|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
Sterreprag oor die Suide Rubriek
deur Hans Daehne Desember 2011
Somernagte is die mees ideale tyd om sterre te bewonder omdat dit nie so koud is nie, dit vakansie is en ’n mens laat kan slaap die volgende oggend – en natuurlik omdat van ons mooiste hemelsobjekte in die somer te sien is. ’n Paar hiervan in die Noorde is: Taurus, die bul wat aangedui word deur die Pleiades ( Sewe Susters) wat ’n indrukwekkende verkykeritems is, asook die rooi Aldebaran in die Hiades (Reëngesternte); en Orion, die hemelsjagter, wat onmiskenbaar is met die drie helder sterre van die Gordel van Orion (Drie Konings) in ’n reguit lyn; en naby daaraan die mooi en groot Orionnewel (ook die “sterrekraamsaal” genoem omdat sterre hier gebore word) wat reeds deur ’n verkyker bewonder kan word; en laastens die rooi reusesterre Betelgeuse en Aldebaran. In die Suide kan die oop sterrehopie M41 (in die “maag” van die Groot Hond ) en veral die Groot en Klein Magellaanse Wolke met hulle verrassings bewonder word; dit vergoed vir die Suiderkruis wat op die oomblik laag bokant die horison en vir sommige sterrekykers onsigbaar is. As daar ’n jagter is, moet daar ook jaghonde wees – en hulle word wel deur Canis Major, die groot hond met die helderste ster Sirius en Canis Minor, die klein hond met die helder Procyon aangedui. Kyk of u ook ons gelyksydige Somerdriehoek kan konstrueer uit Betelgeuse, Sirius en Procyon. In Desember het ons in die suidelike halfrond natuurlik ook ons Somersonstilstand wat hierdie jaar op die 22e plaasvind en die begin van ons somer aandui, hoewel die aarde eers op die 3e Januarie 2012 die naaste aan die son is. Venus is die helder “aandster” en klim al hoër, maar is veral sigbaar vanaf ’n plek met ’n oop westelike horison. Jupiter is baie helder omdat hy soos die volmaan nou in ’n voljupiter-posisie verkeer. Selfs sy vier Galileïaanse mane, naamlik Io, Europa, Ganimedes en Kallisto is reeds deur ’n verkyker sigbaar. Saturnus kom na middernag op en sal in 2012 helderder word en sy ring sal weer 20 % oopgedraai wees sodat dit mooi sal vertoon. Volmaan is op die 10e en Nuwemaan op die 24e Desember, wat alles sal bydra tot baie donkertyd in dié maand sodat ons ons sterreprag oor die vakansiedae kan geniet. Mars verdien nou reeds spesiale vermelding, alhoewel hy eers in Maart 2012 in opposisie tot die Son sal wees, met ander woorde op sy helderste (mag. -1.2) en die naaste aan die Aarde vir die volgende twee jaar. Die Mars-ondersoekvoertuig “Mars Science Laboratory” (MSL), wat so groot soos ’n motor is, is reeds op 26 November met behulp van die kragtigste vuurpyl, die Atlas 5, gelanseer om binne agt-en-’n-half maande op Mars te land. Wat so interessant en spannend is, is die feit dat die ruimtetuig reeds op pad na Mars gestuur is terwyl sy bedieningsagteware vir sy landing en bedryf op Mars nog op Aarde geskryf word. Na voltooiing en uittoets van die sagteware sal dit gestuur word na die ruimtetuig, die tuig betyds inhaal en gereed wees om die groot tuig veilig op Mars te laat land en al sy take te laat uitvoer. Dit klink soos towerkuns, maar is ook met vorige sendings reeds suksesvol beproef – nie dat dit daardeur minder bewonderingswaardig is nie. Na dese sal Mars geen geheime meer vir ons inhou nie. Dit is asemrowend hoe die rekenaartegnologie die ruimte vir ons al hoe groter maak en ons as mense al hoe kleiner laat lyk. Hou die sterre in u oë !
November 2011
In November is dit die laaste kans om vertroud te raak met die minder bekende lentekonstellasies soos Pegasus, Andromeda, Aries, Aquarius en Pisces, almal nou in die noordweste. Dit help om bekende sterreformasies as rigtingwysers te gebruik: So wys die diagonaal van onder links na bo regs in die vierkant van Pegasus verleng na suid na die “V” van die visse (Pisces ) en die “agterbene” van die vlieënde perd dui reeds die sterrebeeld Andromeda aan waar ’n mens ’n bietjie met die verkyker moet soek om die pragtige spiraalgalaksie M31, ons bure in die ruimte op ’n afstand van twee en half miljoen ligjaar, te vind. Alhoewel die Andromeda-newel reeds met die blote oog sigbaar is, sal ’n verkyker ’n mooier aansig gee en selfs in ’n teleskoop moet die vergroting nie te hoog wees nie sodat ’n mens die hele oorsig kry oor die galaksie met ’n wydte van van 150 duisend ligjaar. Dit is dus ’n galaksie wat amper twee keer so groot is soos ons eie Melkweg-galaksie. Alle ander spiraalgalaksies, meesal nog groter, is baie verder weg van ons. Bokant die kop van Pegasus is die sterrebeeld Aquarius te vinde. Aquarius en Pisces is die 11e en 12e sterrebeeld van die diereriem onderskeidelik. Dit is in Pisces waar ons nou nog die noordelike halfrond se lente-dag-nag-ewening het (sedert die geboorte van Christus), maar nie meer vir lank nie, want die eweningspunt is besig om na Aquarius te verskuif. Dit maak die laaste twee diereriembeelde, alhoewel onopsigtelik, vir ons ekstra spesiaal. Met Aries, die ram, begin die diereriem, die sterrebeelde wat op die ekliptika lê, maar dit bestaan uit net twee helder sterre en baie verbeelding. Die tweede sterrebeeld in die diereriem is Taurus, die bul en dit beteken dat die tyd naby is om weer die Sewe Susters (Pleiades) en die rooi oog van die bul (Aldebaran) bokant ons koppe in die nag te sien. Mercurius – is al weer ’n helder aandverskynsel met ’n magnitude van -0.3 sigbaar in die weste vir ’n uur na sonsonder. Venus met ’n helderheid van -3.9 verleng weer haar aandsigbaarheid as “aandster”. Volmaan is op 10 November en b op die 25ste. Jupiter (in Aries) is met magnitude van -2.9 baie helder gedurende die hele nag nadat hy op 29 Oktober in opposisie tot die Son was en dus nou ten volle verlig word. Saturnus is vir dié wat vroeg opstaan in die sterrebeeld Virgo te sien. Die alombekende somersterrebeeld Orion kom weer op in die ooste later in die nag wanneer die Skerpioen besig is om onder te gaan . Dit is nadat, volgens die mitologie, die jagter Orion deur die slangdraer, Ophiucus, weer genees is van die dodelike steek van die Skerpioen en nou gereed maak om die Skerpioen in die Weste weer in die aarde te vertrap – ’n skouspel wat net in die lente waargeneem kan word met die omgekeerde volgorde weer in die herfs van elke jaar. Dit bied ook ’n verklaring waarom die medici steeds ’n slang om ’n staaf as hulle kenteken het. Die Hubble-ruimteteleskoop het die pragtigste foto’s geneem van die bewys van Donker Materie, wat op sigself nie sigbaar is nie. Daar word geglo dat Donker Materie die krag uitoefen wat aanleiding gee tot die vervorming van hele galaksies waarvan die HRT met sy nuwe kameras foto’s geneem het in die verre diep ruimte. Hou die sterre in u oë !
Oktober
2011
In Oktober beweeg die winterkonstellasies naamlik die Skerpioen en die Boogskutter (Teepot) nou vinnig weswaarts om van die hemelstoneel te verdwyn en plek te maak vir die lente- en somerkonstellasies. Die lentekonstellasie is die maklik herkenbare vierkant van Pegasus, die vlieënde perd uit die Griekse mitologie wat aan die digters die moontlikheid tot hulle gedagtevlugte verleen het. Dit is vir ons in die suidelike halfrond nie onderstebo soos die meeste ander sterrebeelde nie . Dit kan dus met relatief min verbeeldingskrag herken word as ’n mens noord kyk, veral omdat die meeste van sy sterre taamlik helder is. Aan die onderste regte hoek van die vierkant loop ’n string van vier sterre, die agterbene van die perd so te sê, maar hulle behoort reeds aan die Andromeda-sterrebeeld. Dit is onder die middel van hierdie lyn waar ons die Andromeda-newel reeds met die blote oog taamlik laag bokant die horison kan vind, alhoewel ’n verkyker baie sal help. Ook bekend as M 31 is dit eintlik die naaste spiraalgalaksie aan ons Melkweggalaksie, met ander woorde, ons buurspiraalgalaksie op ’n afstand van twee en ’n half miljoen ligjaar en een en ’n half keer die grootte van ons tuisgalaksie. Dit is die verste hemelobjek wat nog met die blote oog sigbaar is, omdat die lig van ’n hele galaksie na ons toe beweeg en daar is goeie nuus vir die kortsigtiges, want die Andomeda-galaksie beweeg teen ’n geweldige spoed na ons toe en sal na drie biljoen jaar met die Melkweg-galaksie versmelt. Dit was die beroemde Amerikaanse astronoom Edwin Hubble wat in die vroeë 20ste eeu vasgestel het dat die meeste ver galaksies al vinniger van ons af wegbeweeg verder die ruimte in, met ander woorde dat die ruimte besig is om uit te dy. Die nabygeleë galaksies egter, soos die Melkweg-galaksie en die Andromeda-galaksie wat tot die Plaaslike Groep van Galaksies behoort, volg Newton se gravitasiewet wat bepaal dat twee liggame mekaar aantrek direk eweredig aan die produk van hulle massas en omgekeerd eweredig aan die kwadraat van die afstand tussen hulle. Omdat twee galaksies geweldige massas het en twee en ’n half miljoen ligjaar ’n kort afstand in astronomiese terme is, trek die Melkweg-galaksie en die Andromeda-galaksie mekaar aan teen ’n snelheid van 300 km/sek. – 1/1000 die spoed van lig! Die Maan is vol op 12 Oktober en nuut op die 26ste. Merkurius (mag. -1.1) is as aandvoorwerp naby die Son sigbaar tot aan die einde van die maand. Om die vinnige planeet waar te neem, is dus ’n oop westelike horison nodig. Merkurius, Venus en Saturnus is almal op die oomblik in die sterrebeeld Virgo. Venus (mag. -3.9 ) is ook net vir omtrent ’n uur na sonsondergang sigbaar. Jupiter met ’n helderheid van -2.9 (helderder as enige ster) kom kort na sonsondergang op en is dan die hele nag sigbaar. Jupiter kom op 29 Oktober in opposisie tot die Son op wat beteken dat hy soos die volmaan ten volle verlig word en op sy helderste skyn. In die Suide kom nou die Klein en Groot Magellaanse Wolke weer hoog bokant die horison te voorskyn en hier sien ons nou ons werklike nabygeleë buurgalaksies wat Magellaan nie geweet het nie. Hulle is egter hom ter ere so vernoem. Hulle is wel nie spiraalgalaksies nie en ook baie kleiner as ons Melkweg-galaksie, maar in astronomiese terme baie naby aan ons, naamlik 190 000 en 160 000 ligjaar onderskeidelik. Hou die sterre (en galaksies) in u oë!
September
2011
Volgens die kalender het dit Lente geword en in die naghemel word dit bevestig deur die prominente verskyning van die sterrebeeld Pegasus bokant ons koppe. Op die aarde verklap die ryk blommeprag en al die bloeisels op ooghoogte dat die dae merkbaar langer geword het. Pegasus, die Vlieënde Perd (hy herinner ons daaraan hoe vinnig die tyd vlieg), is die dominante noordelike sterrebeeld in September en Oktober. Met die Lente se dag-en-nag-ewening op 23 September word dit met reg die Lentesterrebeeld genoem, wat ook aandui dat die dae nou langer word as die nagte in die Suidelike Halfrond. Die yslike Vierkant van Pegasus is maklik om uit te ken aan vier helder sterre wat die romp van die perd voorstel met sy nek uitgestrek na links, na wes. Dit is een van die min noordelike sterrebeelde wat vir ons hier in die suidelike halfrond in die regop posisie is. Die vinnige planeet Merkurius wat in 88 dae om die Son wentel, is nou weer in die oggend sigbaar maar weens sy nabyheid tot die Son moeilik waarneembaar. Venus met ’n magnitude van – 3.9 het weer die helder "Aandster" geword eers net vir ’n uur na sonsondergang, maar algaande sal sy langer in die nag skyn. Jupiter (mag. – 2.6) kom nou al hoe vroeër op en sal aan die einde van die maand die hele nag in die hemel sigbaar wees. Saturnus beweeg al nader aan die Son, sak vroeër en sal weer in Oktober ’n oggendobjek word. Volmaan is op 12 September en Nuwemaan op 27 September, nadat dit tydens die twee Nuwemane in Julie na die einde van die maand verskuif het. Nuus van buite die Aarde In Julie het die pendeltuig Atlantis vir die laaste keer veilig op die Kennedy Space Center se aanloopbaan geland na die laaste besoek aan die Internasionale Ruimtestasie (IRS) waar dit ’n jaar se voorraad aan voedsel, water, suurstof en onderdele afgelewer het. Dit beteken nou die einde van Amerika se 30 jaar lange pendeltuigprogram. Ruimtereise in lae aardbane en die versorging van die IRS word nou aan privaatondernemings oorgelaat sodat NASA onder andere op Marsmissies kan konsentreer. Om die ruimtereisigers se laaste oomblikke voor landing te herleef, sal almal fassineer: ’n Uur voor landing moet die ruimtevaarders ’n “vloeistoflading”-prosedure volg wat die inname van groot hoeveelhede vloeistof en soutpille behels om hulle aanpassing by die Aarde se aantrekkingskrag te vergemaklik. Om die terugkeer in die aardatmosfeer in te lei, vuur die pendeltuig albei sy stertmotore vir ’n bietjie langer as drie minute af – dit lewer 3 000 kg remkrag op. Vir dié maneuver moet die tuig in ’n stert-eerste-kop-af-posisie wees en kort daarna omdraai in die kop-op-neus-vorentoe-posisie met die neus 40 grade op herintrede-konfigurasie om die teëlbeskermde onderkant van Atlantis aan die digter lae van ons atmosfeer bloot te stel. Atlantis se onderkant word tot by 1 000 grade C verhit terwyl dit nog teen ’n spoed van 25 keer die spoed van klank of Mach 25 beweeg. Die tuig voer vier draaie oor die Stille Oseaan uit om ontslae te raak van die energie wat dit tydens lansering ontvang het. Op 3 700 km van die aanloopbaan is die spoed steeds Mach 22 en eers op 110 km van die landingsstrook af sweef Atlantis teen Mach 2.5, nou onder die beheer van die bevelhebber ná sy finale landing. Die neerdaling vanaf ’n hoogte van 2 500 m vind teen ’n gradiënt plaas wat sewe keer styler is as dié van ’n handelsvliegtuig en met ’n dubbele klankgrensknal kondig Atlantis sy laaste aankoms op Aarde aan almal langs die landingsstrook aan. Met behulp van ’n groot rem-valskerm kom die 135e en laaste pendeltuigvlug tot sy finale halt. Inligting oor die Internasionale Ruimtestasie , wanneer dit sigbaar is, in welke rigting en vir hoe lank dit oor die aandhemel beweeg, is verkrygbaar op die webwerf www.heavens-above.com Hou die sterre en (IRS) in u oë !
Augustus
2011
In Augustus lyk die sterrehemel effens anders as gewoonlik, miskien ook omdat niemand in die koue maande snags buite lank genoeg vertoef om die geleidelike verandering dop te hou nie. Dit is nou die tyd vir die wintersterrebeelde Aquila (die Arend), Lyra (die Lier) en Cygnus (die Swaan) wat almal in ’n noordelike rigting sigbaar is effens bo die horison. Die helder hoofsterre van hierdie konstellasies, naamlik Altair, Vega en Deneb respektiewelik, vorm dan ook die Winterdriehoek. Die sterrebeeld Swaan word uitgebeeld met uitgestrekte vlerke wat deur ’n groot sterrekruis aangedui word . Daarom word na die Swaan ook as die Noorderkruis verwys. Teenoor die helder Deneb aan die ander einde van die lang as van die Noorderkruis is Albireo (β Cyg) te sien, wat deur ’n teleskoop ’n mooi gekleurde dubbelster blyk te wees. Effens oos van die Arend kan ’n mens die klein maar maklik herkenbare beeld van die Dolfyn uitmaak met kop onder en stertjie bo. In die Noordweste is die sterrebeeld Skerpioen besig om van die toneel te verdwyn, maar daarvoor kom die mooi Pegasus in die Noordooste al weer op. Dit is een van die indrukwekkendste sterrebeelde vir die suidelike halfrond weens sy yslike grootte en ooreenkoms met ’n perdefiguur. Kyk uit vir die groot vierkant van helder sterre wat die romp van die perdefiguur uitmaak. Sagittarius, makliker herkenbaar as ’n teepot, is nou hoog oor ons koppe en huisves ’n hele aantal uitsonderlike hemelvoorwerpe soos oop en bolvormige sterrehopies, gasnewels en galaksies wat al met ’n verkyker opgespoor kan word, verkieslik vanuit ’n liggende posisie. Volmaan is in die nag van 11 Augustus Nuwemaan is op 29 Augustus, met die Maan naby die Aarde (perigeum) op ’n afstand van 360 858 km die volgende dag. Merkurius is nog net tydens die eerste twee weke van Augustus in die aand sigbaar nadat dit die vorige maand die beste aandsigbaarheid vir die hele jaar gehad het. Venus bly onsigbaar in Augustus, maar word weer die helder Aandster in September tot aan die einde van die jaar. Jupiter met magnitude -2,4 kom nou al voor middernag op en sal vir die res van die jaar steeds helderder word en die hele nag as die helderste objek sigbaar wees. Saturnus is nog sigbaar vroegaand in Virgo, maar sak al vroeër om dan einde Oktober weer vroeg soggens te verskyn. In die Suide kan ’n mens aan die verskuiwing van die Suiderkruis na wes waarneem hoe die sterrebeelde van oos na wes óm die Hemelsuidpool draai. Hierdie rotasie is relatief en die gevolg van die aarde se rotasie van wes na oos. Sterre en sterrebeelde wat naby die Hemelsuidpool lê en die hele jaar bokant die horison sigbaar is, word sirkumpolêre sterre/-beelde genoem. NASA-nuus Na 21 jaar van ruimtefotografie het NASA se Hubble Ruimteteleskoop (HRT) op Maandag 4 Julie die miljoenste wetenskaplike waarneming gemaak. Alhoewel die HRT veral bekend is vir verbluffende foto’s uit die ruimte is die miljoenste waarneming ’n spektroskopiese meting van die atmosfeer van ’n reuse gasplaneet groter as Jupiter en dit wentel om ’n ster wat warmer as ons Son is. Daar word op dié manier na tekens van water gesoek op nabygeleë eksoplanete. Die nuwe James Webb-ruimteteleskoop wat in 2013 gelanseer moet word, sal met sy sterker visie nog beter vir dié doel toegerus wees. Hou die sterre in u oë !
Julie
2011
In die yskoue greep van die winter is die sterre op hul mooiste, want ons kyk nou in die sterrykste gebied van ons Melkweg, naamlik na die middelpunt van ons galaksie. Dit is in die omgewing van die Skerpioen en die Boogskutter waar dit wemel van ander hemelsvoorwerpe as net sterre, soos oop sterrehopies, bolvormige sterrehopies, nebulae (gaswolke), dubbelsterre en selfs hele galaksies. Kyk gerus met ’n verkyker in hierdie omgewing rond om ’n paar aaah-oomblikke te belewe. Op die 21e Junie het ons al die Wintersonstilstandpunt passeer, maar die dae word eers op die 7e Julie in die oggende langer (met een minuut per dag ) nadat ons verby die verste punt van die Son (152 miljoen km ) op die aardwentelbaan gespoed het teen 107 000 km/uur. (Teen hierdie spoed is daar hoop dat die winter ook gou verby sal gaan.) Vanaf die 16e Junie geskied die sonsondergange reeds later met ’n minuut elke dag; dus word die dagtye met twee minute per dag ofte wel een uur per maand langer vanaf Julie. Die somer kom definitief! Twee Nuwemane in Julie is op die 1e en 30e Julie en Volmaan op die 15de Julie net soos in die vorige maand. Merkurius bereik sy beste aandsigbaarheid vir die jaar in Julie. Venus is nog steeds helder (mag.-3.8) as die “Oggendster” vir die res van die maand en sal eers in September weer die “Aandster” word. Jupiter in die sterrebeeld Aries, die ram, kom eers na middernag op, maar vanaf Augustus weer in die voornag en sal dan op die 29e Oktober in opposisie tot die Son (“VolJupiter”) kom, dit beteken hy kom op met sonsondergang. Saturnus is sigbaar in die aand en beweeg eers stadig, maar dan al vinniger deur die sterrebeeld Virgo vanaf die klein gamma Virginis (Porrima, ’n mooi dubbelster) in die rigting van die helder Spica wat naby die Ekliptika geleë is. Voor die sterrebeeld Scorpius is daar twee helder sterre wat die sterrebeeld Libra, die Weegskaal voorstel. In die antieke tyd was dié twee sterre, α en β Librae deel van ’n groter Skerpioen en hulle Arabiese name Zuben el Chamali en Zuben el Genubi beteken vandag nog die Noordelike en Suidelike Knypers van die Skerpioen respektiewelik, maar in Julius Ceasar se tyd is hulle van die Skerpioen afgesny en tot die twaalfde diereriemteken verander. Dit is die enigste nie-lewende diereriemteken en is ingestel ter ere van Julius Ceasar nadat hy die Romeinse Kalender hervorm het. Dit word as die weegskaal van geregtigheid voorgestel om Julius Ceasar se gebalanseerde sin vir geregtigheid te simboliseer. Terloops, ons hedendaagse kalender wat op die Romeinse een gebaseer is, is nog net ’n kwart dag uit per jaar sodat ons net elke vier jaar ’n enkele skrikkeldag nodig het om die kalender met die sterre te sinkroniseer en nie meer 14 dae elke jaar soos lank gelede nie. Hoog in die suide is die drie kruise nou baie mooi sigbaar. Wanneer die Suiderkruis vertikaal staan, wys sy lang as direk Suid. Dit is nou veral opvallend hoe naby die Skerpioen aan die Suiderkruis is. In die suidelike rigting huisves ons sterrehemel ware pêrels wat reeds met `n verkyker opgespoor kan word, soos die dubbelster Acrux, helderste ster in die Suiderkruis, Omega Centauri, die mooiste bolvormige sterrehopie in Centaurus, die Eta Carina-newel tussen die Suiderkruis en die Valskruis, en natuurlik die mooi galaksie, die Groot Magellaanse Wolk. Hou die sterre in u oë ! Junie
2011
Nou in Junie is dit weer tyd vir die pragtige Winterkonstellasies, soos die reusagtige Skerpioen, die ingewikkelde Boogskutter en Boötes met sy helderrooi reus bokant ons koppe. Dit is deur en deur die moeite werd om in die koudste tyd van die jaar ’n blik in die rigting van die middelpunt van ons galaksie te werp waar die Melkweg op sy dikste is en elke dowwe kol deur die lens van ’n teleskoop in die mooiste sterrehopie of -newel ontpop. Junie het vir my, soos seker vir baie sonskynliewende persone in die suidelike halfrond, nog ’n spesiale bekoring en dit is omdat die sonstilstand op die 21e gebeur, waarna die dae weer begin langer word. Die eerste helfte van Junie bied ’n geleentheid om die relatiewe beweging van vier helder planete tot mekaar, naamlik Jupiter, Mars, Venus en Merkurius in die oggendhemel voor sonsopkoms dop te hou. Venus bly nog die oggenster vir Junie, maar beweeg al nader aan die Son en word dan vir ons onsigbaar tot September waarna sy na die oostekant van die Son beweeg sodat sy weer ’n aandverskyning as aandster sal begin maak vir die res van die jaar. Die Maan is in sy Nuwemaan-posisie op die 1e Junie en Volmaan gebeur dan op die 15e Junie wat hierdie keer van besondere belang is omdat daar ’n totale maansverduistering sal plaasvind wat vanaf 20h00 tot 24h00 waargeneem kan word.
Totale maansverduistering (Foto deur Schalk Willem Liebenberg, Bellville, Wes-Kaap) Die helder Jupiter is sigbaar in die oggendhemel in die sterrebeeld van die Visse en wissel op die 7e na Aries. Teen die einde van Junie sal Jupiter net ná middernag opkom. Saturn kom in Junie tot stilstand naby Porrima in Virgo en beweeg dan weer na die hoofster van die Maagd, Spica en word in die proses al hoe dowwer. Junie en Julie is gunstige maande om meteoorreëns waar te neem en ’n mens kan op die 5e Junie vanaf 20h00 begin kyk in die rigting van die Skerpioen wanneer relatief min maanskyn die waarneming van “verskietende sterre” sal belemmer. Die gereëlde kyk met ’n verkyker na die Suide in die omgewing van die Suiderkruis en ander kruise waarborg ’n ryk beloning omdat die kruise nou hoog staan en baie mooi voorwerpe huisves. NASA-nuus Die 25e en laaste ruimtevlug van die pendeltuig Endeavour na die Internasionale Ruimtestasie (ISS) moes weens ’n foutiewe verwarmer van brandstofpype met twee weke vertraag word en die tweede lanseerpoging was op die 16e Mei. Die bemanning bestaan uit ses ruimtevaarders en die vlug na die ISS het twee dae geduur. Na vier ruimtewandelinge sal die ruimtevaarders op 1 Julie weer op die landingstrook by die Kennedy Ruimtesentrum neerstryk. Die laaste vlug van die pendeltuig Atlantis word om voorgenoemde rede nou ook uitgestel tot die 15e Julie. Ruimtetuie word net voor lansering gelaai met yskoue brandstof, wat die temperatuur in die enjin-kompartemente só laat daal dat die brandstoftoevoorpype tydens lansering weer verhit moet word. Die fout in hierdie stelsel is net betyds vasgestel, waarna alles herbedraad en getoets is tot tevredenheid van die ingenieurs. Dit dui daarop hoe noukeurig die pendeltuie voor elke lansering ondersoek moet word om hulle veiligheid te verseker en dat die duur instandhouding van die verouderde tuie nou tot hulle skrapping aanleiding gegee het. Hou die sterre in u oë ! Mei
2011
Met die Herfs se dag-en-nag-ewening reeds lank agter ons word die nagte nou vinnig langer as die dae, wat die voordeel van meer donkertyd vir sterrekyk inhou tot ons die Wintersonstilstand bereik met die langste nag op die 21e Junie, waarna die dae weer langer sal word. In Mei, na die vertrek van die Somerkonstellasies, sal ons nou die herfskonstellasies soos Leo, die Leeu, Boötes, die Veewagter, Corvus, die Kraai en Virgo, die Maagd werklik bokant ons kan geniet. Dit is juis in Virgo waar ons die interessante planeet Saturnus kan opspoor. Vir naguile kom die mooi Winterkonstellasies van die Skerpioen en die Boogskutter later in die aande reeds op. Saturnus is vir tyd en wyl die enigste planeet wat in die aand sigbaar is en wel in die sterrebeeld van die Maagd op pad na die helder ster Spica. Die Ringplaneet se helderheid neem nou weer toe omdat die ringvlak meer en meer oopdraai en dus meer sonlig weerkaats. Eers oor sewe jaar sal die ringvlak ten volle oopgedraai na ons toe wys. Nuwemaan is op die 3e en Volmaan is op die 17e Mei, maar op die 15e Mei is die amper vol Maan die naaste aan die Aarde en verskyn dit ook naby Spica en Saturnus. Die ware sterreprag is egter in die suidelike hemelruim sigbaar in die vorm van die drie kruise wat nou hoog bokant die horison uitgeken kan word. Beskou van Oos na Wes, staan eers die twee helder wysersterre Alpha en Beta Centauri uit en hulle wys na die Suiderkruis wat die helderste van die 88 sterrebeelde is. Die donker Kolesak voor die Suiderkruis is net vanaf donker plekke waarneembaar. Dan volg die langgestrekte Diamantkruis waarvan die lang as verleng moet word om die Groot Magellanse Wolk uit te wys wat ons naaste buurgalaksie op ’n afstand van 160 000 ligjaar is. Volgende op die uitkyk na Wes moet met effens verbeelding die skewe Valskruis uitgeken word. Dit word saamgestel uit sterre van die aangrensende sterrebeelde Carina, die Kiel en Vela, die Seil. Die Valskruis het ook vals wysersterre en wel aan die vals kant, naamlik regs van die Valskruis. Dié hele area in die hemelruim vorm deel van die Melkweg en huisves baie verrassings wat deur `n verkyker of teleskoop opgespoor kan word. NASA-nuus Die opwindendste nuus uit ons sonnestelsel is die suksesvolle aankoms en intrede van die ruimtetuig MESSENGERin ’n wentelbaan . MESSENGER is ’n akroniem vir MErcury Surface, Space ENviroment, GEochemistry and Ranging, by die naaste planeet aan die Son, naamlik Merkurius. Na –n reistog van ses jaar van die Aarde tot by Merkurius wentel MESSENGER nou in ’n uiters elliptiese baan waarvan die afstande wissel van 200 km tot 15 200 km óm Merkurius en saam met die planeet in 88 dae om die Son. Een omwenteling duur 12 uur (lank vergeleke met die 91 minute vir een omwenteling van die ISS om die Aarde) en die ruimtetuig sal 12 maande om Merkurius werksaam wees met sy veelvuldige take soos sy naam aandui. Vir dié doel is daar agt verskillende meetinstrumente aan boord die ruimtetuig wat, behalwe fotografiese opnames van sy hele oppervlakte, vrae sal beantwoord oor Merkurius se geologiese geskiedenis, die rede vir sy hoë digtheid, sy magneetveld, die struktuur van sy kern en die samestelling van sy dun atmosfeer. Omdat MESSENGER aan dieselfde uiterste temperatuursomstandighede as Merkurius blootgestel is, moet sy instrumente deur ’n sonskild beskerm word en waarnemings altyd gemaak word weg van die Son af. Ook oefen die Son net soos op Merkurius, ’n klein aantrekkingskrag uit op die 50 kg ligte ruimtetuig wat sy baan kan verander; om dié rede moet die wentelbaan van MESSENGER dikwels aangepas word om dit by tye op die gewenste hoogte van 200 km bo Merkurius te hou. Hou die sterre in u oë ! April
2011
Herfs is nou al met duidelike tekens waarneembaar: die langer nagte, die geel blare en die koeler aande. Herfs word ook in die hemel aangedui, want dit is die tyd wanneer ons vir Orion en die Skerpioen tydens dieselfde nag kan waarneem met laasgenoemde wat deur middel van sy giftige steek tot Orion se ondergang aanleiding gee. Die ware Herfssterrebeeld is egter Leo, die Leeu, die vyfde sterrebeeld van die diereriem en lê dus as sulks op die Ekliptika tesame met al die planete. Dit is eintlik die helder hoofster Regulus van Leo wat presies op die Ekliptika lê. Dié ster, wat as die ogie van ’n vishoek beskou kan word, lei jou na ’n boog van helder sterre en hulle dui die posisie van die maanhare van Leo aan. Die gelerige Saturnus is verder oos in die sterrebeeld Virgo, die Maagd, naby die helder ster Spica en sal vir die volgende jaar en ’n half nog in Virgo te vinde wees. Saturnus lyk nou weer effens helderder omdat sy ringvlak weer tot nege grade oopgedraai is. Op 4 April staan die Ringplaneet in opposisie tot die Son. Dit beteken Saturnus kom op met sonsondergang, soos ons dit van die Volmaan gewoond is. Met ’n magnitude van 0,4 is Saturnus een van die helderste objekte in die hemel vir die volgende paar maande en sal elke jaar nog in helderheid toeneem soos sy ringvlak weer ten volle oopdraai. In April kan mens Venus nog as helder Oggendster vir twee uur voor sonsopkoms waarneem. Jupiter is in konjunksie met die Son, dit beteken aan die anderkant van die Son soos van ons af gesien en dus onsigbaar vir ons in hierdie tyd. Nuwemaan is op die 3e April en Volmaan die 18e April. Op die oomblik is juis die omgewing van die drie kruise baie pragtig in die Suide relatief hoog bokant die horison en die Groot en Klein Magellanse Wolke kan nog baie duidelik gesien word. Ander voorwerpe soos die “Wishing Well”, die Juwelekissie en die pragtige bolvormige sterrehopie, Omega Centauri, kan ook tydens donker nagte bewonder word. NASA-nuus Die oudste pendeltuig Discovery het sy laaste vragaflewering na die Internasionale Ruimtestasie suksesvol afgehandel en weer op die Kennedy-ruimtesentrum geland. Behalwe groot bouelemente vir die ISS is ’n robot , die Robonaut, afgelewer wat uiteindelik na ’n proeftydperk algemene take vir die bemanning sal kan uitvoer en dalk buite die ruimtestasie met minder gevaar as vir die ruimtemanne take sal kan verrig. Om te dink: die klein ystermannetjie met ’n kamera in sy kop sal sonder ruimtepak, suurstof of lugdrukaanpassing en sonder kos die onvriendelike ruimte kan aandurf. Op die oomblik het hy nog nie bene vir voortbeweging nie, maar dit sal mettertyd aangebring word na gelang van hoe hy by gewigloosheid aangepas kan word. Nog net Endeavour moet ’n laaste pendelvlug onderneem, waarna die era van groot pendeltuie beëindig sal word en alle verbruikbare materiaal en voorrade per geoutomatiseerde ruimtetuie na die ISS vervoer sal word . Die ruimtereisigers sal vir tyd en wyl met die Russiese Sojoes-kapsules na en van die ISS reis. Hou die sterre in u oë ! Maart
2011
Op die 21e Maart is dit Herfsewening wanneer dag en nag ewe lank is; daarna word die nagte langer as die dae wat meer tyd vir sterrekyk sal meebring. Herfs is ’n lonende tyd om die konstellasies te bestudeer, want die somerkonstellasies Orion, (die jagter), Taurus, (die bul) en Canis major, (die groot hond) is almal nog in die vroeë aand in die Weste sigbaar, terwyl die herfskonstellasie Leo (die leeu) in die Noorde kulmineer (sy hoogste posisie bereik ) en later in die nag verskyn die vroeë winterkontellasies Libra (die weegskaal), Scorpius (die skerpioen) en Sagittarius (die boogskutter ) in die Ooste. Leo is ’n geweldige groot sterrebeeld met die helder hoofster Regulus (“klein koning”) wat op die Ekliptika lê. Die omgekeerde vraagteken of sekel dui die Leeu se maanhare aan en jy moet vir jouself ’n leeu wat op sy rug lê, voorstel. Venus is nog altyd die helder oggendster en Jupiter sak kort na sonsondergang; dit laat ons net met die helder Saturnus. Die mooi planeet Saturnus is in Virgo (die maagd ) die hele nag lank sigbaar en sal dié sterrebeeld vir die volgende twee jaar “deurwandel”. In die nag van die 3e tot die 4e Maart kom Saturnus in opposisie tot die Son wat hom ten volle verlig en wanneer hy op sy helderste vir hierdie jaar sal vertoon. Omdat die ringe weer oopdraai en ons meer op sy noordelike halfrond kyk, neem die helderheid van die planeet nou weer effens toe. Tydens opposisie is die afstand van Saturnus tot die Aarde agt en ’n half Astronomiese Eenhede en is die lig van Saturnus dus tot by ons een uur en elf minute onderweg. Nuwemaan is op die 4e Maart en Volmaan op die 19e. In die Suide sien ’n mens nou weer al drie kruise hoog bokant die horison en kan ook nog die groot en klein Magellaanse wolke waardeer. In hierdie rigting wemel dit van pragtige voorwerpe wat jy ook met ’n verkyker kan bestudeer. NASA-nuus Nadat die bekende astronoom Johannes Kepler 400 jaar gelede waargeneem het hoe die sonwind die sterte van komete altyd weg van die Son geblaas het, het hy voorgestel dat ’n mens dalk eendag met behulp van ’n seil deur die ruimte sou kon beweeg. Wat tot dusver as wetenskapfiksie beskou is, het einde Januarie ’n tree nader aan die werklikheid gekom toe NASA se NanoSail-D uiteindelik in die ruimte ontplooi is. Dit bestaan uit ’n baie dun 10 m2 weerkaatsende seil wat as die eerste Sonseilruimtetuig in ’n lae aardbaan geplaas is. ’n Sonseil maak gebruik van die klein maar bestendige druk van die sonwind as aandrywing. Omdat dit in die sonskyn blink en by geleentheid helder en maklik met die blote oog sigbaar sal wees, moedig NASA sterrekykers aan om opnames van die NanoSail-D te neem wat vir hulle van hulp sal wees om die satelliet te moniteer voordat dit in April of Mei weer die aardatmosfeer sal indring. ’n Webwerf wat voorspel wanneer die sonseilruimtetuig bokant jou posisie waargeneem kan word, is www.heavens-above.com Hou die sterre in u oë ! Februarie
2011
Vergeleke met die vorige maand, lyk die nagtelike sterrehemel in Februarie nog nie baie anders nie, die somerkonstellasies, Taurus, Orion en Canis Major, oorheers nog die hoofaansig, alhoewel hulle tydens die standaardwaarnemingstyd, 22:00, reeds effens na die Weste verskuif het. Die helderste ster, Sirius (magnitude – 1,5) in Canis Major vang die oog en die twee rooi reuse, Aldebaran in Taurus en Betelgeuse in Orion, staan ook duidelik uit. Dié twee rooierige sterre is ou sterre, baie ouer as ons Son en het al hulle primêre brandstofvoorraad, naamlik waterstof, opgebruik. Met net nege ligjaarafstand van ons tel Sirius as ’n buurster van ons Son en sy blouerige lig dui net soos by Rigel in Orion op sy jeugdige ouderdom en hoë temperatuur op sy oppervlakte. Die helder tweelingspaar, Polux en Castor, kulmineer (bereik die hoogste posisie) in die Noorde en kan maklik uitgeken word omdat hulle naby aan mekaar lê. In die Ooste styg die sterrebeeld van die Leeu effens later in die aand al op, wat die koms van die Herfs aankondig. Leo is ’n geweldige groot sterrebeeld met die helder hoofster Regulus (“klein koning”) wat op die Ekliptika lê. Die omgekeerde vraagteken of sekel (of vishoek soos ’n seuntjie vir my gesê het) dui die Leeu se maanhare aan en jy moet vir jou ’n leeu wat op sy rug lê, voorstel. Saturnus (mag. 0,6) bevind hom vir die volgende twee jaar in die sterrebeeld van die maagd wat die konstellasie ná Leo is. ’n Mens moet dus vir Leo kan vind voor jy met sekerheid Saturnus sal vind, omdat hy nie helderder as die sterre in sy omgewing is nie. Saturnus se ringe draai nou weer oop, wat hom ’n pragtige objek maak om na te kyk deur ’n teleskoop. Jupiter met magnitude – 2,2 is nog net vir ’n paar uur na sonsonder te sien in die sterrebeeld van die Visse in ’n noordwestelike rigting, maar is nog steeds die helderste objek in die aand wat hom baie opsigtelik maak. Nuwemaan is op die 3e Februarie en volmaan op die 18e Februarie. In die Suide sien ’n mens nou weer al drie kruise taamlik hoog in die hemel en kan hulle saam met die groot en klein Magellaanse wolke waardeer. In hierdie rigting wemel dit van pragtige voorwerpe wat ’n mens met ’n verkyker kan bestudeer. Elke melkerige kol is die moeite werd om nader ondersoek te word met ’n verkyker of teleskoop, want dit ontpop gewoonlik in die pragtigste oop sterrehopie of bolvormige sterrehoop. Hou die sterre in u oë ! Januarie
2011
Somernagte is die mees ideale tyd om sterre te bewonder omdat dit nie so koud is nie, dit vakansie is en ’n mens laat kan slaap die volgende oggend – en natuurlik omdat van ons mooiste hemelsobjekte in die somer te sien is. ’n Paar hiervan is die groot Orionnewel, (die geboorteplek van sterre), die rooi reuse Betelgeuse en Aldebaran, die oop sterrehopies Sewe Susters en M41 (in die “maag” van die Groot Hond ) en veral die Groot en Klein Magellaanse Wolke met hulle verrassings. ’n Mens kan dus in die Somerkonstellasies voorbeelde van die hele lewensiklus van ’n ster vind: Geboorteplek: Orionnewel; jong ster: Sirius, Rigel; middeljarige ster: ons Son; ou ster: Betelgeuse; sterontploffing (reste): M1 en om eta Carina; oop sterrhopies (los sterreversameling): Sewe Susters (M45), M41 en NGC 2615 (verlenging van lang as van die Valskruis); bolvormige sterrehoop (digte sterreversameling): 47 Tuc (NGC 104) naby Klein Magellaanse Wolk; dubbelsterre: Acamar in Eridanus en Acrux in die Suiderkruis, en laaste maar nie die minste nie ons naaste hele galaksie in die Groot Magellaanse Wolk. In Januarie is Venus nog die helder oggendster met ’n magnitude van – 4,5. Dit is baie helder as in ag geneem word dat die helderste ster Sirius maar met ’n magnitude van – 1,5 skyn. Jupiter met magnitude van – 2,3 is nog net vir ’n paar uur na sonsondergang in die vroeë aand te sien in die sterrebeeld van die Visse en is vir daardie tyd die helderste voorwerp in die hemel behalwe vir die Maan natuurlik. Saturnus met ’n helderheid van 0,8 kom net voor middernag op en sal in April van 2011 weer helderder word (tot magnitude 0,4), omdat hy dan in opposisie tot die Son sal wees (“VolSaturnus”) en omdat sy ringe weer oopdraai en dus meer sonlig sal reflekteer. Saturnus sal vir die volgende twee jaar nog in die sterrebeeld Virgo, die Maagd, te vinde wees. Nuwemaan is op die 4e Januarie en volmaan op die 19e Januarie. Alle sterre-entoesiaste moet dalk nou aan die begin van die jaar al ’n aantekening in hulle dagboek maak om nie die enigste volle maansverduistering van 2011 wat vanaf Suid-Afrika sigbaar sal wees, tydens volmaan op die 15e Junie 2011 te mis nie. Hou die sterre in u oë !
Afrika
– nagliggies
Sterre
Sterrebeelde
In
die onderstaande tabel word die wetenskaplike name (dit wil
sê die Latynse name) gegee, van alle sterrebeelde wat tans in
gebruik is, tesame met die genitief van die naam. Dit word gevolg deur
die standaarddrieletter-afkorting van die naam en die Engelse en
Afrikaanse name.
Bronne
Bylaag:
Sterrebeelde
De
Klerk, J.H. (red.). 1990. Sterrekundewoordeboek
/ Dictionary of Astronomy – English-Afrikaans /
Afrikaans-English. Nasionale
Vakterminologiediens, Dept. van Nasionale Opvoeding, Pretoria. Woordbetekenisse
Odendal,
F.F. en R.H. Gouws. 2000. HAT
– Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse Taal.
Perskor, Midrand.
Sterrebeelde
van die Noordelike Halfrond
Sterrebeelde
van die Suidelike Halfrond
Bron:
Encyclopedia Britannica 2005
|