitroen, adamsappel en suurlemoen onderskei. Die soetlemoen word ook die malus arancia ‘oranje-appel’ genoem. In Vasco da Gama se reisbeskrywings (1498) word vermeld dat daar baie lemoene in Indië was, maar almal soetlemoene. Volgens oorlewering het Joao de Castro (1500-1548), die vierde onderkoning van Indië, op sy terugreis na Portugal ’n lemoenboom saamgevat wat hy in die tuine van sy landswoning, Penha Verde, geplant het. Al die soetlemoene van Portugal sou dan van hierdie boom afstam. In 1610 berig ’n Portugese bron dat enorme hoeveelhede lemoene, sitroene en suurlemoene in Portugal gekweek word. Vlaamse koopliede het soetlemoene na die noordelike lande en Engeland vervoer. Teen die middel van die 17e eeu is die Portugese lemoen, waarskynlik toe nog die minder soet vrug, egter algaande in Europa vervang deur die sogenaamde Aurantium sinense, die Sjina-lemoen (Ndl. sinaasappel). Die Spaanse leenwoord naranja word geleen deur Frans, wat die n as deel van die lidwoord beskou en dit gevolglik verkort tot orenge, orange waarskynlik onder invloed van or ‘goud’ (as gevolg van die kleur) of Orange, stad in Suid-Frankryk. In Engels en ander Europese tale word die woord orange ook vir hierdie vrug gebruik. Die stad Orange se naam het volksetimologies uit die ouer Latynse benaming Arausio ontstaan, waarskynlik onder invloed van die groot lemoenmark wat daar bedryf is – dus kruisbestuiwing in die ware sin van die woord. In 1544 verkry Willem die Swyger van die Nassause vorstehuis besit oor Orange, vandaar die Huis van Oranje-Nassau.
LEMOENE AAN DIE KAAP
St. Helena se bronne van vars vrugte (o.a. appels en lemoene) en vleis was teen die middel van die 17e eeu erg uitgeput. Gevolglik versoek die VOC-amptenare vir opperhoof Janszen wat in 1647 saam met 60 matrose van die gestrande Haerlem vir ’n jaar aan die Kaap vertoef het terwyl hulle op ’n retoervloot gewag het, om na sy terugkeer in Nederland ’n verslag te skryf oor die Kaap as toekomstige verversingspos. In 1649 lê hy sy “Remonstrantie”, mede-onderteken deur die ander opperhoof van die Haerlem, Matthijs Proot, aan die VOC-kamer Amsterdam voor. Hierin ondersteun hulle die vestiging van ’n verversingspos aan die Kaap. Jan van Riebeeck, gewese koopman in diens van die Kompanjie, bied sy dienste aan vir die pos as kommandeur aan die Kaap. Op 24 Desember 1651 vertrek hy en sy geselskap “per de schepen Drommedaris, Reijger ende Goede Hoope ... uit Texel, vande Camer Amsterdam”. Van Riebeeck se Daghregister (1651-1662) is ’n kosbare bron van inligting oor die aanvangsjare van die Kaap. Met die doel om tuine aan te lê, het hy genoeg plantmateriaal, sade en pitte per skip van die vaderland af saamgebring. Na ’n paar maande aan die Kaap skryf hy op 22, 23 en 24 Augustus 1652 in sy Daghregister: “ ... ende als ’twat warmer begint te worden, sijn voornemens om oock wat spaense limoenen ende appelcornen te planten die wij mede uit patria gebracht hebben” (spaense lemoenen (cornen) ‘lemoenpitte’). Die Spaanse lemoenpitte waarna Van Riebeeck verwys, was blykbaar dié van die Citrus aurantium, ofte wel die Seville-lemoen.
Van Riebeeck het heel gou na sy aankoms die ‘Compagnies Thuijn’ aangelê. Baie soorte vrugtebome is aangeplant waarvan sommige, soos die mispel en kweperbome, op die kante van die slote geplant is. Deur middel van hoë heinings is die tuin simmetries ingedeel, met ’n afdeling vir elke tipe boom. Die tuin het appelkose, lemoene, nartjies, suurlemoene, bitterlemoene, appels, pere, pruimedante, perskes, koejawels, granate, vye, piesangs, pynappels, amandels, okkerneute en bessies opgelewer. Uit ’n inventaris wat Van Riebeeck van sy lande opgestel het, blyk egter dat sitrusvrugte en wynstokke die belangrikste was. Lemoenbome uit St. Helena het soos volg in die ‘Compagnies Thuijn’ beland: In Februarie 1655 stuur Van Riebeeck die Tulp na die eiland om onder andere appel- en lemoenboompies vir die Kaap te haal (JvR, DR I, 14.2.1655), bl. 289). Hulle het goed aan die Kaap gegroei nadat Van Riebeeck ’n windwerende heining rondom die hele Kompanjiestuin laat plant het. Die Nachtglas het in 1656 nog 300 appel- en lemoenboompies van St. Helena af gebring. In November 1[6]57 het die jag Maria nog 900 appel- en lemoenboompies daar gaan haal. Vergelyk die Resolusie van “Maendagh den 20en Augustij ao. 1657: soo veele appel off lemoen boomtjes als sal cunnen bergen om hier aen te planten”.
In sy Daghregister word daar telkens verwys na sitrusbome: – 6 Augustus 1659: “Beginnende het nu oock bequaeme tijt te worden om ... allerleij ... fruijt-boomen te planten ... voornamentlijck Orangie-appelende lemoen-boomtjens, wel bij duijsenden.” – 2 Sep.1660 skryf hy van pogings om “lemoen ende orangieappel” te ent. – 29 Okt.1660 skryf hy dat “de orangie- [en] lemoenboomen” gaan vrugte dra. – 18 Julie 1661 berig hy van die “orange- ... en lemoenbomen” in die Kompanjiestuine, en op – 25 Julie 1661 “’s Namiddags heeft den Commandeur Riebeeck met sijn huijsvrouw d’ eerste twee lemoenen van een boomtjen in Compagnie’s thuijnen staende affgepluckt, sijnde fray geel gecouleurt ende al moij groot, St. Helena’s slagh, van jonge boomtjens voor dato vandaer doen haelen, en te hopen datter haest meer sullen beginnen te dragen.” (JvRDR, 25.7.1661, bl. 384, deel III).
Die belangrike vraag is egter na watter vrug Van Riebeeck verwys wanneer hy die woord “lemoen” hier gebruik: Is dit ’n Afr. suurlemoen of dalk net ’n minder soet variëteit van die soetlemoen? Dié vraag word gestel na aanleiding van die bewering deur T.V. Bulpin: “As far as the sweet orange in South Africa is concerned, there is no doubt at all about the precise date and origin of the introduction. On June 11, 1654, the yacht Tulp brought the first trees to Cape Town from the island of St. Helena. In Cape Town the trees were planted in the Governor’s [Company’s] garden and on July 25, 1661, the first fruit were plucked by Jan van Riebeeck and duly pronounced to be ‘very good’” (T.V. Bulpin: “Citrus is gold in Olifants Valley”, The Cape Argus, 3 November 1962.) Dr. Böeseken verwys in Jan van Riebeeck en sy Gesin (bl. 91) na “lemoenboompies van St. Helena” en bevraagteken ook nie die soetlemoenstatus nie. In die Resolusie van “Maendag den 18en Julij 1661” word berig dat dit hoog tyd was dat die Edele Kompanjie ’n goeie stuk land moes kies vir die plant van olyfbome, maar insonderheid dié van “orangie, pompelmoes ende lemoenboomen”. Aan die “nieuwlandt” (huidige Nuweland) word daar toe grond voorberei vir sodanige “plantagie”, vry van die felle suidoostewinde, met die oog op “orangie, lemoen ende wijnplantagie”. In die Resolusie word ook geskryf dat dit jammer is dat die vryburgers nie geneë was “tot boom off wijnplantagie” nie; hulle het eerder net “koring, thuin- en aardvrugte” geplant omdat hulle onmiddellik ’n inkomste moes hê. Vanweë die felle suidoostewinde het die bome in die Kompanjiestuin nie so hoog gegroei soos op Van Riebeeck se plaas Bosheuvel nie. Hierdie plaas was “bepoot ende beplant met 1,162 jonge orangie, lemoen ende pompelmoes boomen” asook talle ander vrugtesoorte, altesaam “1244 stucx jonge vruchtboomtjens.” Die plan was om “wel over de 1,000 jonge orangie ende lemoenboomtjens tegen September aenstaende (gewortelt sullende wesen) aen te planten” in die “nieuwelandt”. Van Riebeeck wat ’n baie entoesiastiese tuinier was, meld in sy Memorie aan sy opvolger Wagenaer dat hy aantekeninge gemaak het in sy Caepse Hoveniers Almanach van die wyse waarop die Tuine bewerk, besaai en beplant moet word; hy laat hierdie Almanach vir Wagenaer agter. Hy maak in Maart, Junie, Julie, Augustus en December melding van “limoenen”, “citroenen”, en “orangie boomen”.
Deur die jare maak verskillende besoekers en reisigers melding van hierdie vrugtebome in die Kaap, onder andere François Timoléon de Choisy in 1685, Abraham Bogaert in 1702, en Kolbe in 1731. Laasgenoemde skryf dat daar in die VOC-tuine in Kaapstad ’n oorvloed sitroen-, suurlemoen- en lemoenbome groei, en dat die skoonheid en rykdom van die vrugte elke vreemdeling verras en bekoor. Tydens Lady Anne Barnard se verblyf aan die Kaap besoek sy ene Lategan by Stellenbosch wat 36 jaar tevore ’n lemoenboom geplant het; die boom is 40 voet hoog en “so loaded with delicious ripe oranges” en dat dit moontlik was “ ... to send 27 loaded waggons to the Cape” (Fairbridge, bl. 252). Engelse tekste laat geen twyfel oor die soort vrug nie. ’n Orange bly ’n orange. Uit Lichtenstein se besoeke aan die Kaap gedurende 1803-1806 word soos volg oor sitrusvrugte aangehaal: “By noon we had left the Piketberg ... and began to descend into the valley on the other side of it. A large farm, with ... dark leaved orange-trees, lay before us”. Verder meld hy van “A mandarine tree” op die plaas van “the good old widow Lieuwenberg”. Sy was die weduwee van Hans Liebenberg van die plaas Vondeling aan die Grote Bergrivier, in die wyk van die 24 rivieren (tans Porterville).
Verder besoek Lichtenstein ook die Duitser Leiste se plaas Gelukwaard en berig oor “vineyards, orchards, and orangeries” en dat wyn, suur- en soetlemoene, asook gedroogde vrugte die belangrikste produkte van die plaas was. In die boek getitel Life at the Cape a hundred years ago deur “A lady” (C. Struik, C.T.) wat in die Tuine gewoon het, word die volgende op 5 Oktober 1861 ingeskryf: “You should see our fine orange trees – at least 20 feet high.” Daar word in die primêre bronne ook heel spesifiek na die vrugte verwys. – In die Resolusies van die Politieke Raad word “ingelegde limoenen” in 1766 en 1788 genoem; “zuure limoenen” in 1760 en 1795, in al vier gevalle as deel van die skeepsvrag uit die Ooste. – In die Boedelinventarisse in die MOOC 8-reeks word ook na lemoene verwys. Uit die omvang van die onderskeie inventarisse kan afgelei word dat vermoënde mense oor sitrusvrugte in die huis beskik het: Nie voor die tyd nie, maar vanaf 1743 tot 1829 kom “limoenen” ongeveer 10 keer voor, meestal as ingelegde vrugte, naamlik “soute limoenen”, “2 limoen flesjes”, “drie bottels limoenzap”, “dertig boutteilles zuure limoen zap bedorven”, “neegen vaatjes in zoort met Chinasche limoenen”, (lg. dus soetlemoene). Dit is egter nie moontlik om te bepaal of hierdie vrugte afkomstig was van die Ooste of die Kaap nie. Lemoene is ook gebruik as betaalmiddel, veral op die platteland: “koop van twee duizend lemoenen (district Beaufort)”; “Debts of the estate to the widow Ch:n Bothma for China oranges 50”. Die tipies Afr. betekenis blyk uit die direk ondermekaarstaande inskrywing van die volgende: “twee bottels limoenstroop, een bottel zuure limoen sop” wat in 1828 gelys is. – Häszner se mediese handboek van 1793 (MOOC 14/143), bevat die meeste verwysings na sitrusvrugte van al die primêre bronne wat geraadpleeg is. Johan Friedrich Häszner, “gesworne chijrurgijn der Colonie Graaffe Rijnette”, stel in 1793 ’n mediese handboek in opdrag van J.I. Rhenius op. Häszner ag die geneeskundige waarde van sitrusvrugte heel hoog. Hy verwys dikwels na soet- en suurlemoene, dit wil sê in die Afr. betekenis. Hy skryf: “War toe heft deeze land het vooregt van zoo veele zoete en zuure limonen op te leveren” as dit nie ten bate van die gesondheid aangewend word nie? Hy beveel sitrusvrugte aan vir 25 siektetoestande, wat wissel van sonsteek tot “flauwtens” en “waterzucht”. Afhangende van die soort siekte beveel hy “soete limonen”, “zure limonen”, “limonade van zure of soete limonen”, ook “bitter limoon”, “citer” en “water limoon”, asook die skil van bitter-, soet- of suurlemoene aan. – Plek- en plaasname Namate die Kaapse gebiede uitgebrei het, het lemoenbome versprei vanuit Van Riebeeck se oorspronklike boorde na die plattelandse gebiede. Hoewel die woorddeel “Lemoen-” nie in die geraadpleegde argiefbronne in plek- of plaasname voorgekom het nie, is “Orange” wel gebruik. In 1769 en 1800 word gemeld van Orange Sigt en Orangezigt, en in 1735 en 1755 word gemeld van die plaas Orange aan die Paardeberg, wat sedert die eerste datum van eienaars verwissel het.
DRIE BESONDERSE LEMOENBOME IN SUID-AFRIKA
1. Lemoenboom naby Citrusdal
Die plaas Hexrivier aan die Olifantsrivier naby Citrusdal, behoort sedert 1734 aan die Visser-familie. Naby die woonhuis staan die oudste lemoenboom in die land wat as gevolg van sy ouderdom ’n historiese gedenkwaardigheid is. Die Afrikaanse digter, C. Louis Leipoldt, het in 1922 by Clanwilliam se eeufeesvieringe na dié boom verwys as “synde 200 jaar oud”. Hoewel die boom in 1925 byna heeltemal uitgebrand het, het sy oorspronklike wortelstelsel en onderste gedeelte van die stam behoue gebly. Daarna het die boom weer uitgeloop, is twee meter hoog en dra elke seisoen heerlike vrugte wat egter heelwat kleiner is as die hedentydse lemoene. Die boom is tans ongeveer 290 jaar oud.
2. Prinses Beatrix Gedenklemoenboom
Nadat die Voortrekkers hulle in 1837 in die Rustenburg-omgewing gevestig het, het hulle die lemoenpitte wat hulle van die Kaapkolonie af saamgebring het, daar geplant. Die eerste betekenisvolle sitrusboorde is egter eers in 1859 aangeplant. Vanaf 1870 tot 1875 het pres. Kruger ongeveer 500 pitlemoenbome op sy plaas Boekenhoutfontein aangeplant. Van hierdie bome was nog tot 1960 te sien en het steeds heerlike soet vrugte gedra. Met die geboorte van kroonprinses Beatrix van Nederland op 31 Januarie 1938 is daar ’n lemoenboom voor die Rustenburgse stadshuis geplant en die Prinses Beatrix Gedenklemoenboom genoem. Die boom is ongelukkig in 1996 dood, maar ’n plaasvervangerboom is daarna aangeplant in die Gereformeerde Kerk se tuin op Rustenburg.
Met Beatrix se 13e verjaardag Julie 1951 het mnr. Wulfse, eertydse raadslid wat die boom geplant het, van die heerlike lemoene laat pluk en die houer per KLM aan die prinses gestuur. Hierdie boom was ’n direkte afstammeling van een van die bome wat pres. Kruger in 1875 geplant het. Die gedenkboom is geplant ter ere van die Nederlandse koningshuis van Oranje wat soveel vir die twee voormalige Boererepublieke gedoen het. In haar bedankingsbrief wat vergesel was van ’n foto, skryf die prinses soos volg: “Ik dank u heel hartelyk voor het pakketje met sinaasappelen wat ik van u ontving. Wat leuk dat u deze boom geplant heeft op de dag van mijn geboorte en dat hij nu al zo groot is. ... Van de oranje appeltjes heb ik fijn gesmuld. Met vriendelijk groeten, Beatrix”
3. Lemoenboom in Bloemfontein
Daar staan ’n groot lemoenboom in die binnehof van die Vierde Raadsaal in Bloemfontein, ook genoem die Rosestad. Die ouderdom van die boom, naamlik 100 jaar, word bevestig deur die volgende gebeure: Vanweë ’n tekort aan kantoorruimte in die Vierde Raadsaal, word daar besluit om uit te brei. Op 28 Augustus 1907 word die tender vir die bou van die Oosblok van die Vierde Raadsaal aanvaar en op 16 Junie 1908 vind die eerste vergadering in die nuwe gedeelte plaas. Voor laasgenoemde datum is die oop ruimte, ofte wel binnehof, tussen die Vierde Raadsaal en die Oosblok, uitgelê en beplant. Daar kan met sekerheid aanvaar word dat hierdie lemoenboom, gegewe sy wetenskaplik berekende ouderdom, ook toe geplant is. Die boom dra nog elke jaar vrugte.
Die plant van hierdie boom is voorafgegaan deur ’n interessante verloop van Vrystaatse lemoensake. Toe die Engelse firma De la Rue in 1867 gevra is om seëls vir die ‘Republic of the Orange Free State’ te ontwerp, het hulle met húlle Engelse woord orange vir die vrug in gedagte en verder beïnvloed deur die Republiek se naam, blykbaar sommer self besluit dat die vryheidsboom van die Oranje Vrystaatse staatswapen seker dan ’n orange-boom moet wees. Die vrugdraende lemoenboom verskyn gevolglik vanaf 1868 vir talle dekades op die seëls van die Republiek van die Oranje Vrystaat en daarna die Unie van Suid-Afrika, later ook op die Vrystaatse staatswapen, en van 1932 tot 2000 ook op die staatswapen van Suid-Afrika.
ENKELE OPMERKINGS
1. Hoewel die woord lemoen al in die middeleeue bekend was en in Middelnederlands na ’n ‘kleine citroen’ verwys het, was dit om en by die 17e eeu redelik onduidelik watter vrugte pas by watter benaming. Die reisbeskrywers praat dikwels in een asem van “oraengie-appelen, limoenen, lymen, Cidroenen en Cydren” sonder om die verskillende soorte duidelik van mekaar te onderskei (vgl. Van Linschoten, Itenerario I 19, 56, 224). Dapper skryf van “zoete en zuure Oranje-appelen, Limoenen, Citroenen” (Nauk. Beschr., bl. 72). Dodonaeus verwys in sy Cruydtboek (bl. 1329) na “zuure en zoete limoenen”, soos in Afrikaans. Dieselfde geld Valentijn se “groote Zoete Limoen-boom, diens Vrugt men ook wel een zoete Appel noemd” (O.-I. III, 189 a (WNT).
2.1 Verwys Van Riebeeck na Seville-lemoenpitte wanneer hy skryf van Spaanse lemoenkornen? Indien wel, neig lemoen hier al na die Afr. betekenis. 2.2 Na watter vrugte verwys Van Riebeeck wanneer hy skryf van orangie appelen en lemoenen? Die aanname word gemaak dat hy met orangie/orangie appelen waarskynlik na die soetlemoen verwys; maar was sy lemoen werklik nog die Mnl. klein sitroen of verwys dit dalk na ’n vrug wat na ’n Afrikaanse suur lemoen neig? Sy orangieappelende lemoenboomtjes is die interessantste beskrywing van almal, maar beslis die moeilikste om te plaas. 2.3 Van Riebeeck se gebruik van orange/orangie is heel opvallend. Ander skrywers gebruik orangieappelen of Chinase lemoenen, met ander woorde soetlemoene. 2.4 Aanvanklik verwys orange na ’n bitter lemoensoort. Die eerste Ndl. optekening van Chinaasappel was in 1682 (WNT), 30 jaar na Van Riebeeck se gebruik van orange. Die soetlemoen vervang in hierdie tyd die bitter-/suur lemoen. Orange as vrugtebenaming het egter nooit in Afrikaans posgevat nie, slegs die kleurnaam oranje.
3. Die Kaapse sprekers gebruik egter lemoen. Uit Hãzsner se werk blyk dat die onderskeid tussen soet- en suurlemoen reeds teen 1793 afgeloop was, hoewel dit waarskynlik lank voor daardie tyd al in die omgangstaal gebruik is. In 1828 is die Afr. lemoen as soetlemoen teenoor suurlemoen in die geraadpleegde primêre bronne opgeteken.
4. Die woord appel in die betekenis ‘vrug’ hou ook met lemoen en orange verband, byvoorbeeld Ndl. sinaasappel en appelsien (Duits Apfelsine). Vergelyk ook Afr. aart-/ertappel, adamsappel, granaatappel en pynappel waar appel ‘vrug’ beteken. Ndl. leenwoorde met pom- ‘vrug’ uit Frans pomme uit Latyn pomum ‘vrug’, kom ook voor, byvoorbeeld Ndl. pomerans van pomme ‘vrug’ en arancie ‘oranje’. Vergelyk hier Afr. leenwoorde soos pom·made, pomologie en pomoloog.
5. Uit die tabel van sitrus- en ander vrugte blyk dat daar selfs in die onlangse verlede betekenisveranderings ingetree het. Vergelyk die lys Maleise benamings van ongeveer 130 jaar gelede met die huidige opmerkings deur dr. Han Mets: in hedentydse Bahasa Indonesia verwys limau slegs na ’n sitroen, terwyl jeruk in plaas van. limau die versamelnaam vir sitrusvrugte is.
6. Klankverandering vind gewoonlik langsaam plaas, byvoorbeeld appel uit Germ. abel (p uit b) uit die waarskynlike prototipes *abal-n of *amal-n (b teenoor m); soms vind ’n proses van letterverspringing in ’n woord of tussen woorde in dieselfde taal of verskillende tale plaas. Vergelyk die volgende:
Wat uiters interessant van hierdie ontleding is, is dat die letters in amaln, melon/meloen en lemon/lemoen, bykans dieselfde is al het hulle met verloop van tyd binne die woorde van volgorde verander. Al drie die woorde bestaan steeds, maar tans in ’n heel spesifieke betekenis. Wat die ouderdom betref, word die Germaanse abel teruggevoer na amaln wat verband hou met melon uit ’n voor-Griekse taal van die Middellandse Seegebied. Is lemoen dan die oudste? Of is lemoen die gevolg van ’n voorafgaande klankverspringing? En waar pas orange by alles in?
Simboliek speel ’n belangrike rol in die geval van appel, lemoen en orange as vrugte rond van vorm. Dít is egter ’n onderwerp vir ’n volgende gesprek. Dit lyk dus asof die volle verhaal nog wag om vertel te word.
SLOTWOORDE
Ek sluit met die volgende gedig as samevatting wat op VOC- én simboliese vlak geld:
lemoenroos
lig anker by die hawe
van die teks
die langtafel met spierwit kleed gedek
tuinier in opdrag uit vrye keuse
hiermee die eerste roos, my lief
Helena Liebenberg
Ek dank u vir u aandag.
Verkorte lys geraadpleegde bronne A LADY. Life at the Cape a hundred years ago. Cape Town: C. Struik Almanach der Africaansche Landbouwers en Hoveniers. 1984. Kaapstad: Suid-Afrikaanse Biblioteek BOSMAN, D.B. & H.B. THOM. 1957. Daghregister gehouden by den Oppercoopman Jan Anthonisz van Riebeeck. Deel I-III. Kaapstad: A.A. Balkema BROWNELL, F.G. 1993. Nasionale en provinsiale simbole en flora en fauna-embleme van die Republiek van Suid-Afrika. Johannesburg: Chris van Rensburg Uitgewers DE VRIES, J. 1997. Nederlands Etymologisch Woordenboek. Leiden: Brill ESHUYS, W.A. 1966. Aardrykskundige en geskiedkundige oorsig van die herkoms en verspreiding van sitrus. Nelspruit: NISSV FAIRBRIDGE, Dorothea (ed.) 1924. Lady Anne Barnard at the Cape of Good Hope, 1797–1802. Oxford KAAPSTADSE ARGIEFBEWAARPLEK: C1-231 (Resolusies van die Politieke Raad van die Kaap de Goede Hoop); MOOC8 (Boedelinventarisse); MOOC14 (Boedelrekeninge) LICHTENSTEIN, M.H.C. Travels in southern Africa in the years 1803, 1804, 1805 and 1806. Two volumes. Cape Town: The Van Riebeeck Society, no. 10, 11. 1928–1930 MORRIS, W. (Ed.) 1973. The Heritage Illustrated Dictionary of the English Language. New York: American Heritage Publishing Co., Inc. & Houghton Mifflin Company VAN DER MERWE, H.J.J.M. 1964. Scheepsjournael ende Daghregister. Pretoria: J.L. van Schaik Bpk. VAN VEEN, P.A.F., N. VAN DER SIJS. 1997. Van Dale Etymologisch woordenboek. Utrecht/Antwerpen: Van Dale Lexicografie VERCUEIL, S.W. 1993. Geskiedkundige oorsig van sitrus in die Rustenburg-gebied. 1859-1991. Nelspruit: Instituut vir Tropiese en Subtropiese Gewasse VERCUEIL, Stephan. “Twee geskiedkundige boompies geplant” Rustenburg Herald Properties, 16 September 2005 Woordenboek der Nederlandsche Taal. CD.
BENAMINGS VAN VRUGTESOORTE BEHORENDE TOT DIE SITRUSFAMILIE – Klik vir tabel in MS Word formaat ... – Klik vir tabel in PDF formaat ...
Verdere inligting tydens vraetyd 1.1. Die woord pomelo is nie meer in Nederlands bekend nie, slegs die ontlening grapefruit word tans gebruik, teenoor Afrikaans pomelo ‘grapefruit’. Die gebruik van grapefruit in Afrikaans sou neerkom op direkte ontlening uit Engels, wat ten alle koste vermy (behoort te) word. 1.2. In ooreenstemming met die klankverspringing en -verandering soos tydens die voordrag bespreek, geld dieselfde ten opsigte van pomelo en pompelmoes:
2. Gedurende die VOC-tydperk is nie net Indiërs koelies genoem nie, aangesien daar dikwels ook na Sjinese werkers/slawe as koelies verwys is. 3. Sinaasappels uit Israel staan in Nederland as jaffas bekend. Israel is vol sitrusboorde met groot lemoenboorde by Jaffa, Tel-Aviv – vandaar die naam. Jaffa lê ook aan die Middellandse See, dus presies in die regte gebied. Dieselfde proses geld hier: pleknaam gaan oor op die produk en andersom, soos by Orange in Provence, Frankryk. 4. Die Ndl. mandarijn ‘nartjie’ is die vrug van die Mandaryn, titel van ’n hoë staatsamptenaar van die Sjinese Ryk. Vergelyk De Vries se aangehaalde uiteensetting in die tabel. 5. Dr. Gwen Fagan vertel van die orangerie wat sy op die Boschendal-landgoed, Stellenbosch, aangelê het met pitlemoenboompies wat sy gekweek het van plante uit die oorspronklike boord, aangevul met jong plantjies afkomstig van die oudste lemoenbome op verskeie ander plekke in die Kaap.
|