Sterreprag oor die Suide Rubriek
deur Hans Daehne Februarie
2013
In Februarie, vergeleke met die vorige maand, lyk die nagtelike sterrehemel nog nie baie anders nie: die somerkonstellasies, Taurus, Orion en Canis major, oorheers nog die hoofaansig, hoewel hulle tydens die standaardwaarnemingstyd, 22:00, reeds effens na die Weste verskuif het. Die helderste ster, Sirius (magnitude –1,5 ) in Canis major vang die oog en die twee rooi reuse Aldebaran in Taurus en Betelgeuse in Orion staan ook duidelik uit. Dié twee rooierige sterre is ou sterre, baie ouer as ons Son en het al hul primêre brandstofvoorraad, naamlik waterstof, opgebruik. Met ’n afstand van net nege ligjaar van ons tel Sirius as ’n buurster van ons Son en sy blouerige lig dui net soos by Rigel in Orion op sy jeugdige ouderdom en hoë temperatuur op sy oppervlak. Die helder tweelingpaar Polux en Castor kulmineer (bereik hulle hoogste posisie) in die Noorde en kan maklik uitgeken word omdat hulle naby aan mekaar lê. In die Ooste styg die sterrebeeld van die Leeu effens later in die aand al op – dit kondig die koms van die Herfs aan. Leo is ’n geweldige groot sterrebeeld met die helder hoofster Regulus (“klein koning”) wat op die Ekliptika lê. Die omgekeerde vraagteken of sekel (of vishoek soos ’n seuntjie vir my gesê het ) dui die Leeu se maanhare aan en jy moet jouself voorstel dat dit ’n leeu is wat op sy rug lê. Saturnus (magnitude 0,4 ) bevind hom hierdie jaar in die sterrebeeld van die weegskaal wat voor die Skerpioen is en kom dus teen die einde van die maand reeds voor middernag op. ’n Mens moet dus die maklik herkenbare Skerpioen kan vind voor jy met sekerheid Saturnus sal vind, omdat hy nie helderder as die sterre in sy omgewing is nie. Saturnus se ringe is nou weer mooi oopgedraai sodat die planeet ’n pragtige objek is om deur ’n teleskoop te bekyk. Jupiter met magnitude –2,2 is nog net vir ’n paar uur na sonsonder te sien in die sterrebeeld van die Bul in ’n noordwestelike rigting, maar is nog steeds die helderste objek in die aand, wat dit baie opsigtelik maak. Nuwemaan is op 10 Februarie en volmaan op 25 Februarie. In die Suide sien ’n mens nou weer al drie kruise bokant die horison en kan ons ook nog die groot en klein Magellaanse wolke waardeer. In hierdie rigting wemel dit van pragtige voorwerpe wat mens met ’n verkyker kan bestudeer. Hou die sterre in u oë ! Desember
2012
Somernagte is die ideaalste tyd om sterre te bewonder omdat dit nie so koud is nie, dit vakansie is en ’n mens kan natuurlik die volgende oggend laat slaap, én omdat van ons mooiste hemelsobjekte in die somer te sien is. Hier volg ’n paar wat in die noorde van die land sigbaar is: Taurus, die bul wat deur die Pleiades (Sewe Susters) wat indrukwekkende verkykeritems is en die rooi Aldebaran in die Hiades (Reëngesternte) aangedui word, en Orion, die hemeljagter, wat onmiskenbaar is met die drie helder sterre van die Gordel van Orion (Drie Konings) in ’n reguit lyn, en naby daaraan die mooi en groot Orionnewel (ook die “sterrekraamsaal” genoem omdat sterre hier gebore word) wat reeds deur ’n verkyker bewonder kan word en die rooi reusesterre Betelgeuse en Aldebaran. In die Suide kan die volgende bewonder word: Die oop sterrehopie M41 (in die “maag” van die Groot Hond) en veral die Groot en Klein Magellaanse Wolke met hulle verrassings – dit vergoed vir die Suiderkruis wat op die oomblik laag bokant die horison en vir sommige sterrekykers onsigbaar is. As daar ’n jagter is, moet daar ook jaghonde wees en hulle word wel deur Canis Major, die groot hond met die helderste ster Sirius en Canis Minor, die klein hond met die helder Procyon aangedui. Kyk of u ook ons gelyksydige Somerdriehoek kan konstrueer uit Betelgeuse, Sirius en Procyon. In Desember het ons in die suidelike halfrond natuurlik ook ons Somersonstilstand wat hierdie jaar op die 21ste plaasvind en die begin van ons somer aandui, maar die aarde is eers op die 2de Januarie 2013 naaste aan die son. Venus is die helder “oggendster” en laat die “aandster”-posisie aan Jupiter oor. Jupiter is baie helder omdat dit soos die volmaan nou in ’n “volle Jupiter”-posisie verkeer in die nag van 2 Desember. Dit is hele nag sigbaar, naaste afstand tot die Aarde en helderste verskyning vir die hele jaar, met ander woorde die gunstigste observasietydperk vir die jaar. Selfs sy vier Galileïaanse mane Io, Europa, Ganimedes en Kallisto is reeds deur ’n verkyker sigbaar. Jupiter hou nog ’n verdere interessante gebeurtenis vir die vroeë oggendure van 26 Desember in voorraad. Dan word Jupiter saam met sy vier groot mane vanaf 03:00 in die oggend deur die Maan verdek – ’n proses wat ’n mens goed met behulp van ’n verkyker kan volg. Saturnus, Merkurius en Mars is op die oomblik só dof dat hulle nie baie aantreklik is nie. Nuwemaan is op op 13 Desember en volmaan op 28 Desember wat alles sal bydra tot baie donkertyd in middel van hierdie maand om ons sterreprag oor die vakansiedae te kan geniet. Hou die sterre in u oë ! November
2012
In November is dit die laaste kans om vertroud te raak met die minder bekende lentekonstellasies, soos Pegasus, Andromeda, Aries, Perseus , Aquarius en Pisces – almal nou in die noordweste. Dit help om bekende sterreformasies as rigtingwysers te gebruik: so wys die diagonaal van onder links na bo regs in die vierkant van Pegasus na die “V” van die visse (Pisces) en die “agterbene” van die vlieënde perd dui reeds die sterrebeeld Andromeda aan waar ’n mens met die verkyker moet soek om die pragtige spiraalgalaksie M31, ons bure in die ruimte, op ’n afstand van twee en ’n half miljoen ligjaar te vind. Hoewel die Andromeda-newel reeds met die blote oog sigbaar is, sal ’n verkyker ’n mooier aansig gee en selfs in ’n teleskoop moet die vergroting nie te hoog wees nie sodat ’n mens die hele oorsig kry oor die galaksie van 150 duisend ligjaar wydte. Dit is dus ’n galaksie wat amper twee keer so groot is soos ons eie Melkweg-galaksie. Alle ander spiraalgalaksies, meestal nog groter, is baie verder weg van ons. Bokant die kop van Pegasus is die sterrebeeld Aquarius te vinde. Aquarius en Pisces is die 11e en 12e sterrebeeld van die diereriem onderskeidelik. Met Aries, die ram, begin die diereriem,die sterrebeelde wat op die ekliptika lê , maar dit bestaan uit net twee helder sterre en baie verbeelding. Die tweede sterrebeeld in die diereriem is Taurus, die bul en dit beteken dat die tyd naby is om weer die Sewe Susters (Pleiades) en die rooi oog van die bul (Aldebaran) bokant ons koppe in die nag te sien. Hierdie jaar word Taurus meer opsigtelik, want dit is waar die helder Jupiter te vinde is vir die hele jaar. Om die sterrebeelde te ken, help dus ook om die planete te vind. Maar twee keer in November sal die Maan Jupiter “uitwys” deur hom te verdek en wel in die vroë oggendure van die 2de (02:00-03:40) en weer op die 29ste vanaf 03:00. Maak seker dat u nie daardie tyd slaap nie! Perseus, alhoewel baie ryk aan mitologie, is net so moeilik om te vind. Al wat uiteindelik oorbly is om te soek na die goeie ou vertrouelinge soos die Suiderkruis – dié lê nou op sy sy en kom al laer oor die horison in die Suide op. Daarvoor klim die Magellanse wolke nou al hoër en op donker plekke is mens nog bevoorreg om dit met die blote oog te kan sien – iets wat vir die Kaapenaars en Gautengers lankal nie meer moontlik is nie. Die eerste week in November is Mercurius nog ’n helder aandverskynsel in die weste net na sonsonder. Teen die einde van die maand sal hy al weer in die oggend sigbaar wees. Venus met ’n helderheid van – 4,0 is die helderste oggendobjek net voor sonsopkoms. Op 14 November is dit nuwemaan en op die 28ste is dit volmaan. Saturnus is ter wille van vroegopstaaners te sien in die oggendhemel net voor sonsopkoms in die sterrebeeld Virgo na die middel van die maand en teen die einde van die maand passeer die helder Venus vir Saturnus met net ’n halwe graad afstand. Later in die nag kom die alombekende somersterrebeeld Orion weer op in die Ooste wanneer die Skerpioen besig is om onder te gaan . Dit is nadat die jagter Orion volgens die mitologie, deur die slangdraer, Ophiucus, weer genees is van die dodelike steek van die Skerpioen en nou gereed maak om die Skerpioen in die Weste weer in die aarde te vertrap. Dit is ’n skouspel wat net in die lente waargeneem kan word met die omgekeerde volgorde weer in die herfs van elke jaar. Dit gee ook ’n verklaring hoekom die medici vandag nog ’n slang wat óm ’n staaf kronkel, as hulle kenteken het. Hou die sterre in u oë ! Oktober
2012
In Oktober beweeg die winterkonstellasies naamlik die Skerpioen en die Boogskutter (teepot) nou vinnig weswaarts om van die hemelstoneel te verdwyn en plek te maak vir die lente- en somerkonstellasies. Die lentekonstellasie is die maklik herkenbare vierkant van Pegasus, die vlieënde perd uit die Griekse mitologie wat vir die digters die moontlikheid tot hulle gedagtevlugte verleen het. Dit is vir ons in die suidelike halfrond nie onderstebo soos die meeste ander sterrebeelde nie. Dit kan dus met relatief min verbeeldingskrag herken word as ’n mens noord kyk, veral omdat die meeste van sy sterre taamlik helder is. Aan die onderste regte hoek van die vierkant verloop ’n string van vier sterre wat lyk soos die agterbene van die perd, maar hulle behoort reeds aan die Sterrebeeld Andromeda. Dit is onder die middel van hierdie lyn waar ons die Andromeda-newel reeds met die blote oog taamlik laag bokant die horison kan waarneem, alhoewel ’n verkyker baie sal help. Ook bekend as M31 is dit eintlik die naaste spiraalgalaksie aan ons Melkweggalaksie, met ander woorde ons buurspiraalgalaksie op ’n afstand van twee en ’n half miljoen ligjaar en een en ’n half keer die grootte van ons tuisgalaksie. Dit is die verste hemelsobjek wat nog met die blote oog sigbaar is, omdat die lig van ’n hele galaksie na ons toe beweeg en daar is goeie nuus vir die kortsigtiges, want die Andomedagalaksie beweeg met ’n geweldige spoed na ons toe en sal na drie biljoen jaar met die Melkweggalaksie versmelt. Dit was die beroemde Amerikaanse sterrekundige Edwin Hubble wat in die vroeë 20e eeu vasgestel het dat die meeste ver galaksies al vinniger van ons af wegbeweeg verder die ruimte in, met ander woorde dat die ruimte besig is om uit te dy. Die naby galaksies egter, soos die Melkweg- en Andromedagalaksie wat tot die plaaslike galaksiegroep behoort, volg Newton se gravitasiewet wat bepaal dat twee liggame mekaar aantrek direk eweredig aan die produk van hulle massas en omgekeerd eweredig aan die kwadraat van die afstand tussen hulle. Omdat twee galaksies geweldige massas het en twee en ’n half miljoen ligjaar ’n kort afstand in astronomiese terme is, trek die Melkweg- en die Andromedagalaksie mekaar aan met ’n snelheid van 300 km/ sek. – 1/1000 die spoed van lig! Dit is nuwemaan op 15 Oktober en volmaan op 29 Oktober. As aandster is Merkurius tot aan die einde van die maand naby die Son sigbaar. Om die vinnige planeet waar te neem, is ’n oop westelike horison dus nodig. Venus ( mag. – 4,0) is nog altyd die helder oggendster wat kort voor sonsopkoms verskyn. Jupiter met ’n helderheid van – 2,7 (helderder as enige ster) kom al vroeër ná sonsak op en kan dan die hele nag gesien word. Die reuseplaneet is te vinde in die sterrebeeld van die bul Taurus wat deel uitmaak van ons somerkonstellasies en dui dus reeds op die koms van die somer. In die Suide kom nou die Klein en Groot Magellaanse Wolke weer hoog bokant die horison te voorskyn en hier sien ons nou ons werklike naby buurgalaksies waarvan Magellaan nie geweet het nie. Hulle is egter hom ter ere so genoem. Hulle is wel nie spiraalgalaksies nie en ook baie kleiner as ons Melkweggalaksie, maar in astronomiese terme baie naby aan ons, naamlik net 190 000 en 160 000 ligjaar onderskeidelik. Hou die sterre in u oë ! September
2012
In September kan ons volgens die kalender sien dat dit lente geword het en in die naghemel word dit bevestig deur die prominente verskyning van die sterrebeeld Pegasus bokant ons koppe in die Noord-ooste. Op die Aarde verklap die ryk blommeprag en al die bloeisels op ooghoogte dat die dae merkbaar langer geword het. Pegasus, die Vlieënde Perd, (herinner ons daaraan hoe vinnig die tyd vlieg ) is die dominante noordelike sterrebeeld in September en Oktober en met die Lente se dag-en-nag-ewening (’n dag vroeër weens ons skrikkeldag vanjaar) op 22 September word dit met reg die Lentesterre-beeld genoem wat ook aandui dat die dae nou langer word as die nagte in die Suidelike Halfrond. Van vlieënde tyd gepraat, dit is net vir ons aardlinge dat tyd so vinnig verbyvlieg. In die heelal speel tyd glad nie so ’n belangrike rol nie, want die univers het baie tyd en gebeurtenisse daar neem hulle tyd. Ons meting van tyd word deur die aarde se rotasie en die Son bepaal. Wanneer die Son presies bokant ons is, is dit 12:00 middag Sontyd, maar wanneer Orion byvoorbeeld bokant ons is, is dit 6:00 Sterretyd en met Pegasus bokant ons, is dit 24:00 sterretyd en begin ’n sterrejaar vir ons weer van vooraf. Die yslike Vierkant van Pegasus is maklik om uit te ken aan vier helder sterre wat die romp van die perd voorstel met sy nek uitgestrek na links, na wes. Dit is een van die min noordelike sterrebeelde wat vir ons hier in die suidelike halfrond in die regop posisie is. Venus ( mag. – 4,2 ) is nog die helder oggendster op pad deur die Kreef na Leo. Jupiter is op die oomblik die helderste objek (mag. – 2,5 ) in die tweede naghelfte, maar sal teen die einde van die maand reeds voor middernag opkom in die sterrebeeld van die Bul naby Aldebaran. Nuwemaan is op 16 September en volmaan op 30 September. Nuus van buite die Aarde Op Maandag 6 Augustus het die Mars-wetenskapslaboratorium-voertuig genaamd Curiosity na ’n agt maande lange reis veilig op die Marsoppervlak geland. Curiosity is die grootste voertuig wat nog op ’n planeet geland is, dit is so groot soos ’n Mini Cooper-motortjie op Aarde. Om dié rede moet ’n spesiale landingsprosedure gevolg word om die vaartuig van 21 000 km/u in sewe minute op die Marsoppervlak tot stilstand te bring. Met die indring in die Marsatmosfeer wat baie dunner as die Aarde s’n is, rem ’n hitteskild die vaart effens af. Dan ontplooi ’n groot valskerm om verdere remming te veroorsaak, maar omdat die Marsatmosfeer nie dig genoeg is nie, kan ’n valskerm nie ’n sagte landing teweeg bring nie en moet remvuurpyle na onder afgevuur word om van die landingstuig ’n soort skeertuig te maak wat dan vir Curiosity met kabels sagkens op die Marsoppervlak kan neersit. Curiosity word ontkoppel en die skeertuiggedeelte vlieg weg om nie bo op Curiosity te lande te kom nie. Dit word die “sky crane”-landingsprosedure genoem en alles verloop outomaties. Weens die grootte van Curiosity en die ondervinding dat die storms op Mars sonpanele mettertyd met ’n dik stoflaag bedek en onbruikbaar maak, word die nuuskeurige tuig nie met sonenergie nie maar met atoomkrag aangedryf. Nou wag ons in spanning om die resultate van die ondersoeke op en onder die Marsoppervlak te bekom. Water? Lewe? Hou die sterre in u oë ! Augustus
2012
In Augustus lyk die sterrehemel weer effens anders as gewoonlik, miskien ook omdat niemand snags in die koue maande lank genoeg buite vertoef om die gelydelike verandering dop te hou nie. Dit is nou die tyd vir die wintersterrebeelde Aquila (die Arend), Lyra (die Lier) en Cygnus (die Swaan) wat almal in ’n noordelike rigting effens bo die horison sigbaar is. Die helder hoofsterre van hierdie konstellasies, naamlik Altair, Vega en Deneb onderskeidelik, vorm dan ook die Winterdriehoek. Die sterrebeeld Swaan met uitgestrekte vlerke, word deur ’n groot sterrekruis aangedui. Om dié rede word na die Swaan ook as die Noorderkruis verwys. Teenoor die helder Deneb aan die ander einde van die lang as van die Noorderkruis sien ons ook Albireo (β Cyg) wat deur ’n teleskoop in ’n mooi gekleurde dubbelster ontpop. Effens oos van die Arend kan ’n mens die klein maar maklik herkenbare beeld van die Dolfyn uitmaak met kop onder en stertjie bo. In die Noordweste is die sterrebeeld Skerpioen besig om van die toneel te verdwyn, maar daarvoor kom die mooi Pegasus in die Noordooste al weer op. Dit is een van die indrukwekkendste sterrebeelde vir die suidelike halfrond weens sy yslike grootte en ooreenkoms met ’n perdefiguur. Kyk uit vir die groot vierkant van helder sterre wat die romp van die perdefiguur uitmaak. Sagittarius, makliker herkenbaar as ’n teepot, is nou hoog oor ons koppe en huisves ’n hele aantal uitstaande hemelvoorwerpe soos oop en bolvormige sterrehopies, gasnewels en galaksies wat al met ’n verkyker opgespoor kan word, verkieslik vanuit ’n liggende posisie. Volmaan kom hierdie maand twee maal voor, naamlik op 2 en 31 Augustus. Die tweede volmaan word ook “Bloumaan” genoem, hoewel dit glad nie so ’n kleur het nie. Venus bly nog die helder Oggendster en is hierdie maand tesame met Jupiter naby Aldebaran in Taurus sigbaar. Jupiter kom saam met die sterrebeeld van die Bul al vroeër op in die oggend, verskyf algaande nader na middernag totdat hy in Desember in die aand sigbaar sal wees tesame met die res van ons somerkonstellasies Orion en Canis Major. Dit is interessant om die “hemelbeweging” wat eintlik ons eie satelliet Aarde se relatiewe beweging om die Son aandui, dop te hou. Saturnus is nog vroegaand sigbaar in Virgo, maar sak al vroeër om in November weer vroeg soggens te verskyn. Vir die planete se sigbaarheid tydens die verloop van ’n jaar is dit dus belangrik om die posisies van die Diereriem-sterrebeelde te ken. In die Suide kan ’n mens aan die verskuiwing van die Suiderkruis na wes waarneem hoe die sterrebeelde van oos na wes om die Hemelsuidpool draai. Hierdie rotasie is relatief en die gevolg van die aarde se rotasie van wes na oos. Sterre en sterrebeelde wat naby die Hemelsuidpool lê en die hele jaar bokant die horison sigbaar is, word sirkumpolêre sterre/-beelde genoem. Die gedeeltelike toekenning van die SKA aan Suid-Afrika mag vir sommige mense met die eerste oogopslag as ’n nederlaag voorkom maar dit is nie, want in die belang van die wetenskap is die werkverrigting van die SKA in twee verdeel volgens die verskillende frekwensies van die radiogolwe wat versamel kan word. Die mid-frekwensie-radiogolwe word in die omgewing van Carnavon en Suider-Afrika opgevang, terwyl die laefrekwensie-radioteleskoop in Australië en Nieu-Seeland gehuisves sal word. In elk geval sal Suid-Afrika bo en behalwe die grootste optiese teleskoop in die Suidelike Halfrond, SALT, ook nog die grootste radioteleskoop ter wêreld huisves. Hou die sterre in u oë ! Junie
2012
Dit is nou al weer tyd vir die pragtige Winterkonstellasies, soos die reusagtige Skerpioen, die ingewikkelde Boogskutter en Boötes met sy helder, rooi reus Arkturus bokant ons koppe. Dit is deur en deur die moeite werd om in die koudste tyd van die jaar ’n blik te werp in die rigting van die middelpunt van ons galaksie waar die Melkweg op sy dikste is en elke dowwe kol in die mooiste sterrehopie of -newel deur die lens van ’n teleskoop ontpop. Die Skerpioen huisves die rooi superreus Antares wat met sy omtrek tot by die baan van Mars sou gereik het as dit in die Son se posisie geplaas sou word. Dié ster word ook Cor Scorpii, die hart van die Skerpioen genoem. Die Skerpioen kan net in ons winter gesien word, terwyl die Suiderkruis die hele jaar sigbaar is, en dit is verbasend hoe naby die twee konstellasies aan mekaar is as ’n mens altwee sterrebeelde gelyktydig betrag. Die rede hiervoor is dat die Suiderkruis sirkumpolêr is in ons breedtes, dit wil sê altyd bo die horison, terwyl die Skerpioen net buite hierdie gebied val. Die helder sterre van Sagittarius herinner ’n mens eerder aan ’n teepot as aan ’n boogskutter. Junie het vir talle sonskynliewende mense in die suidelike halfrond nog ’n spesiale bekoring en dit is omdat die sonstilstand gebeur op die 21ste, waarna die dae weer langer begin word. Venus is op 6 Junie 2012 in ’n transisie-posisie met die Son. Dit beteken dat ’n mens Venus se agterkant (Nuwe Venus) gedurende die dag as ’n swart, ronde kol (nie ’n sonvlek nie) voor die Son sien verbybeweeg – weliswaar met die nodige beskerming vir die oë. Dit gebeur net wanneer Venus presies op ’n lyn tussen die Son en die Aarde beweeg – ’n baie seldsame gebeurtenis. Die volgende oorgang van Venus vind eers weer in 2117 plaas. Ongelukkig sal die 2012-Venusoorgang nie van Suid-Afrika af sigbaar wees nie. Die Maan is op 4 Junie in die volmaanposisie en op 19 Junie in nuwemaanposisie. Merkurius kan in Junie vir twee uur na sonsonder weer in die aand naby die Son gesien word en sal aan die einde van die maand sy helderste aandverskyning vir die jaar maak. Die rooi Mars kan nog vir ’n paar uur in die aand in die sterrebeeld van die Leeu gesien word, maar beweeg weg van Regulus en wissel op 21 Junie in die sterrebeeld Virgo. Vandeesmaand is die helder Jupiter ( mag. –2,0) in die vroeë oggendure in die sterrebeeld van die Bul sigbaar. Dit is altyd lonend om die grootste planeet in ons sonnestelsel met sy vier helder Galileo-mane deur ’n teleskoop te betrag. Weens die vinnige rotasie van Jupiter in minder as 10 uur kan daar tydens een aand veranderinge in die posisie van sy mane waargeneem word. Saturnus met `n helderheid van 0,7 is steeds in die konstellasie van Virgo te vinde en word nou effens helderder omdat sy ringe weer 14o oopgedraai is en dus meer sonlig na ons toe weerkaats. In die Suide behoort die sterre bokant die Suiderkruis aan die konstellasie Centaurus, ’n halfmens-halfperd-figuur waarvan die sterre van die kruis in 1929 afgeskei is om Crux, die kleinste maar helderste van al 88 konstellasies te vorm. Beginnende by die twee helder wysersterre α en β Centauri, oor na die oop sterrehopie NGC 5617 en die galaksies NGC 4945 en NGC 5128 (die Hamburger) en eindigende by die helderste bolvormige sterrehopie Omega Centauri, sien ’n mens ongelooflike hemelversynsels wat hierdie konstellasie met reg die belangrikste en veelsydigste in die Suide maak. Hou die sterre in u oë ! Mei
2012
In Mei verlaat die welbekende somersterrebeelde, soos Taurus, Orion en Canis Major, die hoofposisie bokant ons koppe in ’n westelike rigting en maak nou plek vir die herfskonstellasies soos Leo, Virgo en Boötes. Leo en Virgo is hierdie jaar maklik herkenbaar, want hulle huisves die helder planete, Mars en Saturnus onderskeidelik. In Boötes staan die helder rooi reus Arturus duidelik uit, aangesien dit die derde helderste ster van almal is en die helderste van die noordelike halfrond. Wat 2012 betref, sal volmaan op 6 Mei die grootste oënskynlike deursnee vertoon, terwyl die kleinste volmaan op 28 Desember sal wees. Nuwemaan is op 21 Mei. Merkurius sal nog tot aan die einde van die maand as oggendobjek helder in die Ooste voor sonsopkoms sigbaar was. Venus in Taurus lewer haar afskeidsvertoning van die aandhemel wanneer sy op 4 Mei haar verste noordelike posisie sal bereik – ’n posisie wat sy eers weer op 4 Mei 2020 sal inneem. Sy skyn baie helder in die vroeë aand in die Noordweste en sal haar helderheid tot die middel van die maand verhoog tot magnitude – 4,7 hoewel dan net 13 % van haar oppervlakte verlig sal wees. Vir die blote oog is dit nie sigbaar nie, maar in ’n teleskoop vertoon Venus as ’n smal sekel – Sekelvenus, ’n verskynsel wat Galileo al in 1610 waargeneem het. Na die 15e daal haar helderheid drasties en beweeg sy vinng in die rigting van die Son om dan in Junie weer as oggendster voor sonsopkoms te verskyn. Hoewel Mars nog goed sigbaar en helderder as Regulus en Spica is, sal die planeet teen die einde van Mei 177 miljoen km van die Aarde af wees, wat die afname in sy helderheid verklaar. Hy beweeg nou weer vinng weg van Regulus. Jupiter in die sterrebeeld van die Ram is saam met die Son in die dag op en dus nie sigbaar in Mei nie. Saturnus in die sterrebeeld van die Maagd is in Mei nog amper die hele nag sigbaar in ’n helder vertoning, omdat sy ringe nou 14 grade oopgedraai is en dus meer sonlig weerkaats. Ons kyk nou op die noordpool van Saturnus en in ’n teleskoop van 8 dm by 10 dm met 200 keer vergroting kan baie besonderhede soos die gaping tussen die ringe en die skaduwee van Saturnus op die ringe waargeneem word. In die Suide bly die drie kruise altyd ’n pragtige sig en die Groot Magellaanse Wolk, ons naaste buurgalaksie, staan ook nog duidelik uit in `n donker nag. Dit is nou maklik om met behulp van die Suiderkruis en sy merkersterre, α en β Centauri, die sterresuidpool te bepaal en dan Suid op Aarde te vind. Die maklikste manier is egter om te wag tot wanneer die lang as van die Suiderkruis presies in ’n 12-6-uurposisie verkeer, dan hoef jy die lang as slegs tot op die horison te verleng om Suid op die Aarde te verkry. Let net by die volgende laataand kykie na Suid daarop hoe naby die Suiderkruis aan die groot sterrebeeld van die Skerpioen, ons winterkonstellasie, is! Hou die sterre in u oë ! April
2012
Herfs is nou al met duidelike tekens waarneembaar: die langer nagte, die geel blare en die koeler aande. Herfs word ook in die hemel aangedui, want dit is die tyd wanneer ons vir Orion en die Skerpioen tydens dieselfde nag kan waarneem met laasgenoemde wat deur middel van sy giftige steek tot Orion se ondergang aanleiding gee. Die ware Herfssterrebeeld is egter Leo, die Leeu, die vyfde sterrebeeld van die diereriem wat as sodanig dus op die Ekliptika saam met al die planete lê. Dit is eintlik die helder hoofster Regulus van Leo wat presies op die Ekliptika lê en van die planete sien ons die rooierige Mars regs van Regulus en verder oos is die gelerige Saturnus in die sterrebeeld Virgo, die maagd. Mars word nou algaande dowwer omdat hy reeds op 3 Maart deur sy opposisietydperk gegaan het terwyl Saturnus al helderder sal word tot sy opposisie tot die Son op 15 April. Dié twee planete skyn in retrograde beweging al hoe nader aan hulle onderskeidelike hoofsterre Regulus en Spica te beweeg, sodat ons teen die einde van die maand twee helder planeet-ster-pare sal kan waarneem. Saturnus se ringvlak wat weer tot 14 grade oopgedraai is, veroorsaak dat die Ringplaneet se helderheid styg tot magnitude 0,2 wat hom pragtig deur ’n groot teleskoop met tot 200 keer vergroting laat lyk. In April kan ’n mens Venus as Aandster op haar helderste vir die jaar in die sterrebeeld Taurus, die Bul, vir ’n hele ruk na sonsondergang waarneem . Met ’n helderheid van magnitude – 4,7 is sy die helderste voorwerp in die westelike hemel en beweeg aan die begin van die maand deur die “Goue Hek van die Ekliptika”, naamlik deur die oop sterrehopies van die Pleiades en die Hiades. Volmaan is op 6 April en Nuwemaan op 21 April. In die Suide is juis die omgewing van die drie kruise op die oomblik baie pragtig bokant die horison en die Groot Magellaanse Wolk kan nog baie duidelik gesien word. Soos enige Voortrekker vir jou sal kan vertel, wys die twee Wysersterre na die Suiderkruis, die kleinste maar helderste van die 88 konstellasies. Langs die Suiderkruis staan die langgestrekte Diamantkruis duidelik uit, maar dit het nie wysersterre nie. Verleng jy die lang as van die Diamantkruis na suid bring dit jou na die Groot Magellaanse Wolk. Langs die Diamantkruis kan die Valskruis uitgeken word en dit het wel ook “vals wysersterre” aan die vals kant. Gebruik jy die Valskruis vir oriëntasie in die nag, sal jy seer sekerlik in die vals rigting beweeg. Ander voorwerpe soos die “Wishing Well”, die Juwelekissie en die pragtige bolvormige sterrehopie, Omega Centauri, kan tydens donker nagte bewonder word. NASA se Kepler-ruimteteleskoop wat baie klein helderheidsveranderinge in sterre kan waarneem, het tydens sy 16 maande lange bestaan reeds meer as 240 aardagtige planete om ander sterre ontdek. Van dié 240 is 46 in die leefbare of “Goldilocks”-sone om hulle sterre, dit wil sê op ’n afstand waar water in vloeibare vorm kon voorkom. Net tien van hierdie 46 planete is naby Aardgrootte. Dit is makliker om die groter planete te vind en daarvan het Kepler al oor die 2 000 opgespoor. Die Kepler-ruimteteleskoop is vernoem na die sterrekundige Kepler wat die eerste wetenskaplike was wat wette oor die planeetbane in ons sonnestelsel opgestel het. Deur hierdie soort naamgewing word vroeë astronome deesdae steeds vereer. Hou die sterre in u oë ! Maart
2012
Op die 20ste reeds ons Herfs dag-en-nag-ewening, wat beteken dat die nagte van dan af langer word as die dae – ideaal dus vir sterrekyk. In die Herfs het ons ook nog die moontlikheid om die laaste van die mooi Somerkonstellasie in die vroeë aandure te besigtig in die Noordweste tesame met die vroeë Winterkonstellasies in die laatnag in die Noordooste. Dit beteken dat die jagter Orion met sy twee honde Canis major en Canis minor nog duidelik uitstaan, maar die gelyksydige Somerdriehoek bestaande uit Betelgeuse, Sirius en Procyon sink nou in die Weste want die Somer is verby. Daarvoor staan, eerder lê, die Leeu nou prominent hoog in die Noordooste. Vanjaar huisves dié sterrebeeld weer die helder, rooi Mars wat op die 3de Maart in opposisie tot die Son staan en dus op sy helderste (mag. –1,2) vir die volgende twee jaar sal wees. Na Leo volg Virgo en hierin is die helder Saturnus te vinde. Daarna is dit nie meer ver na die duidelikste en helderste Winterkonstellasie van die Skerpioen en na Glühwein-tyd nie. Van die begin tot aan die einde van Maart kan die relatief vinnige beweging van die planete soos gesien vanaf die vinnig bewegende Aarde dopgehou word – dit is nou as ’n mens elke aand let op die afstande tussen Venus en Jupiter. Hulle beweeg eers na mekaar toe en dan weer weg van mekaar af, waarby Venus altyd die helderste een is. Hulle verberg mekaar nie, omdat Venus 3 grade uit die Ekliptika geleë is weens ’n geweldige botsing met ’n asteroïd in die jeug van Venus. Hierdie gebeurtenis het ook aanleiding gegee tot Venus se ashelling van omtrent 180 grade. Teen die einde van Maart is daar twee opsigtelike planeet-ster-pare wat gevorm word deur Mars en Regulus, en Saturnus en Spica. Almal is blote oog-objekte, maar watter een is watter een? Saturnus neem ook toe in helderheid tot mag. 0,2 op pad na sy opposisie tot die Son wat hy op die 15de April sal bereik. Die verloop van die denkbeeldige lyn van die Ekliptika kan nou maklik gevolg word deur die volgende “punte” met mekaar te verbind: Son (wanneer die son sak) – Venus – Jupiter – Regulus – Mars – Spica – Saturnus. Volmaan is op die 8ste en Nuwemaan op die 22ste Maart. In die Suide is die drie kruise nou mooi hoog bokant die horison sigbaar en almal behoort hulle maklik te herken. – Beginnende van oos na wes het ons eers die Suiderkruis wat aangedui word deur die twee helder wysersterre α en β Centauri. Die Suiderkruis is die kleinste maar helderste van al 88 konstellasies. – Dan volg die langgestrekte Diamantkruis waarvan die na suid-wes verlengde lang as na die Groot Magellaanse Wolk lei. Laasgenoemde is ons naaste buurgalaksie op ’n afstand van 160 000 ligjaar. – Die daaropvolgende Valskruis word uit twee sterre van Carina en twee sterre van Vela saamgestel, met ander woorde die Kiel aan die Seil grens, het ons die Valskruis. Die Valskruis het ook twee “vals wysersterre” aan die westelike kant en die helderste een naaste aan die Valskruis is so helder omdat dit ’n veelvoudige sterrestelsel is. Die ster staan ook bekend as Gamma Velorum en sy eienaam is deesdae Regor, terwyl dit in die verlede Suheil was. Dié naamsverandering het ’n interessante geskiedenis, want dit is vernoem na ’n ruimtereisiger wat nooit die Aarde verlaat het nie. Die bemanning van Apollo 1 wou γ Velorum as navigasiester gebruik, maar omdat Lambda Velorum se naam ook Suhail is, het die leier van die sending Gus Grissom γ Velorum na sy spanmaat Roger Chaffee (Roger omgedraai = Regor) herdoop. Op 27 Januarie 1967 het al drie bemanningslede van Apollo 1 (Gus Grissom, Roger Chaffee en Edward White) egter omgekom tydens ’n brand in hulle vuurpyl. Die naam Regor het egter gebly. Hou die sterre in u oë ! Februarie
2012
Vergeleke met Januarie, lyk die nagtelike sterrehemel in Februarie nog nie veel anders nie: die somerkonstellasies, naamlik Taurus, Orion en Canis major, oorheers nog die hoofaansig, hoewel hulle tydens die standaardwaarnemingstyd, 22:00, reeds effens na die Weste verskuif het. Die helderste ster, Sirius (magnitude –1,5 ) in Canis major vang die oog en die twee rooi reuse Aldebaran in Taurus en Betelgeuse in Orion staan ook duidelik uit. Dié twee rooierige sterre is ou sterre, baie ouer as ons Son en het al hul primêre brandstofvoorraad, naamlik waterstof, opgebruik. Met net nege ligjaarafstand van ons tel Sirius as ’n buurster van ons Son en sy blouerige lig dui, net soos by Rigel in Orion, op sy jeugdige ouderdom en hoë temperatuur op sy oppervlakte. Die helder tweelingpaar Polux en Castor kulmineer (bereik die hoogste posisie) in die Noorde en kan maklik uitgeken word omdat hulle naby mekaar lê. Venus is nog die helder “aandster” met magnitude – 4,3 in die Weste. In die Ooste styg die sterrebeeld van die Leeu, wat die koms van die Herfs aankondig, al effens later in die aand op. Leo is ’n geweldige groot sterrebeeld met die helder hoofster Regulus (“klein koning”) wat op die Ekliptika lê. Die omgekeerde vraagteken of sekel dui die Leeu se maanhare aan en jy moet vir jouself ’n leeu wat op sy rug lê, voorstel. Mars word nou weer merkbaar helderder (magnitude – 1,2) in die Leeu. Jupiter met magnitude – 2,2 is nog net vir ’n paar uur na sonsonder te sien in die sterrebeeld van die Ram in ’n noordwestelike rigting, maar is steeds die helderste objek in die aand wat hom baie opsigtelik maak. Saturnus (magnitude 0,6 ) bevind hom vir die jaar nog in die sterrebeeld van die maagd. Saturnus se ringe draai nou weer oop wat hom ’n pragtige objek maak om deur ’n teleskoop te bekyk. Volmaan is op 7 Februarie en Nuwemaan op 21 Februarie. In die Suide sien ’n mens nou weer al drie kruise taamlik hoog in die hemel en jy kan hulle tesame met die groot en klein Magellaanse wolke waardeer. In hierdie rigting wemel dit van pragtige voorwerpe wat mens met ’n verkyker kan bestudeer. Elke melkerige kol is die moeite werd om nader ondersoek te word met ’n verkyker of teleskoop, want dit ontpop gewoonlik in die pragtigste oop sterrehopie of bolvormige sterrehoop. Hou die sterre in u oë ! Januarie 2012
Somernagte is die mees ideale tyd om sterre te bewonder omdat dit nie so koud is nie, dit vakansie is en ’n mens laat kan slaap die volgende oggend – en natuurlik omdat van ons mooiste hemelsobjekte in die somer te sien is. ’n Paar hiervan is die groot Orionnewel (die geboorteplek van sterre), die rooi reuse Betelgeuse en Aldebaran, die oop sterrehopies Sewe Susters en M41 (in die “maag” van die Groot Hond ) en veral die Groot en Klein Magellaanse Wolke met hulle verrassings. ’n Mens kan dus in die Somerkonstellasies voorbeelde van die hele lewensiklus van ’n ster vind: Geboorteplek: Orionnewel; jong ster: Sirius, Rigel; middeljarige ster: ons Son; ou ster: Betelgeuse; sterontploffing (reste): M1 en om eta Carina; oop sterrehopies (los sterreversameling): Sewe Susters (M45), M41 en NGC 2615 (verlenging van lang as van die Valskruis); bolvormige sterrehoop (digte sterreversameling): 47 Tuc (NGC 104) naby Klein Magellaanse Wolk; dubbelsterre: Acamar in Eridanus en Acrux in die Suiderkruis, en laaste maar nie die minste nie, ons naaste hele galaksie in die Groot Magellaanse Wolk. In Januarie is Venus nog die helder aandster met ’n magnitude van – 4,3. Dit is baie helder as in ag geneem word dat die helderste ster Sirius slegs met ’n magnitude van – 1,5 skyn. Jupiter met ’n magnitude van – 2,9 is nog net vir ’n paar uur na sonsondergang in die vroeë aand te sien in die sterrebeeld van die Ram en is vir daardie tyd die helderste voorwerp in die hemel, behalwe natuurlik die Maan. Saturnus met ’n magnitude van 0,6 kom na middernag op en sal teen middel April van 2012 weer helderder word (tot ’n magnitude van 0,2 ) omdat hy dan in opposisie tot die Son sal wees (“Volsaturnus”) en omdat sy ringe weer oopdraai en dus meer sonlig sal reflekteer. Saturnus sal vir hierdie jaar nog in die sterrebeeld Virgo, die Maagd, en volgende jaar in die Weegskaal te vinde wees. Volmaan is op 9 Januarie en Nuwemaan op 23 Januarie. Alle sterre-entoesiaste in die noordelike halfrond of dié wat beplan om daarheen te reis, moet dalk nou aan die begin van die jaar al ’n aantekening in hulle dagboek maak om nie die laaste Venustransit vir 120 jaar op 5/6 Junie 2012 te mis nie. Ongelukkig sal dit nie van Suid-Afrika af sigbaar wees nie, hoewel die vorige een in 2004 in Suid-Afrka daarvoor opgemaak het. Hou die sterre in u oë !
Afrika
– nagliggies Sterre
Sterrebeelde
In
die onderstaande tabel word die wetenskaplike name (dit wil
sê die Latynse name) gegee, van alle sterrebeelde wat tans in
gebruik is, tesame met die genitief van die naam. Dit word gevolg deur
die standaarddrieletter-afkorting van die naam en die Engelse en
Afrikaanse name.
Bronne
Bylaag:
Sterrebeelde
De
Klerk, J.H. (red.). 1990. Sterrekundewoordeboek
/ Dictionary of Astronomy – English-Afrikaans /
Afrikaans-English. Nasionale
Vakterminologiediens, Dept. van Nasionale Opvoeding, Pretoria. Woordbetekenisse
Odendal,
F.F. en R.H. Gouws. 2000. HAT
– Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse Taal.
Perskor, Midrand.
Sterrebeelde
van die Noordelike Halfrond
Sterrebeelde
van die Suidelike Halfrond
Bron:
Encyclopedia Britannica 2005
|